Die Slang

12 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Slang

Genesis 3:1-8

Elkeen van ons beleef daagliks die krisis van besluitneming en die gevolge van ons besluit kan positief of negatief wees. Besluitneming behels ook dikwels grense wat ons moet eerbiedig. Oorskry ons die grense, kan verhoudinge vertroebel en kan dit selfs katastrofiese gevolge hê. ‘n Goeie voorbeeld is die verhouding tussen Amerika en Noord Korea. Beide dreig om die grense oor te steek, en as een tot die daad oorgaan kan dit katastrofies vir die hele wêreld wees.

Die slang-verhaal in Genesis gaan oor die mens se eie verantwoordelikheid. Hy moet ‘n keuse maak tussen ‘n goeie verhouding met God en om die grense te oorskry en die verhouding te vertroebel.

Genesis 3 begin met die woorde: Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

Van kleintyd af was ek wysgemaak dat hierdie slang die duiwel homself was wat vermom was soos ‘n slang. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Wie en wat was hierdie slang? En waarom kon hy praat?

In die Bybel word die slang nie altyd gekoppel aan die bose nie. In Numeri 21:9 is dit die simbool van genesing. In Joh 3:14-15 word die slang ‘n analogie van verlossing en Jesus aan die kruis. Die slang word egter meermale gekoppel aan die bose en in Openbaring word terugverwys na die Paradys en dan word die slang met die duiwel verbind.

Dit is interessant dat die woord wat met “listiger” vertaal word, slegs enkele kere verder in die Bybel gebruik word. In Job is die betekenis “slinks” en in Spreuke “verstandig.” Daardie woord het dus ‘n negatiewe sowel as ‘n positiewe betekenis. Verder is daar ‘n klankooreenkoms tussen die woorde “listig” en “kaal.” Hiermee word daar ‘n baie subtiele verband getrek tussen die slang en die mens.

Maar kom ons kyk wat presies daar gebeur het. Die slang (ons neem maar aan dat dit die duiwel is) kom stel op baie slinkse wyse aan Eva ‘n alternatiewe keuse. Sy vraag: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” is een wat daarop gemik is om twyfel te saai in Eva se gemoed. Wanneer sy aanvanklik baie positief antwoord, is sy steeds van plan om haar verhouding met God te eerbiedig. Dan lieg die slang blatant wanneer hy haar verseker dat God slegs wil keer dat hulle nie soos Hy word nie, en dat hulle beslis nie sou sterf as hulle oortree nie.

Die slang se woorde het iets in haar geprikkel. Beteken dit dat sy baie mag sou kry as sy van daardie vrug eet? Beteken dit werklik dat sy soos God sou kon word? Dit het ‘n begeerte in haar laat kiemvat. Baie jare later, wanneer God vir Moses die Wet gee, is een van die gebooie pertinent dat jy nie slegte begeertes mag koester nie. God weet presies wat sulke slegte begeertes aan jou kan doen. Dit het Adam en Eva tot ‘n val gebring!

Ons moet weet dat hierdie daad van Eva nie maar ‘n impulsiewe pluk van die verbode vrug was nie. Dit was die gevolg van ‘n hele reeks dinge wat almal baie menslik was. Eers was daar die slang wat suggesties in haar gemoed geplant het. Hy het God probeer verdag maak met sy tergende vrae. “God wil net keer dat jy nie soos Hy word nie!”

En dan word die begeerte van mag in haar gebore. Sy wil ook daardie mag hê wat God het. Sy wil ook God se soort kennis hê. Wanneer jy iets werklik begeer, kry jy ‘n baie goeie rede wat jou gewete sal gerusstel. Moenie op jou gewete vertrou nie! Dit kan gevaarlik wees. Toets dit aan kontroles soos liefde, getrouheid, eerlikheid, toewyding en die behoud van goeie verhoudings. En dan natuurlik die belangrikste: wat sê die Bybel, die lewende Woord van God?

Eva se daad, om die verbode vrug te eet, was maar net die simptoom van die ware oortreding. Haar groot sonde was eintlik om in opstand te kom teen God. Dit was ‘n lang proses wat sy deurgegaan het en nie iets wat sommer skielik een dag gebeur het nie.

Wanneer sy egter by Adam kom, is dit ‘n ander saak. Toe sy vir hom van die vrugte gee, eet hy daarvan sonder om eers navraag te doen. Adam het baie duidelik God se opdrag gehoor. Wanneer Eva egter by hom kom, stel hy haar woord bokant dié van God.

Wanneer jy God se Woord ignoreer, ontken jy eintlik dat die Here God is! Dit gaan dus nie soseer oor die eet van die vrugte nie, maar die aantasting van God se simbole. Dit gaan oor keuses wat téén God gemaak is.

Hierdie breuk met God het onmiddellike gevolge vir die twee mense. Skielik kom hulle om die een of ander rede agter dat hulle kaal is. Tot nou toe het hulle in volle harmonie met die natuur geleef. Daar was géén nut om hulle “skaamte” te bedek nie. Nou het hulle skaamte ontdek. Skaam waarvoor? Skaam vir mekaar? Skaam vir die diere? Of is dit dalk eerder dat hulle skaam is oor die verskriklike ding wat hulle gedoen het.

Só skaam is hulle, dat hulle wegkruip wanneer hulle vir God hoor wandel in die tuin. Hulle probeer hulle skaamte wegsteek deur klere van vyeblare te maak. Ek kan my indink hoe ongemaklik dit moes voel!

Ja, dikwels probeer ons vandag steeds vir God wegkruip as ons skuldig voel oor ons sonde.

Gebed:

Here, vanoggend kan ek ook maar net my kop in skaamte laat sak en weereens vra: Vergewe asseblief.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026