Die Geloofsheld Val

10 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Geloofsheld Val

Genesis 12:10-20

Ons het Abram leer ken as die wonderlike geloofsheld wie se spoor ons gaan volg. Dit was ‘n groot waagstuk in sy lewe om eers uit Ur te trek, daar waar hy grootgeword het. En toe weer uit die pragtige Haran na ‘n onbekende land. Hy moes sékerlik groot gevare trotseer om God se opdrag uit te voer. Toe hy in die land aankom, is die eerste ding wat hy doen om God daar te aanbid en vir Hom ‘n altaar te bou.

Deur Abram se aksies beoefen hy nie alleen Godsdiens nie, maar hy bely ook sy Godsdiens. Almal wat hom ontmoet sal weet watter God Abram aanbid. Wat meer is: Abram is die instrument om die Koninkryk van God te vestig in die land Kanaän.

Daar kom egter soms ‘n tyd wanneer ‘n gelowige se belydenis en sy belewenis nie so lekker wil sinchroniseer nie. Hierdie is gevaarlike tye, en dan moet jy jou perspektief behou, anders kan jy lelik seerkry. Dit het juis dan ook met Abram gebeur, so kort nadat hy hierdie nuwe land betree het.

Op ‘n dag het Abram begin agterkom dat hierdie nuwe land wat die Here hom gegee het, nie juis die paradys is waarvandaan hy kom nie. Dit het begin droog raak. Die reën het weggebly. Abram het begin bekommerd raak, want sy groot troppe vee gaan daarmee heen wees as die droogte veel langer sou aanhou. Dag-vir-dag sit hy die hemel en dophou, maar daar gebeur niks. Hy bid vir uitkoms, maar die stem van God bly stil. Stadigaan kwyn die groot vertroue wat Abram in God gehad het, en begin hy al verder en verder van God af wegdwaal.

Abram het te doen gekry met ‘n baie aktuele vraag: Kan ‘n leë broodblik met geloof volgemaak word? Abram moes op die harde manier leer dat beloftes nie die hongerpyne kan stil nie. Vir die eerste keer in sy lewe besef Abram nou eers wat dit werklik beteken het toe die Here vir hom gesê het: “Trek uit jou land uit”. Abram het weereens voor ‘n keuse gestaan: gaan hy bly dáár waar die Here hom geplaas het om die Koninkryk te vestig, of gaan hy groener weivelde soek?

Een bloedige, kurkdroë dag kan Abram nie meer nie: “Kom ons pak op. Hier kan ek nie langer bly nie.” En hulle vat hulle goedjies en vertrek na Egipte.

Maar daar was ‘n ou probleempie. Sien, Sarai was nie maar net mooi, soos ons al genoem het nie, sy was beeldskoon. Ja, sy was al ‘n volle 65 jaar oud toe hierdie tog aangepak is, maar Sarai moes haar jare baie goed gedra het, want sy was verleidelik mooi. Soveel so dat Abram net moes kéér elke keer as ‘n man haar sien. En tydens die tog af na Egipte het hierdie ding gevreet aan Abram. “Wat as..... ?” het hy getob. “Sê nou maar net die Farao kry sin in Sarai.....”. Hy skud die gedagte van hom af. Maar nou het hy alreeds goeie teelaarde geskep vir drog-gedagtes. “As die Farao vir Sarai sien, gaan hy my laat elimineer om haar te kry vir sy harem,” maal dit deur sy verwarde kop.

Ou vrou, ek het ‘n plan!” Hy roep vir Sarai nader en hy verduidelik. Sarai se oë raak al hoe groter. “Nee! Jy kan mos nie Abram! Nee, ek sal dit nooit toelaat nie!” Maar stadigaan begin Sarai besef dat as sy nie saamwerk nie, kan haar geliefde man dalk op-eindig as ‘n geraamte op die Nylrivier se bodem. Dalk boonop opgevreet deur krokodille! “Ja goed!” Sy stem huiwerig in. “Ek sal so maak.” Die briljante (!?) plan behels dat Sarai haar voordoen as Abram se suster. Sou Farao dan dalk betower word deur haar skoonheid, sal Abram ten minste nie vir Sy Hoogheid ‘n bedreiging wees nie.

En die plan het gewerk. Dit het gebeur nét soos Abram dit verwag het, en die Farao kon sy oë nie afhou van hierdie mooi vrou nie. Daar word nie vir ons gesê wat alles gebeur het tussen die Farao en Sarai daar in die paleis nie, en ek dink ook nie ek wil weet nie! Maar die man was so in sy noppies met Sarai dat hy vir Abram oorlaai het met allerhande geskenke: kamele, donkies, bokke, skape, beeste.

Maar niemand het rekening gehou met die Here nie. Ja, al het Abram Hom dalk verlaat, het Hy nóóit vir Abram verlaat nie, selfs nie eers toe Abram so hard geval het nie. Hy stuur plae onder die Egiptenare, sodat hulle later moet besef dat hier iets baie bonatuurlik aan die gebeur is. En toe kom Abram met die hele sak patats uit. Hulle kuiertjie is nét daar kortgeknip.

Wanneer ‘n mens die dag ‘n geloofsbesluit neem, dan moet jy van die begin af besef dat jou paadjie nie altyd besaai gaan wees met rose nie. Die ekstase wat jy beleef in diens van God, moet hand-aan-hand gaan met ‘n besef van groot afhanklikheid aan Hom. En dit is veral wanneer dit die dag swaar gaan, wat dit van jou ‘n wilsbesluit kos om te bly vashou aan Sy beloftes. Ek verseker jou, ek kry elke dag hiermee te doen in my lewe, en dit is beslis nie maklik nie. Dit is so maklik om moed te verloor. Maar as jy in volle vertroue jou oog hou op Jesus en vas bly glo aan die dinge wat Hy jou belowe het, sal Hy getrou bly en jou selfs deur die grootste krisis dra.

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag kan weet dat U getrou is, en dat ek maar al my vertroue op U kan stel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026