Lukas 24:1-12
“Waar is julle drie so vroeg op pad heen?” wil Johannes weet toe daar nog donkeroggend ‘n geskarrel is. Dit was die Sondagmôre nog bitter vroeg toe die drie vroue, Maria Magdalena, Johanna en Maria (Jakobus se ma) klaar aangetrek by Johannes verbyskuifel op pad uit.
“Ons gaan graf toe om te gaan doen wat ons Vrydagmiddag al wou gedoen het. Ons gaan ons Meester se lyk versorg.”
Dit is tog so ironies, dat hulle alles gehoor het wat Hy gesê het, óók dat Hy op die derde dag sou opstaan, maar dit het nie ingesink nie. Só ‘n groot wonderwerk was gans te groot vir hulle verstandjies, en dis terloops vandag steeds te groot vir ‘n paar geleerde manne se verstandjies!
Johanna begin opnuut weer huil as hulle met reukolies en mirre by die deur uitloop op pad na Josef se graf wat hy so goedgunstiglik vir Jesus aangebied het.
En dan die verskriklike skok! Die klip is voor die graf weggerol! Haastig hardloop hulle daarheen, en nog groter is die skok as hulle sien dat die graf leeg is. “Iemand het ons geliefde Meester se lyk gesteel!” maal dit deur hulle koppe. So groot is die skok, dat hulle nie eers die twee on-aardse wesens sien wat by die graf staan nie, manne met skitterblink klere aan.
Skielik merk die vroue die twee engele, en hulle skrik vir hulle skoon in ‘n ander geloof in. En toe verduidelik die engele omslagtig van Jesus se woorde: dat Hy immers vir hulle gesê het dat Hy sou sterf en dan weer sou opstaan. En dan begin hulle alles verstaan. Hulle onthou wat Jesus gesê het, en nou begin dit alles sin maak. Stadig val dit soos die blokkies van ‘n legkaart inmekaar. Baie haastig hardloop die vroue terug om hierdie wonderlike nuus vir die ander dissipels te gaan vertel.
‘n Bedremmelde hopie dissipels sit in Martha-hulle se huisie, onseker oor wat om nou te doen. Hulle voel soos ‘n trop skape wat hulle herder verloor het. Dan hoor hulle haastige voetstappe die paadjie opgehardloop kom. Twee van die vroue wat vroegoggend uit is graf toe, kom uitasem en spierwit geskrik daar aangehardloop.
“Wat’s fout?” wil iemand nog weet, maar die twee babbel gelyk deurmekaar, en al wat die manne kan uitmaak is dat die graf leeg is en dat Jesus se lyk weg is. En so tussen al die gebabbel deur is daar iets van twee engele!
“Waar is Maria?” Johannes wonder waarom sy nie saam met die ander twee teruggekom het nie.
“Weet nie, sy het iewers in die tuin agtergeraak!”
Johannes-hulle kan stééds nie glo dat hierdie dinge werklik waar is nie, en hulle maak dit af as onsin. Dit is alles een groot droom wat in die vroumense se koppe afgespeel het. Jesus is dood! Hulle het dit tog sélf met hulle eie oë gesien! Hy is begrawe. Dis verby! Alles is een groot nagmerrie!
Vir een man het hierdie dinge nou hééltemal te veel geword. Petrus het só gewens dat dinge anders kon wees, sy verskriklike verraad….. Hierdie nuus van die vroue, hoe verregaande dit ookal mag klink, was vir Petrus ‘n opflikkerinkie van hoop. Haastig spring hy op en begin hardloop na die graf toe. “Wag vir my!” skree Johannes, en hy hardloop agterna.
Die jonger Johannes steek Petrus gou verby. By die graf steek hy verbysterd in sy spore vas. “Dan is dit tóg waar!” Verslae staan hy daar en staar. Al hygende kom Petrus aangehardloop. Vir ‘n oomblik huiwer hy, dan buk hy en storm in die graf in.
Binne sien hy die doeke lê, die doeke wat Josef spesiaal gaan koop het om Jesus in toe te draai. Verder is daar niks, géén liggaam nie. Niemand sal tog so mal wees om ‘n lyk te steel, en die doeke waarin dit toegedraai is net daar los nie!
Uitasem hardloop die twee terug om die nuus met die ander te gaan deel. Hulle weet nog nie mooi wat om hiermee te maak nie. Dit is hééltemal te groot om te begryp. Waar is hulle Meester? Al wat hulle wél weet is dat Jesus nie dood is nie: Hy léwe! Hy het wáárlik opgestaan!
Raak jy nog opgewonde oor Jesus se opstanding? Is Paas Sondag nog vir jou ‘n dag van jubeling en borrelende blydskap? Baie mense is vandag skepties oor hierdie gebeure, maar die feit is dat niemand, nie eers die heidene nie, praat van “oorlede” Jesus nie. Hiermee word selfs die mees skeptiese persoon gedwing om te erken dat Jesus lééf, en dat Hy waarlik opgestaan het. Vir ons gelowiges beteken dit nog soveel meer, want dit beteken dat Jesus, soos Hy belowe het, vandag, hier en nou, by ons is!
Gebed:
Dankie, dankie, dankie Jesus, dat U gedoen het soos U belowe het, en dat U nie alleen lewe nie maar ‘n lewende verhouding met ons het.