Markus 4:30-34
Jesus vertel ‘n gelykenis van ‘n piepklein mosterdsaadjie wat ontkiem en groei tot ‘n groot, nuttige struik van byna 3m hoog waarin selfs die voëls kom nesmaak. Markus sê dat Jesus dikwels sulke gelykenisse gebruik het om waarhede by die mense tuis te bring. Meeste van hulle het dit egter nie verstaan nie. Waarom? Die meeste van Jesus se volgelinge was slegs daar vir één doel: sensasie!
Hierdie gelykenis van die mosterdsaadjie is só sprekend van Jesus se eie bediening. Ja, daar was wel duisende mense rondom Hom elke dag, maar slegs ‘n klein handjievol was daar om Jesus waarlik te volg. Sy bediening was waarlik soos ‘n piepklein mosterdsaadjie, as ons dit in die konteks van Israel sien. As ons egter die hele destydse wêreld in ag neem, dan was dit nog véél kleiner. Onthou: Israel was maar ‘n niksbeduidende ou landjie iewers in die woestyn, slegs ‘n spatseltjie in die magtige Romeinse ryk!
In die wêreld-konteks was ‘n twaalftal onbeholpe leiers sonder énige teologiese opleiding, en nog ‘n paar arm bewonderaars, skaars ‘n druppel in die see. Boonop gebeur die tragiese wanneer hierdie groepie vissermanne se Leermeester tereggestel word, skaars drie jaar nadat hulle met hulle opleiding begin het. Daardie Mosterdsaadjie word as’t ware “geplant” in die klipgraf. Die manne was leierloos, moedeloos en totaal hulpeloos. ‘n Droewige, hopelose situasie!
Maar dan gebeur die wonderwerk wanneer Jesus uit die graf opstaan. Vir Jesus se klein handjievol volgelinge wat oorgebly het, was dit letterlik soos die mosterdsaadjie wat ontkiem het - vars, splinternuwe blaartjies wat bo die grond uitgekom het. Hulle het nog steeds nie die vaagste benul gehad van wat om daarvan te maak nie, en alles was verskriklik broos en onseker. Om alles verder te vererger, het die hemelvaart gekom en Jesus finaal van hulle weggeneem. Skielik was selfs dáárdie bietjie troos van Jesus se opstanding óók weg!
Maar één ding het hulle aan bly vasklou: HOOP! Daardie wonderlike woordjie wat ‘n mens ‘n nuwe visie vir die toekoms kan gee. Hulle het ‘n onblusbare hoop in hulle harte omgedra, want Jesus het aan hulle gróót beloftes gemaak. Hulle het dus met bonsende harte sit en wag vir die belofte om waar te word. Soos wat die dae nadergekom het vir die vervulling van Jesus se belofte, het die opgewondenheid al groter geword!
Uiteindelik het daardie onvergeetlike Sondag aangebreek, dáárdie Sondag toe die Heilige Gees op die mensdom uitgestort was. Skielik het die bedremmelde Petrus en sy visserman-maats splinternuwe krag gekry, soveel só dat daar ná Petrus se toespraak daardie dag drieduisend mense tot bekering gekom het en ware dissipels van Jesus geword het.
Dit het egter nie maar net gebly by daardie één dag nie. Hierdie jong “mosterdplantjie” het baie vinnig begin groei en groei totdat sy takke die ganse Israel oordek het. Maar selfs dáár het dit nie geëindig nie, want die takke het aanhou uitdy om selfs Samaria en later ook Griekeland, Rome en die hele wêreld te bereik.
Die vraag is: Hoe het hierdie “mosterdplant” gefunksioneer? Eenvoudig: Sy wortels was stewig geanker in die Een wat die saadjie geplant het, Jesus. Al die krag, voeding en stimulasie wat hierdie “plant” nodig gehad het, kon hy in oorvloedige maat uit hierdie onuitputlike Bron kry.
En dan was daar die stam: die apostels en manne soos Paulus wat hierdie bron van krag kon kanaliseer na al die takke. Hulle het ‘n reuse taak gehad, om rigting te kon gee aan die kerk. Hierdie manne het ‘n drie jaar lange intensiewe opleiding gekry by die grootste Leermeester van alle tye. Al die kennis en inspirasie wat hulle uit hierdie opleiding geput het, kon hulle aanwend om die kerk in die regte rigting te stuur.
Maar dan was daar seker die héél belangrikste deel van hierdie “mosterdplant,” waarsonder die plant nutteloos sou wees: die gewone mense, die gelowiges! Hulle het nie maar passief aan die boom gehang nie. Hierdie mense het aktief hulle taak uitgeleef en gedurigdeur nuwe lidmate “gewerf,” sodat die kerk binne ‘n baie kort tydjie kon groei van ‘n piepklein mosterdsaadjie tot ‘n reuse boom. Dikwels moes hulle groot waagstukke aangaan om die Evangelie uit te dra, want enigeen wat die Woord versprei het, was wreed vervolg. Nogtans het hulle ywerig en onverskrokke voortgegaan.
En vandag? Tot ‘n groot mate het die boom gestagneer. Ja, die wortels is steeds reg geanker. En ja, die stam is steeds daar, en hy funksioneer. Maar in die meeste gevalle het die takke en blare totaal passief geraak. Hulle ontvang voeding van die stam, maar die krag word nie gebruik nie.
Kom ons maak vandag ‘n besluit, om weereens te begin werk maak daarvan om die krag, die onuitputlike krag wat ons kry, te kanaliseer in die regte rigting, en dit te gebruik om God se Koninkryk uit te brei. Daar is baie maniere om dit te doen. Bid vir wysheid om jou talente wat God jou gegee het te gebruik om Sy Koninkryk te laat groei.
Gebed: