Psalm 98
Die engeltjie wat vir 2000 jaar nie gesing het nie
Ek lees ‘n pragtige storietjie geskryf deur PJ Cillié oor twee dogtertjies wat gaan vakansie hou het op Willie se Baai. Terwyl die tweetjies op die strand speel, kom daar ‘n seuntjie aangeloop: “Kan ek saamspeel?” wil hy weet. “Ja, maar wie is jy?” vra die twee nuuskierig.
“Ek is ‘n engeltjie” deel hy hulle ewe ernstig mee. Hulle lag: “Ja, ons twee is ook engeltjies, maar ons ma dink nie juis so nie!”
“Nee rêrag”, sê die outjie, en daarmee draai hy sy rug na hulle en lig sy hemp op. Wat hulle daar sien slaan skoon hulle asempies weg van verbasing - onder sy hemp steek sy twee goue vlerkies uit.
En toe verduidelik hy: tweeduisend jaar gelede was hy deel van die engelekoor wat vir die herders kom sing het naby Betlehem. Hy het so daarvan gehou om hier op die aarde te wees, dat hy besluit het om agter te bly. “Maar moenie bekommerd wees nie”, stel hy hulle gerus, “Dis gladnie so ver na die hemel toe as wat mense dink nie! Dis eintlik sommer baie naby.”
“Dan kan jy seker baie mooi sing?” wil hulle weet. Ja, hy kan nog mooi sing, maar hy mag nie eintlik nie, want sodra hy sing, moet hy dadelik weer terug hemel toe. En dis nogal swaar, want hy hou so baie daarvan om te sing. Hy moet nou al vir tweeduisend jaar lank sy asem ophou.
Daardie aand is daar ‘n kerssang-by-kerslig, en die kinders van Willie se Baai gaan optree. “Wil jy nie asseblief kom saamsing nie?” soebat hulle. As hy tussen die kinders staan en net saggies sing, sal niemand mos weet hy sing nie.
Die engel-seuntjie besluit dat dit dalk kan werk, en daardie aand staan hy tussen die ander kinders. Maar toe hulle begin sing, sweef sy klokhelder stem bo al die kinderstemme uit, en die mooiste sang wat die mense ooit gehoor het vul die saaltjie. Naderhand bly almal stil en luister net na sy hemelse sang. “Nou sal hy moet terug hemel toe!” fluister die meisies geskok vir mekaar, maar die engelseuntjie sing voort.
Skielik word oor Willie se Baai die geruis gehoor van 'n magtige koor wat niemand kan sien nie. Hulle val in by die pragtige stem van die engeltjie en hulle sing 'n lofsang asof die hemel oopgegaan het. Hulle sing: Eer aan God in die hoogste hemele!
Die stemme sterf uiteindelik weg en stilte kom oor die strand. Die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie.
Later gesels die twee meisies met hul ouers. Die engeltjie moes natuurlik weg omdat hy gesing het. Maar hoekom het die koor ook ingeval? Het die dissipline daarbo in duie gestort toe hulle die seuntjie se pragtige sang hoor?
Seker so iets. Maar onthou wat die seuntjie gesê het: dis nie so ver hemel toe soos dit vir mense lyk nie. As die mense maar net kon weet hoe naby dit alles is. En soms - baie selde - val die dun skerms weg en alles gaan oop. Net vir 'n kort rukkie.
Pragtige storietjie, is dit nie?
Loflied oor God se Skepping
Het jy al ‘n dag beleef waar dit voel asof die ganse skepping om jou dit net uitjubel tot eer van God? Ek sit die week en voorberei vir vanoggend se preek. En toe is dit asof die natuur eenvoudig ontplof in lofsang! Voëltjies van alle kleure en soorte het van oral gekom: ‘n Tortelduif, ‘n ringduif, ‘n hele tros papegaaiduiwe en ‘n groenvlekduifie; ‘n visvangertjie, twee houtkappertjies en ‘n hele bondel wewers, blouvinkies, rooibekkies en mossies; bloukuifloeries, vleiloeries, glansspreeus en rooivlerkspreeus. Oral waar ek kyk en luister, was dit net een groot lofsang tot eer van God.
Het jy al ooit die wonderlike voorreg gehad om bo-op die Drakensberge te staan met sonop en duisende meter onder jou die grasgroen heuwellandskap te sien ontvou, deurweef met stroompies en klowe en kranse? Dit voel vir jou asof jy in die hemel is, en asof die engelekoor rondom jou lofliedere sing tot eer van God.
Of het jy dalk al Namakwaland se blomme beleef? Ek het al menigmaal geluister na mense wat opgewonde vertel van die blommetjies wat handeklap! Die asemrowende ewigheid van kleur en geur en onbeskryflike mooi wat jou omvou met hemelse prag en praal. Die veld en die hele landskap jubel en juig om God se lof te besing.
Ja, so kan ek aangaan en aangaan. En wanneer die skepping so lofsing, dan kan ek en jy nie anders as om saam te sing: Op berge en in dale, en oral is my God!
