2 Timoteus 4:1-5
Om die Woord te verkondig, is nie maar net ‘n opsie vir ‘n Christenleier nie. Dit is ‘n bevel van God!
Dit was winter 1966 en bitter koud in die Vrystaat. Ek was een van die gelukkiges wat ‘n sagte werkie gehad het in die militêre kamp in Betlehem, terwyl my maters almal besig was met ‘n skyn-oorlog by Harrismith. En toe kom die opdrag: hulle het vir my ‘n aflos gereël vir my kantoorwerkie, en ek mag toe ook maar met die volgende Bedford vragmotor na Harrismith vertrek. Ek wou nog protesteer: “Nee, dis nou rêrag nie nodig nie....,” en dan blaf die offisier: “Dis ‘n bevel!” Wie is ek nou om teë te stribbel oor 'n militêre bevel?
Daardie nag slaap ek in die veld onder die sterre. Die koue is onhoudbaar. Vroeër die aand het ek, terwyl ek op patrollie was, in ‘n gat geval waarin daar papvrot pampoene of iets was, en ek is steeds deur-nat. En ek stink! ‘n Lagie ys is besig om oor my slaapsak te vorm, en my bene pyn van die bittere koue. My geweer se ysige loop raak per ongeluk teen my gesig, en ek wil gil van pyn.
Skielik kom die bevel: “Die terroriste het Harrismith ingesypel! Ons moet hulle gaan uithaal!” Vyf minute later sit ek op ‘n oop vragmotor. Die ysige wind sny soos lemmetjies deur my vel, maar ek durf niks sê nie.
Ons val vieruur daardie oggend Harrismith binne, sonder dat ‘n enkele inwoner eers bewus is van die inval. ’n Kort geveg volg. Een van die “terroriste” gooi ’n donderbuis (’n oefen-handgranaat) na my. Dit ontplof by my voete met ‘n oorverdowende slag, en beskadig my gehoor onherstelbaar. Die “terroriste” gee hulleself kort daarna byna sonder verset oor. Nee, nie oor ons so goed was nie, maar die bittere koue was vir hulle net een te veel.
Hierdie operasie was nie pret nie, dit was ‘n pyniging in meer as een opsig! Ek het dit gedoen omdat ek die bevel gekry het. En ek het die bevel nie durf ignoreer nie! Het ek geweier, dan was my voorland ‘n straf wat baie erger was as daardie ou bietjie ontbering.
Elke gelowige kry van God ook ‘n bevel, een om die Woord uit te dra. Daar is groot ooreenkomste tussen daardie bevel en die militêre een, maar ook baie groot verskille. Net soos ek die Majoor se bevel om op die onmoontlikste tyd die dorp te gaan binneval nie durf ignoreer nie, so durf ek ook nie God se bevel om Sy Woord uit te dra, ignoreer nie. En net soos wat daar bitter moeilike tye en pyn en selfs ongevalle betrokke is by die militêre bevel, so is dit ook met die uitvoering van God se bevel. Dit is beslis nie altyd maklik nie, en ‘n mens kan bitter seerkry in die proses. Dit vra van jou volharding, vasbyt en deurdruk. En as die “koue” voel of dit te erg word, moet jy steeds voortgaan. Dikwels vra dit van jou om op ‘n bitter ongeleë tyd die Woord te bedien, selfs soms in die middel van die nag, terwyl ander mense snoesig slaap. Dalk vra dit om jou geselligheid wreed te onderbreek.
Daar is egter ook ‘n paar baie groot verskille: In die eerste plek sal jy nooit uitgevloek word of gestraf word as jy weier nie. God se bevel is nie ‘n verdoemende bevel nie, maar ‘n vriendelike “asseblief” bevel. God se bevel gehoorsaam jy nie uit vrees nie, maar uit liefde. Dit is nie om geestelik te kan oorleef, dat jy dit doen nie, maar omdat jy alreeds geestelike lewe as geskenk gekry het. Jy is dankbaar vir wat die Here alreeds vir jou gedoen het, en nou sal jy alles in jou vermoë doen om God te behaag. Ja, die swaarkry en seerkry is daar, maar jy knyp oë toe en gaan voort, want die doel waarvoor jy werk is ‘n heerlike een.
Dit is nie maar ‘n gejaag na wind en skyngevegte nie. Beslis ook nie oorlogsgeweld waar mense kan sneuwel, wat jou groot doelstelling is nie. Dit is juis om lewe te bring en om vir iemand wat besig is om verlore te gaan ‘n reddingstou te gooi. Met elke mylpaal wat bereik word in jou arbeid, is daar ‘n skare van engele in die hemel wat jubel en juig. Die vyand is boonop nie maar ‘n denkbeeldige een, soos in my diensplig dae by Harrismith nie. Die vyand hier ter sprake is 'n werklikheid, die draak waarvan Johannes in Openbaring skryf, die duiwel sélf! En sy soldate is diegene wat allerhande soorte dwaalleer verkondig en mense probeer verlei na die ewige verdoemenis.
Toe ons daardie dag in Harrismith die “terroriste” finaal verslaan het, het almal gejuig. Toe moes ons gaan kamp oppak en terugry na Betlehem, waar die gewone ou vervelige militêre werk op ons gewag het. Ons het die dae pynlik afgetel na ons uiteindelike ontslag.
O ja, die gelowige jubel en juig óók met elke oorwinning. Maar daarna word die stryd van vooraf aangepak. Die reuse verskil is egter die wonderlike vooruitsig wat ons het. Wanneer die stryd die dag verby is, is dit nie maar net weer terug na die ou meulsteen toe nie. Anderkant “Betlehem” begin die glans van die nuwe Jerusalem alreeds deurslaan. O, ek kan nie wag vir daardie wonderlike, opwindende dag nie! Daardie dag wanneer ek vir Jesus, my Verlosser van aangesig tot aangesig sal sien en by Sy voete sal kan gaan sit. Sal Hy dan vir my kan sê: “Mooi so, my goeie en getroue dienskneg! Jy het getrou gedoen wat Ek van jou gevra het?”
Gebed:
Here, gee asseblief vandag vir my ‘n brandende passie in my hart om U bevel getrou en met volle ywer uit te voer.