Handelinge 10:1-23
Al hoe meer gerugte bereik Petrus se ore oor die berugte Saulus, en sy sogenaamde bekering. Uit Damaskus het die berigte gekom dat Saulus daar preek dat die biesies bewe! En dan hoor hy later selfs uit Jerusalem dat Saulus daar by die gelowiges wou aansluit. Die mense was egter baie bang, en niemand wou hom aanvaar nie. Uiteindelik het 'n sekere Barnabas hom oor Saulus ontferm en hom gehelp om in sy geboortestad Tarsus te kom.
Maar nou sit Petrus eintlik met 'n dilemma wat hy nie mooi weet hoe om te hanteer nie. Simon die leerlooier het hom genooi om by hom te kom bly solank hy in Joppe is. Natuurlik soos alle goeie Jode weet, is leerlooiery 'n vuil en onreine besigheid. Omdat ‘n leerlooier met die velle van dooie diere werk en die goed onrein is, werk g'n Godvresende Jood óóit as leerlooier nie want dit maak hom self óók onrein. Dis maar 'n grillerige affêre. Nou moet Petrus by hierdie “onrein” Jood tuisgaan. Dit is maar bitter moeilik, maar hy durf niks vir Simon hieroor sê nie. Ten minste is die man darem ‘n Jood! “Wat moet ek maak, Here?” bid hy radeloos.
Een mooi dag klim Petrus teen twaalfuur die middag die trappe na Simon se dakstoep. Hier bo is dit heerlik rustig en dit kyk uit oor die Middelandse see. Maar dit is nie vir die mooi uitsig wat hy hier is nie – Petrus is hier om in afsondering te bid en met sy Here te gesels, soos wat hy so dikwels vir Jesus sien doen het.
Die heerlike geure van geurige kos, waar die bediendes besig is om middagete voor te berei, bereik later Petrus se neus. Skielik is hy rasend van die honger! Petrus is klaar met sy gebed en hy staan op om te gaan eet.
Dan gebeur die onverklaarbare ding - skielik raak hy in 'n geestesvervoering. Voor sy verdwaasde oë sak daar stadig 'n doek uit die hemel neer, die vier punte na bo, asof dit met 'n tou vasgemaak is. “Wat sou daarin wees?” wonder Petrus hardop. En dan, wanneer die groot doek voor sy voete neerdaal, steier Petrus geskok terug. Hier voor hom is 'n bonte versameling van allerhande soorte diere: skape, beeste, slange, hase, donkies, skilpaaie, skerpioene, varke.
Petrus se mond hang onbeskaamd vol afgryse oop – so 'n mengelmoes het hy nog nóóit in sy lewe gesien nie! “Kom, Petrus, slag en eet.” hoor hy die stem uit die hemel.
Petrus voel skielik die naarheid in hom opwel: “Nog nooit nie, Here!” protesteer hy. “Ek het nog nooit in my hele lewe iets geëet wat besoedel of onrein is nie.”
“Wat God rein gemaak het mag jy nie as onrein beskou nie, Petrus,” hoor hy weer die stem uit die hemel.
Nou is Petrus totaal verward. Wat is dan nou reg en wat verkeerd? Sy hele lewe lank is dit in hom ingedril dat sekere diere rein is en ander onrein. Aan die onreines mag hy sy lippe nie sit nie! En nou kom beveel die Here hom om iets onrein te eet? Nee, Petrus verstaan alwéér gladnie.
'n Tweede keer kom God se opdrag aan Petrus, en weereens weier hy, en ook 'n derde keer. Dan word die doek weer in die hemel opgetrek. En skielik is Petrus gladnie meer honger nie – sy eetlus skoonveld. “Wat sou dit tog alles beteken?” wonder Petrus.
Dan hoor Petrus baie duidelik die stem van die Heilige Gees in hom: “Petrus, daar is drie manne wat jou soek. Gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.”
Dan kom 'n slaaf die trappe opgehardloop, en tref Petrus aan waar hy alreeds op pad is ondertoe: “Meneer Petrus, hier is iemand om u te spreek.”
“Ek weet,” sê Petrus vir die verbaasde slaaf.
Maar Petrus steier nogtans terug wanneer hy die manne sien, want hulle is heidene. Hy ruk homself reg: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”
En dan verduidelik die manne: hulle is van Sesarea af. Hulle baas het hulle gestuur om vir Petrus te kom haal.
“Waarvoor?” wil Petrus weet, “is hy dan siek?”
Nee, siek is hy beslis nie. Hulle baas, Cornelius is 'n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. Hy het die Joodse godsdiens aangeneem en hy is 'n baie Godsdienstige en Godvresende man en hy doen geweldig baie vir die armes onder die Joodse volk.
Vol belangstelling luister Petrus hoe hulle vertel dat hierdie einste Cornelius een middag om drie-uur skielik in 'n geestesvervoering raak. In 'n gesig sien hy helder en duidelik 'n engel voor hom staan, en die engel spreek hom op sy naam aan: “Cornelius!”
Natuurlik het Cornelius baie groot geskrik, en toe hy met 'n bewerige stem vir die engel vra: “Wat is dit, meneer?” toe sê die engel vir hom dat God sy gebede gehoor het en dat hy iemand moet stuur om vir Petrus te gaan haal.
Petrus nooi die drie vriendelik binne en nooi hulle om die nag te kom oorslaap.
Môre sal ons sien of Petrus inderdaad gehoorsaam was aan God se moeilike opdrag.
Gebed:
Here, leer my asseblief gehoorsaamheid aan U, al is dit vir iets wat totaal teen my grein gaan!