Psalm 98 skryf oor ‘n jubel-dag
Die dag toe die engeltjie na 2000 jaar weer gesing het, was een van daardie jubel-dae, ‘n dag waarop almal die lof van God besing het, selfs die engelekoor uit die hemel.
En die dag waarvan Psalm 98 sing is ook so ‘n dag. Waaroor die geleentheid presies gegaan het, weet ons nie. Ons kan net aflei dat dit ‘n geweldige groot geleentheid was, waar God Homself op ‘n wonderbaarlike wyse openbaar het. Israel móés net eenvoudig opnuut besef hoe groot en getrou God werklik is. Die volk moes ook besef dat God nooit Sy beloftes vergeet nie, en dat Hy groter en magtiger is as enigiets op aarde of in die skepping.
Maar dit is nie alleen die volk Israel wat opgeroep word om saam te juig nie, maar die ganse aarde. Al die nasies moet jubelend die Here prys met lier en trompet en ramshoring. Die ganse skepping moet saam sing tot eer van God.
Ons hoor nie meer die loflied nie
Dit is tog so tragies, dat die natuurlike wêreld dikwels vir die moderne mens, en veral vir die wetenskaplike stil geword het. Ons hoor nie meer die lofdruising van die see nie, en ons hoor nie meer die jubelende, klokhelder fluistering van die aandwindjie nie. Ons hoor nie meer hoe die bergstroompie opgewonde handeklap en die rivier dawerend bruis in ‘n loflied vir God nie.
Maar geloofs-oë kan die skepping sien jubel en geloofs-ore kan die onhoorbare stem van die skepping hoor lofsing. Inderdaad juig die hele skepping saam oor die groot dade van God.
Psalm 98 werk op tot ‘n crescendo
Dit is interessant om te sien hoe Psalm 98 opwerk tot ‘n crescendo. Vers 1 begin met: “Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here” Vers 4 bou op: “Juig tot eer van die Here” dan verder: “wees vrolik, juig en sing!” In vers 5 word daar musiekinstrumente bygegooi: “Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing.” In vers 6 kom die blaasinstrumente by: “Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning.”
In vers 7 val die volle orkes van die natuur in by die loflied: “Die see en alles daarin moet druis, die aarde en alles daarop moet juig, die riviere moet hande klap, die berge moet saam juig voor die Here”
Alles lei na die Koms van Jesus
Maar al hierdie lofliedere en bewondering lei eintlik soos ‘n reuse tregter na een enkele gebeurtenis in die geskiedenis, sekerlik die grootste van alle gebeure: die koms van Jesus!
Profete en Engele
Kyk net hoe bou dit alles op, net soos in Psalm 98. Dit begin in Genesis 3 toe God die eerste belofte aan Eva gegee het, dat daar uit haar nageslag Een (Jesus) sal wees wat die kop van die slang (Satan) sal vermorsel. Dan bou dit geleidelik op deur die Psalms, totdat dit ‘n klimaks bereik wanneer die profete Jesaja, Miga, en Daniël opgewonde die koms van die Messias uitbasuin. Kyk maar net hoe opgewonde is Jesaja wanneer hy vertel van die Kind wat gebore is: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors!”
Dit bou op na ’n nóg groter crescendo wanneer daar op nie minder nie as drie verskillende geleenthede binne ses maande ‘n engel aan mense verskyn. Nie sommer net énige engel nie, maar dié baie belangrike engel Gabriël. Eers aan Sagaria, die pa van Johannes die Doper, en daarna ook aan Maria asook Josef. So ‘n ding gebeur net by baie uitsonderlike geleenthede. Nou is die skepping in gróót afwagting op dít wat uiteindelik moet gebeur.
Johannes die Doper en sterre
En dan hoor ons die geskal van die trompette en ramshorings wanneer Johannes die Doper gebore word. Sy groot taak is om die pad vir die Messias gelyk te maak. Nou wil die ganse skepping tot uitbarsting kom, want die tyd is swaar-swanger vir die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die skepping. Selfs die sterre speel saam, en daar gebeur die wonderlikste dinge in die hemelruim: planete kom staan almal in ‘n reguit ry en die kersie op die koek is wanneer ‘n komeet boonop die pad kom wys na Betlehem!
Die skepping wil ontplof van pure opgewondenheid.
Betlehem en Golgota
Dan gebeur die nag in Betlehem, presies soos wat die profete voorspel het. Eers is dit ‘n engel wat sy woonplek in die hemel verlaat om die skaapwagters gerus te stel en hulle voor te berei op wat sou volg. En dan skeur die ganse hemelruim oop, en ‘n magtige koor van engele tree na vore uit die hemel. Hulle lied weerklink oor die velde van Betlehem, en oopmond van verwondering staan die skaapwagters hierdie onbeskryflike skouspel en gadeslaan. Daar was duisende, dalk selfs miljoene engele in hierdie wonderlike koor. Die asemrowende mooi lied wat hulle sing vul die naglug en reik tot aan die verste uithoeke van die heelal. “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
Nie ver daarvandaan nie, in ‘n stal in Betlehem, vind die wonderwerk plaas: die geboorte van die Seun van God, die Messias, Jesus Christus. Baie belangrike wyses reis vir maande lank uit die Ooste om hierdie gebeurtenis te kom aanskou en om hulde te kom bring aan die Koning van alle konings. En skaapwagters kom val in verwondering neer voor die Verlosser van die wêreld.
