
Die Groot Kat
Oom Misbolletjie
Nóg 'n Kersfees het gekom en Kersfees het gegaan. Al die kuiermense is huistoe en ek bly stoksiel-moedersalig-alleen agter op die plaas. Doodverveeld? Nog nooit! Daar is té veel om te doen en te ondersoek en daar is té veel plekke wat nog nie ontdek is nie.
Ek besluit dat die rivier my roep en ek loop al in die stroompie kristalhelder fonteinwater af in Schoonspruit se rigting. Ek ril as ek op 'n glibberige rivierpadda trap. Hy spring verkrik met lang spronge onder my voete uit om weg te kom van die groot gevaar. Dis hy en sy maters wat saans so 'n groot kabaal saam met die krieke opskop!
Onderkant die dam loop ek slof-slof deur die modderige vlei en dan gaan maak ek eers weer 'n draai by die ou murasie. En verwonder my aan die netjies-gepakte klipmuur wat na al die eeue nog staande gebly het.
Ek hardloop af tot by die rivier wat bruisend oor die gladde klippe stroom. Soos gewoonlik gaan lê ek eers om die heerlike water behaaglik op te slurp. Op die oorkantste wal groei 'n wilgerboom, een wat Oupa daar geplant het. Sy lang slap, sweeptakke hang tot in die water. Die boom se wortels maak 'n geweefde netwerk op die nat grond waar klein krappies krioel in gaatjies tussen die deurmekaar wortelwoud.
Ek gryp 'n bondel slap takke stewig vas en swaai behaaglik oor die stroom. Heen en weer swaai ek terwyl die wind deur my hare waai. Vir 'n oomblik verbeel ek my ek is Tarzan, die Aapman!
Uit die hoek van my oog sien ek 'n beweging tussen die biesies. Ek laat los die wilgerslierte op presies die regte oomblik en trek met 'n sierlike boog deur die lug en land naby die biesiebos. Naarstigtelik soek ek na die dierasie wat daar geroer het maar dis puur verniet. Wie dit ook al was, het net spoorloos verdwyn.
Ek is teleurgesteld maar baie gou is dit vergete en my gedagtes raak vasgevang in die wonder op die bodem van die poeletjie in die rivier. Spoelklippe skitter in die helder sonlig in al die kleure van die reënboog. Kniediep loop ek in die ysige water en verlustig my aan die kleurewonder.
Gebukkend loop ek stadig stroomop totdat my voete en bene begin pyn van die koue. Dan gaan sit ek op 'n warmgebakte, gladde klip en verkyk my aan die oorvloed van lewe in die stroompie. Daar is die waterhondjies wat soos snelbote heen en weer in sirkels of agtsyfervorms swem en jou dronk maak net om na hulle te kyk. Ek is bang vir hulle want Bongani het gewaarsku dat as jy swem waar hulle is, dan is hulle geneig om jou aan die bors te byt. Dan swel jou tepeltjies op sodat jy borste kry soos 'n vroumens. Dit kan mos 'n katastrofe wees!
Op 'n dun biesie se puntjie sit 'n naaldekoker met byna deurskynende veelkleurige vlerke wat glinster in die sonlig. Elke paar sekondes vlieg hy blitsig af om 'n muggie of iets te vang en kom sit hy weer op presies dieselfde kolletjie.
In 'n klein modderpoeletjie maal 'n bondel swart paddavissies. Kort-kort kom hulle na die oppervlak vir asem.
Op die rivierbodem lê 'n naaldekoker larwe roerloos en wag vir sy prooi om verby te kom. Ek wip soos ek skrik as 'n rivierpadda in 'n boog van die bank af spring en luid in die water plons.
