Die Oorsprong

16 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Oorsprong

Amos 5:8-9

Video - Oudio

Onthou jy nog die tropiese sikloon Demoina wat die oostelike deel van ons land getref het? Die verwoesting wat daardie verskriklike reuse draaikolk veroorsaak het, het jou na jou asem laat snak. Die dorp Pongola was byvoorbeeld totaal van die res van die wêreld afgesny en paaie was verwoes. Brug op brug is meegesleur en reuse bome is uitgepluk deur die geweld van die vloedwater.

Iets wat my nog altyd met ontsag gevul het, was die woude reuse wildevyebome wat die Umfolozirivier omsoom het. ‘n Jaar of wat na Demoina, het ons saam met ‘n paar vriende ‘n wildernis staptog in die Umfolozi wildtuin gedoen. Ek het my hande saamgeslaan, want hierdie bosreuse het net eenvoudig verdwyn voor die vloedwater en die magtige rivier letterlik kaalgestroop van al sy prag en praal. Net die kaal grou klippe en sandbanke het oorgebly.

As jy kyk na satellietbeelde van die gebeurtenis, dan sien jy hierdie magtige draaikolk van wolke wat strek oor honderde kilometers. Reg in die middel is daar ‘n senterpunt, amper ‘n vakuum waar daar geen wolke is nie, die oog van die sikloon. Wat presies gebeur in daardie klein middelkolletjie? Baie wetenskaplikes het al hulle lewens gewaag om te probeer uitvind. Is die ganse geheim van die sikloon dalk opgesluit in daardie oog? Ek sal daardie vraag liewers nie probeer antwoord nie, want ek is beslis nie ‘n weerkundige nie! Wat ek wel weet, is dat dit my met baie groot ontsag vul.

Ons kom vanoggend by ‘n totaal ander soort middelpunt, die oorsprong van die vier sirkels van skokgolwe wat ons klippie in die water gemaak het. Alles het in hierdie middelpunt ontstaan, en dit het uitgekring na buite. Amos sien hierdie middelpunt ook as die oorsprong van alles, en wanneer hy in die nag saam met sy skape in die veld, die hemelruim aanskou, dan val hy in aanbidding neer voor die Een wat die sterrekonstellasies, Sewester en Orion gemaak het, die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge. Sy lied verander skielik van ‘n aanklag op Israel na ‘n loflied tot eer van God. Dag vir dag kan ons Sy skeppingswerk aanskou. Die dagbreek met sy kleurewonder, waar die lug en wolke kwistig met ‘n reuse verfkwas in asemrowende kleure getooi word. As skaapboer het Amos sekerlik menige oggend die dag sien breek iewers in die veld, en in aanbidding hierdie wonderwerk aanskou.

Het jy al in totale verwondering iewers in die bos die laaste strale van die son beleef? Daardie goue uur wanneer die son soos ‘n reuse, vlammende goue bal tussen die doringbome insak en lug vul met sy suiwer goue strale? Dit is die tyd wanneer jy jou trane van verwondering nie kan keer nie. En as die vlieswolkies elke minuut verander in die mees delikate pastelkleure, dan kan jy nie anders nie as om in ‘n spontane loflied uit te bars vir die Skepper van dit alles. Ja, Amos het dit ook menige keer aanskou, en hy het geweet dat dit die hand van die Here is, en hy sing sy loflied ter ere van Hom, die Almagtige, die Middelpunt, die Oorsprong.

En het jy al ooit ‘n dag beleef, waar die noordewind die aarde verskroei en jou kosbare asem uit jou longe wil ruk? En dan skielik, laatmiddag gaan lê die wind, en jy voel aan dat hier iets groot gaan gebeur. Daar kom ‘n drukkende stilte, hoogswanger met verwagting. Selfs die diere in die veld is rusteloos. En dan sien jy dit: ‘n pikswart wolkbank doem op uit die ooste en borrel oor die Lebomboberge vanuit Mosambiek, tot oorlopens toe volgelaai met miljoene tonne water wat geskep is uit die Mosambiekse kus. Skielik ruik jy nie meer die verstikkende stof nie, maar die geur van reën vul jou neusgate. En dan maak die sluise van die hemel oop en die verskroeide aarde word oorspoel in ‘n koele lafenis wat lewe gee in oorvloed. Jy dans in die gietende reën terwyl jy jubel en die Here loof en prys. En die rooibokkies huppel en spring uitgelate. Ja, ook dít het Amos beleef in die dorre landskap van Israel, en hy het deeglik besef dat dit alleen die handewerk kan wees van die Skepper.

Ons maak so dikwels ‘n groot fout in die lewe, om alles maar net te aanvaar as vanselfsprekend. Kom ons maak ‘n punt daarvan om die skeppingswonder agter die alledaagse raak te sien. Kyk ‘n slag mooi na die volmaakte skoonheid van ‘n eenvoudige blommetjie, en sien die ragfyn wonderwerk raak as ‘n kunswerk uit die hand van die almagtige Skepper. Word klein voor die ontsagwekkende, brute krag van ‘n weerligstraal, en besef dat God hierdie asemrowende natuurkragte geskep het. Stap langs ‘n bergstroompie en drink die kalmte en rustigheid van die koel, kabbelende water in, en hoor in die stilte en voëlgesang die stem van God. Kan jy dan anders as om in ‘n spontane lofbetuiging uit te bars vir Hom? Of gaan sit by die see langs ‘n rotspoeletjie met laagwater, en verwonder jou aan die kleurvolle wonderwerk wat voor jou oopvou van klein rotsvissies en helderkleurige anemone met hulle vlesige vingertjies en ragfyn waaiertjies. Sal jy nie dan in verwondering voor Hom neerval nie?

Gebed:

Here, vanoggend wil ek U loof en prys, want U is wonderbaar. Hoe sal ek ooit al U lof kan besing?

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026