Ons mag egter nooit die gebeure in Betlehem losmaak van Golgota, 33 jaar later nie. Kersfees en Paasfees is een groot fees, onlosmaaklik van mekaar. En die goeie nuus is dan ook dat Paasfees die eerste treetjie is na ‘n nóg groter fees as almal saam: die fees van Jesus se wederkoms!
Verlede en toekoms
Psalm 98 wil vir ons die dinge uit die verlede wys waaroor ons kan feesvier en jubel, die groot dade wat God gedoen het. Maar die digter reik terselfdertyd ook uit na die toekoms, na die dag wanneer die Here gaan kom. Daardie wonderlike dag wanneer Hy oor die wêreld sal heers en die Bose vir ewig verban sal wees.
As ons dink dat die engelekoor van Betlehem asemrowend mooi gesing het, dan moet ons onthou dat hulle intussen 2000 jaar gehad het om te kon oefen vir daardie grootste dag van alle tye, die dag van Jesus se wederkoms. Dit is die dag wanneer Hy gaan kom om Sy bruid te kom haal. Ek kan my indink: ‘n hemelgewelf gepak van hoek tot kant met engele met klokhelder stemme, wat die mooiste lied denkbaar sing. O, ek sien so uit na daardie asemrowende dag!
Die wêreld moet hoor
Maar intussen is ek en jy steeds aardsgebonde, leef ons in die wêreld waar korrupsie en misdaad en goddeloosheid seëvier. Ons moet onthou: die wêreld bestaan nie ter wille van die kerk nie! Die kerk bestaan ter wille van die wêreld! Die kerk getuig van God se trou. Daarmee sleur die kerk, ek en jy, só die wêreld mee in lofprysing en eerbetoon.
Ons mag nooit die wêreld uit die oog verloor met Kersfees nie. Ons feesvieringe moet ’n uitnodiging aan die wêreld wees, ’n oproep om saam fees te vier. Die nasies en die skepping word opgeroep. Ja, inderdaad hét hulle ook ’n plek voor God. In Johannes 3:16 sê Jesus dit baie duidelik dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy Seun gestuur het.
In Psalm 98 hoor ons die uitnodiging aan die wêreld. Met ander woorde, ál die mense en álles in die skepping. Almal moet deel in die lof! As ons feesvier voor God, dan verteenwoordig ons as gelowiges die wêreld. Ons lof moet so wees dat die wêreld daarin die uitnodiging hoor om saam te kom sing!
Ons moet altyd ook onthou van die wêreld in ons lof en aanbidding. Want dit help absoluut niks as ons vervul is met liefde, maar ons ignoreer ons medemense en die natuur rondom ons nie. Die geheim van die groter fees lê by God. Hy alléén is God! Die nasies moet dit raaksien en erken. Wanneer ons God loof en aanbid, dít is wanneer hulle kennis neem en God leer ken.
Leef ‘n loflied
‘n Eenvoudige voorbeeld: As gelowige hou ek my eenkant en stil in die werksomgewing. Ek lag nie vir ligsinnige grappies nie en gedra my waardig, soos wat dit ‘n goeie Christen betaam. ‘n Vreemdeling kom ingestap en wil weet: “Wat’s fout met hom?”
“Foeitog, hy is ‘n Christen.” fluister iemand.
‘n Ander scenario: Ek maak géén geheim daarvan dat ek ‘n gelowige is nie. Vriendelikheid en blydskap straal uit my. Ek maak ’n punt daarvan om met almal te gesels en te lag. Ek skerts en maak grappies en wys dat ek die lewe geniet.
“Sjoe, wat is dit met daardie ou?” wil dieselfde vreemdeling weet. “Wat hy ookal het, ek wil dieselfde hê!”
As gelowige wil God ons júís ín die wêreld hê. Maar dan om Sy lof, genade, almag, Sy grootheid te besing, sodat die hele wêreld daarvan sal kennis neem. Ons lewe moet ‘n loflied wees! Al gaan dit soms bitter moeilik, moet ons leuse soos dié van Habakuk wees, wat gesê het, dat al loop alles verkeerd vir my, nogtans sal ek Jubel in die Here! Of soos Paulus en Silas wat die tronk aan die brand gesing het terwyl hulle stukkend geslaan en in kettings vasgeboei gelê het.
As gelowige behoort die hele lewe vir jou en my een groot loflied te wees ter ere van God. Paasfees en Kersfees behoort vir ons maar slegs mylpale te wees waar ons loflied op ‘n crescendo uitloop. Maar die grand finalé kom nog! Op daardie dag sal ons loflied triomfantlik weerklink deur die heelal!
Die dag waarop die engeltjie die eerste keer in tweeduisend jaar gesing het, was só 'n regte Psalm 98 dag. Mag die hele 2019 vir jou en jou mense ook elke dag so 'n regte Psalm-98-dag wees. Mag ons lof die nasies en die skepping meesleur in eerbetoon aan God!