Handelinge 15:35-41
Hoe belangrik is ‘n mens se integriteit? Op Paulus en Barnabas se eerste sendingreis het Johannes Markus hulle vergesel. Toe hulle in Pamfilië kom, het hy egter nie meer kans gesien om verder saam met hulle te gaan nie, en het hy omgedraai. Wat sy redes was, weet ons nie, maar dit wil lyk asof hy net eenvoudig nie meer kans gesien het vir daardie harde pad nie. Laat ons maar eerlik wees: daardie eerste sendingreis was geensins maanskyn en rose nie! Dit was soms bitter moeilik, en mense het hulle uitgejou, verwerp, vervolg, selfs gestenig. Paulus en Barnabas was egter só vasberade om God se Woord te verkondig, dat hierdie ou “terugslaggies” maar net so terloops gekom het. Hulle het dit afgeskud soos water van ‘n eend se rug af en voortgegaan met dít wat God vir hulle bestem het. Johannes Markus kon dit egter nie verwerk nie, en hy het kop uitgetrek.
Wanneer jy so ‘n reuse taak vir die Here aanpak, moet jy eers gaan sit en baie goed bereken wat die koste sal wees. Dit is beslis nie vir elke mens om daardie soort van taak, soos Paulus-hulle aangepak het, op jou skouers te neem nie. ‘n Paar jaar gelede het ‘n jong meisie genaamd Debbie, as onderwyseres gekwalifiseer, en die besluit geneem om vir ‘n tydperk op ‘n sendingstasie in Mosambiek te gaan werk. Dit klink alles so romanties, om daar op die uithoeke van die wildernis te werk. Maar sy moes ook eers die ware koste gaan bereken: die gevare daaraan verbonde, die afgesonderdheid en die harde lewe wat sy daar sou kry. Inderdaad het Debbie haar tydperk daar voltooi, maar eers nadat sy cholera sowel as malaria opgedoen het, en bittere frustrasies beleef het, veral met die burokrasie van die Mosambiekse regering. Die pad daarheen was bykans onbegaanbaar, en die verbinding met die buitewêreld en haar geliefdes het vir alle praktiese doeleindes gladnie bestaan nie. Boonop was die naaste primitiewe winkeltjie ure se ry daarvandaan. Dit was ‘n harde tydperk in Debbie se lewe, maar sy het die integriteit gehad om deur al die dinge vas te byt, en steeds haar volle vertroue op die Here te hou.
Dit het tyd geword dat Paulus en Barnabas die gemeentes gaan besoek waar hulle op hulle eerste sendingreis die Woord verkondig het. Uiteraard is daar nie in elke gemeente ‘n leraar met jare se opleiding in die teologie agtergelaat nie. Hulle moes nou gaan seker maak dat dít wat hulle die mense daar geleer het, wel ingesink het en beoefen word. Barnabas wou weer vir Johannes Markus saamneem en hom ‘n tweede kans gee om reg te maak waar hy verbrou het. Vir Paulus was hierdie egter ‘n baie seer sakie. As hy hulle eenmaal in die steek kon laat, kan hy dit dalk weer doen! Dit het ‘n hewige argument tussen hierdie twee goeie maats tot gevolg gehad! Soveel só dat hulle besluit het om liewer elkeen sy eie koers te loop. Barnabas sou na die eiland Siprus gaan, en vir Johannes Markus saam met hom neem, en Paulus sou na die gemeentes in Sirië en Silisië gaan. Silas sou Paulus vergesel op hierdie moeisame reis.
Wat hier gebeur het, was baie beslis nie ‘n lekker ding nie! Dit was tragies dat die twee reuse in die sendingveld moes stry kry oor ‘n helper. Hierdie twee bondgenote het saam die aan-die-brand gemeente van Antiogië uitgebou tot ‘n modelgemeente wat vandag steeds vir ons ‘n wonderlike voorbeeld is. Saam het hulle ‘n hele aantal gemeentes tot stand gebring in Klein-Asië. Saam is hulle ter wille van die Evangelie vervolg, verjaag en uitgejou. Saam het hulle gestry vir die regte van die heidene op die historiese sinodevergadering in Jerusalem. En nou dít!
Aan die een kant wys dit maar net vir ons dat selfs die groot geeste soos Paulus en Barnabas ook maar net mense is, wat soms ernstige meningsverskille kan hê. Maar aan die ander kant sien ons hierin dat Paulus kwaliteite soos volharding en integriteit so hoog op prys gestel het, dat hy selfs bereid was om eerder sy jarelange bondgenoot te verlaat as om met ‘n halfhartige helper in die Here se diens te staan. Ja, Paulus is die man wat so pragtig oor die liefde kon skryf - lees gerus maar 1 Korintiërs 13. Dieselfde Paulus staan egter só absoluut onverbiddelik teenoor die basiese beginsels.
Gelukkig kon Paulus ook vergewe! Ons lei af uit Paulus se briewe dat hy en Johannes Markus vrede gemaak het, en dat die man selfs later as een van Paulus se helpers opgetree het, en dat Paulus hom hoog geag het. (Filemon 24; Kol. 4:10 en 2 Tim 4:11). Inderdaad het Johannes Markus gaan regmaak waar hy verbrou het, en ‘n nuttige werktuig in God se Koninkryk geword. Jou dade kan verrykende gevolge hê, veral wanneer dit ander mense raak. Besin dus eers baie mooi voordat jy ‘n besluit neem. En as jou besluit verkeerd was, is dit nog belangriker om later te gaan regmaak waar jy verbrou het. Ewe belangrik is dat jy kan vergewe, net soos God bereid is om jou te vergewe vir jou oortredinge.
Gebed:
Here, vergewe my asseblief vir die talle male in my lewe waar my integriteit my in die steek gelaat het. Ek weet dat ek al soveel skade veroorsaak het.