Die Smous

2 September, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Smous

Romeine 16:17-27

VIDEO | OUDIO

Jare gelede het allerhande soorte smouse van huis tot huis gegaan en hulle ware verkoop. Dikwels is die deur in hulle gesigte toegeklap, maar party van hierdie smouse het geleer uit hulle foute en al gesien wanneer iemand daardie neiging toon om ‘n deur toe te klap. Dan het hy sy voet blitsvinnig in die deur gesit en aangehou vertel van sy produk, wat hy natuurlik geglo het die héél beste in die wêreld is. Soms het dit gewerk en van daardie deur-tot-deur smouse het suksesvolle sakemanne geword!

Die kenmerke van hierdie smouse was dat hulle die items wat hulle verkoop het baie goed geken het en absoluut geglo het in hulle produk. Hulle het ook iets gehad wat hulle gedryf het om aan te gaan ten spyte van talle terugslae. Natuurlik is hulle dikwels weggejaag, maar baie van hulle het talle baie gelukkige kliënte agtergelaat. ’n Paar jaar gelede het ek ook een slag my lyf smous gehou - ek het gesmous met die evangelie!

Ek kry die dag ’n e-pos van iemand af met ‘n string adresse, 'n volle 120 van hulle aangeheg van almal aan wie die sender dit gestuur het. Eers wou ek my vervies vir die kêrel se onverantwoordelike gebruik van e-pos. Maar toe sê ‘n Stem hier binne in my: “Gebruik die adresse!” Ek protesteer: “Maar sê nou iemand dink ek stuur gemorspos?”

“Die evangelie is nie gemorspos nie! Dit is die Woord van God,” hoor ek die Stem. Net soos die smouse van ouds, glo ek met my hele hart en siel in die boodskap wat ek stuur. So glo ek ook dat dit die lewe kan aanraak van iemand wat dit ontvang. En toe stuur ek aan elkeen van daardie 120 adresse ‘n briefie. Die oorspronklike sender kry ook een en sommer dadelik is hy bitter ongelukkig! Vir hom was dit ‘n groot verleentheid, want sommige van sy kollegas wat dit ontvang het was nie Christene nie! Maar ek reken toe mos dat ek dan my doel bereik het, nie waar nie? Ek het hom maar om verskoning gevra, maar terselfdertyd het ek vir hom dankie gesê want etlike van die ontvangers van daardie brief het baie dankbaar teruggeantwoord en gevra dat ek asseblieftog nie moet ophou om dit vir hulle te stuur nie!

Twee lesse kan ons hieruit leer: moet nooit ‘n lys van adresse aan jou e-pos aanheg nie, want dit kan dalk in verkeerde hande beland! Maar baie belangriker nog: gryp elke moontlike geleentheid aan om die evangelie uit te dra, al beteken dit ook dat iemand jou dalk kan uitvloek daaroor.

Paulus het so onverskrokke die evangelie verkondig, selfs aan mense wat dit nie wou hoor nie. Daarvoor was hy dikwels gekasty, maar dit het hom nie in die minste afgeskrik nie. Die gevolg was ‘n veldbrand van die Woord soos die geskiedenis nog nooit geken het nie! Elkeen van ons kan leer van Paulus. Ek daag jou uit: wees onverskrokke en waag vir God!

Ons het aan die einde gekom van Paulus se brief aan die gemeente in Rome. Vir my was dit ‘n opwindende brief om deur te werk. Ek hoop dat dit vir jou nét soveel beteken het. Ek wil dan ook baie dankie sê vir elke briefie en woordjie van bemoediging wat ek ontvang het. Dit beteken vir my geweldig baie. Ek wil veral ook baie dankie sê vir elkeen wat die moeite doen om hierdie dagstukkies weer verder aan te stuur aan iemand anders. So kan elkeen van ons ‘n “evangelis” wees!

In sy slot wil Paulus enkele sake benadruk. Hy het dit reeds gesê, maar vir Paulus is dit só belangrik dat hy dit weereens wil beklemtoon: Daar mag nie verdeeldheid in die gemeente wees nie. Ons as gelowiges moet in alle opsigte één wees. Inderdaad is daar verskille, maar ons mag nie toelaat dat die verskille mense afvallig maak van die kerk nie. In die geloof moet dit om Jesus Christus alleen gaan. Paulus sê vir die gemeente dat almal praat oor hulle gehoorsaamheid aan die evangelie en dat dit sy hart verbly.

Dit is dan ook vanoggend my innige gebed dat ek en jy sal wegbly van die dinge wat verdeeldheid veroorsaak en dat ons gehoorsaam sal wees aan die Evangelie. Paulus se woorde in vers 25 moet vir ons elkeen as ‘n motivering en onderskraging dien: “God is magtig om julle te versterk volgens die Evangelie van Jesus Christus”. As jy dan dalk vanoggend voel dat jy wankel in jou geloof, moet jy weet dat ons ‘n magtige God aanbid en dat Hy jou staande sal hou teen die aanslae van die bose. Werp ál jou vertroue op Hom, die Ewige, Alwyse, Alomteenwoordige en Almagtige God. Hy sal jou nooit, óóit versaak of verlaat nie. “Die genade van ons Here Jesus bly met julle almal,” vertroos Paulus my en jou. Glo dit met jou hele hart en klou krampagtig daaraan vas.

Saam met Paulus wil ek dan ook vanoggend lof bring aan Hom wat my uit genade gered het: “Aan Hom, die enigste en alwyse God, kom toe die heerlikheid deur Jesus Christus, vir ewig! Amen!”

Gebed:

Here, ek loof en prys U vanoggend met my hele hart. Dankie vir U groot genade oor my en dankie vir die wete dat U my nooit sal versaak nie. Help my asseblief om getrou aan U te bly!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026