Die Pottebakker

8 August, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Pottebakker

Romeine 9:19-29

VIDEO | OUDIO

Die heerlike geur van vars, nat klei hang swaar in die lug as ek die pottebakker se werkswinkel binnestap. Ek is opgewonde - wat gaan hy vanoggend maak? In die vertoonlokaal staan die mees elegante kunswerke uitgestal en daar is van te kies en te keur. Al die kleure van die reënboog is daar verteenwoordig en daar is van piepklein tot mammoetgroot, koppies, bakke, blakers, potte......

“Kom kyk,” word ek vriendelik uitgenooi agter die skerms in, dáár waar die dinge gebeur. Ek stap in ‘n totaal ander wêreld in. Hier is dit half-morsig, as ‘n mens die woord durf gebruik want die vloer is nat en van al die glans en glorie van die vertoonlokaal is hier niks te bespeur nie! Teen die een muur staan ‘n reuse oond en ek sien sommer hoe gloei hy van binne met ‘n hitte wat die warmplek na ‘n vulletjie laat lyk! In die middel van die vertrek staan die beroemde draaitafel, dis nou dáárdie plek waar die gróót wonders gebeur! Rondom is dit allesbehalwe skoon. ‘n Modderigheid omring die draaitafel en skielik begin my gedagtes te dwaal na die tyd toe ek ‘n klein seuntjie was, op Oupa se plaas by Waterval Boven.

Daar was ‘n kleigat naby die fontein met taai, gladde blou klei. Ek en my maters het dit dikwels uitgegrawe en in die proses vieslik vuil geword. Dit was oorlog-klei, ammunisie vir kleilatgevegte. Maar soms was dit ook lekkerspeel-kuns-klei, waarmee ons klei-osse en allerhande wonderlike dinge gemaak het. Ek het dit eenmaal in Ouma se ou koolstoof se oond probeer bak, maar dit was ‘n volslae mislukking!

Ek word teruggeruk na die werklikheid want die pottebakker neem ‘n stuk klei en begin dit brei totdat dit heerlik elasties en vormbaar is. Met méning gooi hy ‘n stuk klei wat hy sorgvuldig afgemeet het op die wiel. Terwyl die wiel draai, begin sy kunstige hande iets vorm. “Wat gaan hier uitkom?” wonder ek opgewonde. Sy hande word natgemaak en die klei maak hulle modderig, sodat sy hande en die klei op die wiel naderhand een is. Stadig neem die voorwerp vorm aan, totdat hy skielik sê: “Daar’s hy, dis klaar!"

Ek kan my teleurstelling nie wegsteek nie. Al wat hy dan gemaak het is ‘n plat bak. Ek wou sien dat die pottebakker ‘n ingewikkelde kunswerk maak, maar nou dít! Ek verstaan nie! Sy talente word nie gebruik nie! Hy lees die vraagteken op my gesig en dan lag hy: “Hierdie gaan ‘n kleurvolle vrugtebak wees. Ek gaan dit glasuur wanneer die klei droog is en dan gaan dit gloei met die vrolikste kleure.”

Gister het ons gekyk na die uitverkiesing en daar hang sékerlik nog baie vrae in die lug. Selfs Paulus vra die vraag: “Is God dan onregverdig?” Prof. Johan Heyns skryf in sy boek: “Dogmatiek” dat God se genade so groot is dat Hy wil hê dat elke mens wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal beërwe. Daarvoor het Hy die mens uitverkies en so is ek, jy en elke mens wat in Hom glo uitverkies. Die hartseer saak - en ek glo dat die Here die hartseer deel - is dat sommige mense hierdie onbegryplike, onverdiende genade in Christus verwerp en kies vir hul eie manier van selfregverdiging deur “goeie werke”......

Die uitverkiesing en daarmee saam baie ander vraagstukke is vir ons onverstaanbaar en ons wil graag vir God voorskryf hoe dinge behoort te gebeur. Paulus vergelyk God se handelinge met dié van ‘n pottebakker. Hy het vrymag om te maak met die klei wat Hy wil en dit te vorm na Sy hand. Soms lyk dít wat Hy maak vir ons onregverdig. God se plan is egter sovéél groter as wat ons gedagtes óóit kan verwerk!

Ek wil soms vra: “Maar waarom het God my dan nie ‘n Billy Graham of ‘n Andrew Murray gemaak nie?” Maar ek vergeet baie gou dat ek maar net ‘n klont vaal klei was voordat God my begin vorm het. Hy het nie nodig gehad om enigiets aan my te doen nie want ek was absoluut waardeloos. Nogtans het Hy uit genade hierdie waardelose stuk slap, modderige klei geneem en iets daaruit gevorm wat nuttig kan wees vir Sy koninkryk.

Daardie vormingsproses was natuurlik nie altyd so lekker nie, want ek moes anders gemaak word as waaraan ek gewoond was en om bruikbaar te word moes ek geglasuur word. Ek moes in ‘n baie warm oond bak (figuurlik gesproke). Van my kant af was daar slegs een voorwaarde: ek moes gewillig wees, want sonder my eie toestemming sou God nie hierdie proses met my begin het nie. Wat behels hierdie “toestemming?” Om “Ja” te sê op God se roepstem en Jesus se geskenk van die ewige lewe te aanvaar. Maar dit gaan ook verder: ek moet toelaat dat God my verder vorm en bruikbaar maak. Hoe doen ek dit? Deur die sonde agter te laat en myself te bekwaam vir Sy diens, maar die belangrikste is dat ek gewillig moet wees om my aan God se vormingsproses te onderwerp, hoe pynlik dit soms ook kan wees. Dit beteken dat ek Hom, die Groot Kunstenaar, met my lewe vertrou.

Gebed:

Here, Skepper van die heelal - ek stel my vandag onvoorwaardelik in U kunstenaarshande!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026