Die Meisie by die Put

9 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Meisie by die Put

Genesis 24:9-27

Video

Audio

Dertig jaar het verbygegaan nadat daardie klein seuntjie in Abraham en Sara se tent gebore is. Jare wat beslis nie sonder drama was nie, want in hierdie tyd moes Abraham God se “onmoontlike” opdrag uitvoer om vir Isak te gaan offer. Maar Isak het selfs dit oorleef, en nou is hy op hubare ouderdom. En daar is géén meisie in hierdie land wat goed genoeg is vir Abraham en Sara se spesiale seun nie! Dan tref ‘n blink gedagte die twee oumense.

Die slaaf kry die onmoontlike opdrag: “Gaan soek vir my seun ‘n vrou!” Die arme man het homself seker ál die pad bejammer op sy lang reis na Mesopotamië waar Nahor bly. Met sy karavaan van tien kamele vat hy die langpad, terwyl Abraham, Sara en Isak hom opgewonde agterna kyk. Isak spring op en af van opgewondenheid. Eintlik wou hy saamgaan en sélf sy eie vrou gaan uitsoek. “Sê nou maar die slaaf maak ‘n verkeerde keuse? Sê nou net hy kom hier aan met ‘n regte ou draak?” Maar dan skuif hy die gedagte uit sy kop: “Daardie man ken sy storie! Hy gaan vir my die mooiste ou dingetjie denkbaar bring, een met fyn goue ringetjies aan haar neus en sulke lang pikswart wimpers wat skaam onder haar sluier uitloer.” Isak se hart mis sommer ‘n paar slae as hy vir homself die prentjie skilder van hoe hierdie bruid nou eintlik gaan lyk!

Twee maande later gooi die slaaf ankers uit by ‘n fontein net buite Mesopotamië. Dan bid hy: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur.” Hy vra die Here om die regte meisie vir hom uit te wys. Die meisie wat by die fontein kom water skep en vir hom, ‘n wildvreemde man, water kom aanbied en sy kamele ook nog versorg, dit sal sý wees wat aan Isak behoort.

Wanneer hy sy oë oopmaak, sien hy haar daar staan, die mooiste jong meisie wat hy nog ooit gesien het. Sy hart gee ‘n paar wilde spronge: “Dis sy! Hierdie is beslis Isak se vrou!” Met groot belangstelling en kloppende hart kyk hy hoe sy in die fontein afklim. ‘n Ruk later klim sy die trappies op met ‘n swaar kruik op haar skouer. “Kan ek asseblief ‘n bietjie water kry?” waag hy dit.

“Drink gerus! Ek sal sommer vir jou kamele ook gaan skep.” En toe wéét hy: die Here was getrou! Hy het weereens voorsien net soos Hy elke keer nog vir sy meester voorsien het oor die afgelope 130 jaar. Terwyl sy nog water aandra vir sy kamele, hardloop hy haastig na een van die diere. Uit ‘n saalsak haal hy ‘n gekerfde kissie. As hy dit oopmaak blink die suiwer goud in die helder sonlig. Twee goue armbande en ‘n goue neusring word versigtig uitgehaal. Die meisie is stomgeslaan as hy vir haar die kosbare juwele aansit.

“Wie se dogter is jy?” wil hy weet. Sy verduidelik dat haar pa se naam Betuel is, die seun van Nahor.

Dit was die bevestiging! God het waarlik voorsien! Het Abraham nie gesê dat hy wens dat een van sy broer Nahor se kleindogters vir Isak ‘n vrou sal wees nie? Wat is die kanse dat ‘n man 1300km ver reis, en dat die presiese meisie waarvoor hy gevra het die eerste sal wees om hom buite ‘n stad te ontmoet by ‘n fontein? Boonop nog dat sy presies die regte dinge sou sê! Dit is ‘n totale onmoontlikheid! Maar by God is niks onmoontlik nie. Nét daar val hy in aanbidding voor die Here neer, en dank Hom vir Sy leiding.

Die slaaf is saam met Rebekka na haar ouerhuis, en dan begin ellelange onderhandelinge, nie alleen met haar pa, Betuel nie, maar ook haar broer Laban, wat sommer dadelik gesien het hoe hy uit die transaksie sal kan munt slaan.

Die slaaf kyk uiteindelik vir Betuel in die oë: “As u dan u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan.” Hy dwing ‘n antwoord af. “En as u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai en teruggaan.”

Ou Betuel het net sy kop geskud: “Hierdie ding kom van die Here af! Hoe kan iemand nog daarteen stry?” Laban wou nog teëpraat, en Rebekka se ma wou haar dogter darem nog ‘n week of twee by die huis hou om darem behóórlik totsiens te sê, maar die laaste woord behoort aan Rebekka. Wat sou sy besluit? Sy was so opgewonde dat sy sommer dadelik instem om saam te gaan: “Ja! Ja! ’n Duisend maal ja!” Daardie aand is aandete eers baie, baie laat genuttig!

Daardie hele nag het Rebekka sékerlik nie ‘n oog toegemaak nie. “Hoe lyk hierdie Isak? Is hy darem ‘n aantreklike man?” Sy probeer ‘n prentjie in haar kop vorm van Isak. “As sy pa, Abraham so ryk is soos wat die slaaf sê, dan moet Isak mos ‘n prins wees!” En so vertrek Rebekka en haar hele gevolg vroeg-vroeg die volgende oggend op die lang pad terug na Kanaän. Sy neem haar grootmaak-vrou saam met haar asook ’n hele string slavinne, ‘n “prinses” moet mos darem goed versorg wees! Rebekka kan haar lag nie hou van opgewondenheid nie. “My prins!” bokspring haar hart. “O, om aan jou voete te kan sit....”

Gebed:

Here, ek is opgewonde as ek dink aan die wonderlike dag wanneer ek vir Jesus kan sien. Maranatha! Kom Here Jesus, kom gou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026