Matteus 26:17-25
Paasfees het aangebreek. Vir die Jode was hierdie ‘n hoogtepunt op die kalender en elke jaar naastenby in April is hierdie groot fees gevier. Dit het ook saamgeval met die fees van die ongesuurde brood wat oor ‘n week gestrek het, en wat moes herinner aan die haas waarmee die Israeliete uit Egipte moes trek toe daar nie eers tyd was om die brood met suurdeeg te laat rys nie. Onthou, daardie jare was daar nog nie pakkies kits-suurdeeg nie! Die paaslam is op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood geslag en die bloed oor die altaar uitgegooi. Daarna is die lam gebraai en dieselfde aand by die Paasmaaltyd geëet. Die Paaslam simboliseer dan ook God se vergifnis van sonde.
Hierdie spesifieke Paasfees is vir Jesus en Sy dissipels ‘n baie besonderse een en veral vir die dissipels sekerlik ’n baie depressiewe fees. Jesus sê pertinent vir hulle dat Sy tyd naby is. Hy sou binnekort aan die kruis sterf, al spel Hy dit nie pertinent vir hulle dit so uit nie. Met hierdie aankondiging bring Hy die Paasfees in verband met Sy dood. Wanneer Hy dan sterf aan die kruis, sterf Hy as die Paaslam vir die sondes van die wêreld.
Daardie aand luier almal rustig om die tafel, besig om te eet. En dan los Jesus die bom: “Een van julle gaan my verraai.” Ek kan my net voorstel wat deur die gedagtes van die manne gegaan het op daardie oomblik. Niemand het enigiets vermoed nie, buiten natuurlik dié een wat reeds sy konkelwerk gedoen het!
Jesus het hulle so onkant gevang dat elkeen begin wonder het of dit nie dalk hyself was wat hierdie verskriklike daad sou pleeg nie. “Is dit dalk ek, Here?” word daar telkens, verskrik-onthuts gevra. Hulle het die afgelope dae dalk ‘n baie brawe gesig opgesit, maar diep binne-in vreet die onsekerheid oor Jesus, hulle Meester se naderende dood. Wat gaan van hulle word? En nou dít!
“Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai…..”.
“Maar elkeen van ons sit sy hand op die een of ander stadium saam met Jesus in die skottel! Is dit nie dalk tóg ek nie?” Hierdie gedagte maal waarskynlik deur elkeen van die dissipels se kop. Die dissipels spreek Jesus aan as “Here” en hiermee bely hulle dat Hy die Seun van God is. Wanneer Judas egter doodonskuldig ook die vraag vra, of dit nie dalk hy is nie, spreek hy Jesus nie aan as “Here” nie, maar “Rabbi,” wat beteken “Meneer” of “Leermeester.” Dit is dieselfde aanspreekvorm wat Jesus se teenstanders gebruik het vir Hom. Judas se vraag kom koel en afsydig, want hy wéét dat hy skuldig is! Jesus se rustige antwoord, sonder enige haat of verwyt, is bloot: “Dit is soos jy sê.” Nou weet almal.
Tog moet ons nie die fyner nuanses miskyk nie. Die blote feit dat die ander dissipels ook die vraag vra, wys net weereens dat hulle ook maar mense is met ‘n skuldige gewete. Indirek kan elkeen van ons dus ook daardie vraag vra. Is daar nie dalk by my verraad van Jesus of Sy saak teenwoordig nie? Niemand is outomaties van afval gevrywaar nie. Jesus het Judas sag geantwoord, en alhoewel hy toe reeds ‘n besluit geneem het, was daar steeds vir hom omdraaikans - tot op die héél laaste! Judas het egter besluit om nie om te draai nie.
Dalk kan ons vandag redeneer dat die arme Judas die afgryslike verraad gepleeg het omdat God dit so beplan het! En dat hy daardeur verlore gegaan het! Maar Petrus het feitlik net so ‘n slegte ding gedoen met sy verloëning van Jesus. Maar hy het om vergifnis gevra. En dit gekry! Hy het gaan regmaak waar hy verbrou het. Judas het dieselfde geleentheid gehad, maar hy het dit sélf weggesmyt. Ja, hy het berou gehad maar nooit God se vergifnis gesoek nie!
Wat het Judas soveel anders gemaak as die ander dissipels? Almal van hulle was in die geloof “swakkelinge.” Later daardie selfde aand nog sou ons sien hoedat hulle slaap wanneer Jesus hulle bystand bitter nodig het. Ons sien dat hulle weghardloop wanneer hulle Here in hegtenis geneem word. Ons moet hoor dat hulle totaal ontken dat hulle Hom ooit geken het, en dít in Sy grootste uur van nood. Hulle is onseker en beangs vir dít wat vir hulle voorlê. Nogtans, ten spyte van al hierdie dinge, noem hulle Hom steeds “Here”, want hulle volle vertroue, hoe wankelrig ookal, is in Hom. Judas, aan die anderkant, ondervind hierdie selfde onsekerhede en vrese, maar hy besluit dat hy sy vertroue in Jesus onttrek. Jesus is vir hom nie meer die “Here” wat hy aanvanklik gedink het Hy is nie en hy verkoop Jesus uit aan die vyand.
Daar kom ‘n tyd in elke Christen-gelowige se lewe waar onsekerheid, vrees en selfs blatante lafhartigheid jou vasgryp. Dit is baie, baie belangrik dat jy dan steeds na Jesus kyk as die enigste Here, al lyk dit of die einde van die wêreld aangebreek het. As jy vandag in daardie situasie is, en soos Judas besluit het dat Jesus nie meer Here van jou lewe is nie, dan is daar selfs nou nog vir jou omdraaikans! Jesus se hand van liefde is uitgestrek na jou. Gryp dit aan met al jou mag!
Gebed:
Here, waar daar dikwels storms in my lewe woed en waar onsekerheid en angs dreig om my te verswelg, hou asseblief my hand styf vas en hou my oog gevestig op U alleen, want U is my Here en my God. Op U alleen vertrou ek!