Die Heelal Ontwaak

6 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Heelal Ontwaak

Genesis 1:14-25

Dag vier van die skepping breek met ‘n groot gejuig aan want vandag gaan iets baie opwindend geskep word: die hemelliggame en die sterre!

Teen hierdie tyd wil ons skreeu: “Maar dis ‘n fout! Hulle het mos reeds baie lank voor die aarde ontstaan!”

Nee, dis gladnie ‘n fout nie! Ons het reg aan die begin gesê dat hierdie vertelling gladnie gaan oor die wyse waarop dinge tot stand gekom het nie, maar dat dit ‘n verklaring is wat uitgereik is oor God, die Skepperwese.

Kom laat ek verduidelik: In die antieke tye het van die volkere verskeie dinge aanbid as gode. Dan het hulle ook dikwels daarop aanspraak gemaak dat hulle gode sekere dinge geskep het. So was daar byvoorbeeld die geweldige watermassa wat as ‘n godheid gesien is. Uit hom sou die skepping dan plaasgevind het. Die Egiptenare het die songod Ra aanbid, en dit was ‘n baie belangrike god. So ook die maan.

Met die spesifieke orde waarin God se skepping hier gestel word, wil die skrywer dit baie duidelik maak dat hierdie belangrike sogenaamde gode eers ontstaan het nadat die skepping reeds ver gevorder het. Boonop is hulle almal sélf ook geskep deur die Skeppergod.

Daar is géén ander god buiten die Here nie!

Alle sienlike en onsienlike dinge, hóé groot of magtig hulle ookal mag vertoon, is deur God geskep. Niks hiervan is gode nie! Hulle is almal blote voorwerpe wat in God se skepping ‘n sekere funksie het. Hierdie hemelliggame is dus daar om te dien in die skepping en beslis nie om gedien te word nie. Boonop moet almal besef dat God só magtig is dat Hy lig kan maak sonder dat daar enige ligbronne hoef te wees. En Hy kan plante laat groei, selfs al is daar nie ‘n son om dit te laat fotosinteer nie. God het nie hulp of hulpmiddels nodig om dinge te laat gebeur nie.

Dalk moet ons dit ook in ‘n ander lig beskou. Ons sien vandag die son en ander hemelliggame as die bron van lig. Dit is dan ook waarom die antieke volke hulle aanbid het as gode. Maar eintlik is ons totaal verkeerd, want God is die enigste Bron van Lig. Joh. 1:4 sê dat daar in Jesus lig is wat skyn in die duisternis en nie uitgedoof kan word nie. 1 Joh. 1:5 verklaar dat God lig is. Open. 21 sê dat son en maan oorbodig sal wees omdat die heerlikheid van God oor alles sal skyn. In Joh 8:12 sê Jesus dat Hy die lig vir die wêreld is. Paulus word verblind deur die glans van Jesus by Damaskus.

Hiermee trek God ‘n dik swart streep dwarsdeur die verheerliking van die natuur. Die natuur is deur God geskep vir die gebruik van die mens. Alhoewel dit nie iets heiligs is nie, het ons ‘n verantwoordelikheid om alles wat God geskep het te bestuur na die beste van ons vermoë, want dit is immers Sy eiendom. Ons mag dit dus verantwoordelik gebruik en ondersoek, maar terselfdertyd moet ons dit ook koester en bewaar. Die vraag is, wat ons vandag met hierdie asemrowende skepping van God aanvang? Ons is besig om die aarde te verwoes. Ons het alreeds baie belangrike spesies totaal uitgeroei.

Maar kom ons kom terug by die gebeure op dag vier, die son, maan en sterre. Ek dink nie dat ons mooi aldag besef hoe asemrowend groot hierdie afdeling van die skepping is nie. Ons massiewe groot aarde is maar ‘n ou klein spikkeltjie in ons eie sonnestelsel. Ons is ‘n skamele 8 ligminute oftewel 150 miljoen km. weg van die son af. Neptunis is 4500 miljoen km. weg. En dis kort afstande! Die naaste ster aan ons, buiten die son is meer as 4 ligjare weg. Feitlik al die sterre wat ons kan sien is geleë in slegs een galaksie, die melkweg, met moontlik 400 biljoen sterre. Dit is meer as 100’000 ligjare in deursnee. En dit is slegs een van biljoene ander galaksies waarvan sommige selfs baie groter is. Die verste hemelliggame wat die moderne teleskope kon sien was 14 biljoen ligjare ver.

Is dit nie genoeg om jou asem skoon weg te slaan nie? Maar daar is meer, want sommige geleerdes reken dat ons heelal dalk gladnie alleen is nie, maar dat daar talle soortgelyke heelalle kan bestaan. En God het hulle almal geskep deur slegs ‘n woord te spreek op die vierde dag van die skepping.

Op dag vyf skep God die seediere en die voëls. Hy het reeds op die derde dag die nodige ruimte vir hulle geskep en nou is die aarde gereed om die lewende diere te akkommodeer.

Dag ses breek aan en uiteindelik is alles gereed vir die landdiere in ‘n groot verskeidenheid. Klein en groot, maak Hy hulle. Piepklein muisies en reuse olifante. In die see swem daar mikroskopiese eensellige organismes en reuse walvisse. Elkeen het sy plek.

Hoe lank het hierdie skepping geneem? Niemand weet nie. ‘n Duisend jaar is vir God soos een dag, so leer die Bybel ons. Kon dit duisende, dalk miljoene of selfs biljoene jare geneem het? Ons weet net eenvoudig nie. En is al die diere destyds geskep om vandag presies nog net so te lyk? Of was daar evolusie? Ook oor hierdie vraag wil ek my nie uitlaat nie, bloot omdat alle bewerings wat ons hierop sou maak, suiwer spekulasie sou wees. Al wat ek verséker weet, is dat God geskep het. Hoe en wanneer, weet niemand nie!

Gebed:

Here, ek staan weereens verstom as ek aan U wonderlike skepping dink. U is groot, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026