Ek het nou lank genoeg stilgesit en ek stap verder stroomop tot by die brug. Ek verkyk my aan die swaeltjieneste onder die brug sorgvuldig gemessel uit rooi klei. Bokant die brug is daar 'n groterige poel en daar swiep die swaeltjies heen en weer om muggies en ander goggatjies te vang. Hulle lugvaardigheid het my in ekstase. Elke nou en dan swiep een onder die brug in en verdwyn in 'n moddernessie waar ek haar kleintjies luidrugtig kan hoor piep.
Ek besluit om die watervalletjies stroomaf te gaan verken. Ek draf al op die oewer langs tot aan die oosgrens van die plaas waar die eerste van 'n hele reeks klein watervalletjies oor die gladde rotse stort. Onderkant die valletjie, eintlik maar 'n stroomversnelling, is daar 'n groterige waterpoel. Haastig stroop ek my klere af en spring in die ysige water in. Ek hyg na my asem as die koue my soos met 'n voorhamer slaan. Minute later sit ek met my half-gevriesde kaal boudjies op die warm rots om droog te bak in die warm sonnetjie sodat ek baie vinnig van bo én van onder kan warm word.
Ek tel 'n plat klippie op en gooi dit behendig sodat dit drie, vier, vyf keer op die wateroppervlak hop. Wanneer ek droog is, trek ek weer haastig my klere aan en begin om die stroompie verder te verken, elke rots en skeurtjie en poeletjie. In 'n groot boom ontdek ek 'n hadeda se nes. Dit is maar 'n morsige spul gebou van 'n klomp deurmekaar stokkies wat bloot op 'n hoop gegooi is in die mik van die boom. Op hierdie deurmekaarspul sit die kleintjies en maak geraas soos wat net 'n hadeda kan raas!
Hoe verder ek stroomaf gaan, hoe digter raak die plantegroei. Ek raak verlore in my eie gedagtes en fantasieë. Wanneer ek myself kry, is dit al laatmiddag en skielik besef ek dat ek nou baie haastig moet begin huiswaarts keer......
Ek klouter oor rotse en wurm deur bosse en biesies tot by die grens van ons plaas. Teen hierdie tyd is dit al sterk skemer en 'n snaakse vrees begin my hart omklem. Nou moet ek nog verby die ou murasie ook kom en ek wil nie eers dink aan wat daar in die donker aangaan nie.
Ek kruip deur die doringdraad langs die spruit en dan, uit die hoek van my oog sien ek dit: iets wat my stip staan en dophou. Dit begin donker word en ek kan nie mooi sien wat dit is nie maar dit is so groot soos 'n jong kalf. Dit lyk amper soos 'n kat, 'n reuse kat en dit voel asof sy vurige oë my deurboor!
Ek mors nie nog tyd om hierdie ding te probeer ontsyfer nie. In my is daar skielik 'n groot dringendheid om nou dadelik by die huis te kom en ek draai my neus huiswaarts en hardloop so vinnig as wat my twee beentjies my kan dra. Agter my voel ek hoedat die dier se gloeiende oë my deurboor. Ek verbeel my hoe ek sy sagte kussingpote agter my in die skemerdonker in die gras hoor ritsel. Ongemerk hardloop ek sommer dwarsdeur die ou murasie waar die spoke van die verre verlede met grypende, beenderige vingers na my uitreik. Ek dink nie eers aan hulle nie want al wat nou in my gemartelde gedagtes is, is die reuse kat wat sy vlymskerp kloue in my rug wil inslaan. Ek hardloop nóg harder......
Uitasem kom ek by die huis aan en ek storm tot op die voorstoep. “Waar kom jy so laat vandaan? Ons was doodbekommerd oor jou!”
"Pappa, ek het nou net 'n baie snaakse ding by die rivier gesien." vertel ek terwyl ek hyg vir asem. Ek beskryf die groot kat en ek sien hoedat Pa bleek word.
"Kon dit dalk 'n luiperd wees........?" wonder die grootmense. Maar dan besluit hulle dat dit sékerlik maar net my verbeelding was. Ek het gesien wat ek gesien het. Dit was baie beslis nie maar net verbeelding nie.