Die Oes is Ryp

3 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Oes is Ryp

Johannes 4:27-42

Die dissipels keer terug van die dorp Sigem, waar hulle gaan kos koop het. Dit was maar half ‘n ongemaklike situasie, want hier moes hulle kos koop by Samaritane. Hulle ongemak verdiep egter as hulle terugkom by die put, en Jesus, hulle Rabbi aantref in gesprek met ‘n Samaritaanse vrou. Boonop is hierdie vrou se voorkoms maar baie twyfelagtig. Hulle besluit om liewer doodstil te bly oor hierdie teer sakie, want hulle verstaan nou net mooi gladnie wat aan die gang is nie. Boonop is dit ‘n bitter ongemaklike situasie om oor te praat. Hulle verligting is groot as sy daar omspring en terughardloop dorp toe. Nou kan hulle die belangrike dinge van die lewe afhandel, soos byvoorbeeld om te eet.

Die manne het uit hulle pad uit gegaan om kos in die hande te kry. Hulle is moeg en honger. Hulle gee vir Jesus Sy kos, maar weereens moet hulle terugdeins oor hulle Meester se optrede: Nee, Hy is nie honger nie. Hy het kos waarvan hulle nie weet nie! Hy sal nie eet nie dankie! Die manne kyk vir mekaar met ‘n vraagteken op die gesigte. “Waar sou Hy kos vandaan gekry het?” Jesus verduidelik dat Sy kos is om die wil van die Vader te doen.

Jesus wil die prioriteite van ‘n gelowige by die dissipels probeer inskerp. Hulle sukkel om te verstaan. Ja, eers baie later het hulle hierdie dinge begin verstaan. Dit was eers nadat Hy na die Hemel opgevaar het en hulle die Heilige Gees ontvang het. Maar nou is al die begrippe wat Jesus gebruik vir hulle totaal vreemd. Jesus probeer eintlik vir hulle sê dat die normale dinge van die lewe, soos om te eet, minder belangrik is as die geestelike dinge. Hulle moet die wonderlike geestelike wêreld wat voor hulle oë besig is om te ontvou, raaksien. Ware honger is om dít te wil doen wat die Here van jou vra om te doen.

Jesus tuur oor die vlakte, en dan sien Hy hoedat ‘n menigte mense uit die dorp stroom op pad na hulle toe. Hy glimlag. Ja, die vrou het gaan vertel, en nou wil almal in die dorp weet van “die Man wat haar alles van haar lewe vertel het.” Wat ‘n oes!

Die oes is ryp,” deel Hy sy dissipels mee, en nou is hulle totaal uit die veld geslaan. Hulle kyk om hulle rond, maar daar is nie ‘n enkele land wat gereed is vir oes nie. Wat sou hulle Meester dan nou hiermee bedoel? Jesus verduidelik vir hulle van die lande wat vol ryp are staan, spierwit, net reg om geoes te word. Met hierdie “lande” sinspeel Jesus natuurlik op die Samaritane, wat op daardie stadium sekerlik ook alreeds ‘n baie sterk Messiasverwagting gehad het. Hulle het net so swaar in die Romeinse verdrukking geleef as die Jode. Ja, hulle was ryp vir die oes, om Jesus se volgelinge te word. Die dissipels loer oor hulle skouers en raak half kriewelrig as hulle die groot skare Samaritane aangeloop sien kom.

Jesus gaan egter rustig voort en Hy verduidelik vir hulle hoe ‘n oes nou eintlik werk. Dit is nie iets wat sommer net gebeur nie. En boonop is dit nie een enkele persoon se werk nie. Nee, daar is spanwerk by betrokke om ‘n suksesvolle oes te kan lewer. In hulle gedagtes kan die manne ‘n prentjie vorm van wat daar op die land gebeur: Eers die ou wat met sy ploeg agter die os aanloop en die grond omdolwe. Dan is daar die kêrel wat met sy sak agterna stap en die saad in die grond strooi. En wanneer die koring groot geword het en ryp is, is dit dalk weer iemand anders wat kom met die sekel om die are af te sny en die gerwe in bondels te bind. Dit is beslis nie alleen-werk nie, en al die bure spring gewoonlik in om te kom help.

Terwyl die opgewonde Samaritane haastig nader kom, begin die dissipels die prentjie kry, dat Jesus nie van ‘n gewone oes praat nie, maar dat Hy sinspeel op die geestelike oes van volgelinge van Jesus. Vandag is dit steeds net so waar. Daar is diegene wat die Woord saai, en daar is ander wat moet bossies uitkap, bossies van sonde, sodat die lewensplante kan groei. Dan is daar weer diegene wat die wonderlike voorreg het om die oes te kan insamel, want hier sien jy uiteindelik die vrug op die arbeid van baie ander geestelike werkers.

Ek het die groot voorreg om te kan saai deur die dagstukkies wat ek uitstuur. Ek sien eintlik bitter min van die vrug van my arbeid, maar ek doen dit in die wete dat die saad wat ek saai, iewers op vrugbare aarde sal val, en dat iemand anders eendag jubelend sal kan oes van my poging.

Ja, daardie Samaritaanse vrou het die asemrowende voorreg gehad om te kon deel in Jesus se oes. Die lande was ryp, en al wat sy moes doen, was om die finale boodskap te gaan aflewer. Dit het sy gedoen met volle oorgawe. Die resultaat was dat die (uitgeworpe) Samaritane net eenvoudig nie genoeg kon kry van Jesus nie. Hulle soebat Hom om by hulle oor te bly! Alhoewel die dissipels sekerlik niks van die idee gehou het nie, het Jesus tog besluit om twee dae daar oor te bly by hulle. Hierdie was ‘n belangrike oes! Hoe kon Hy dit óóit so laat staan om op die lande te vrot?

Gebed:

Here, ek loof en prys U vir die wonderlike voorreg wat ek het om deel te mag wees van die span. Help my om die taak wat U my gee met volle oorgawe uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026