Habakuk 1:5-11
Habakuk bekla sy lot by die Here oor die verskriklike onreg waarin sy volk verval het. “Here, hoe lank nog?” Sou die Here hom ooit antwoord?
Dikwels ervaar ons dat die Here se antwoord op ons lewensvrae teleurstellend baie verskil van die antwoorde wat ons graag sou wou hê. Ons bid dalk vir rykdom, maar Hy antwoord deur vir ons armoede te gee. Ons bid vir genesing, maar ons gesondheid verswak verder. Ons pleit vir reën, maar die Here antwoord met ‘n verwoestende droogte. Habakuk moes ontdek dat die Here dikwels baie anders gee as waarop jy hoop. Hy sê nie altyd wat ek graag sou wou hoor nie.
Vandag moet ons egter baie duidelik besef: Hy is die Lewende God! Hy is die Een wat die lotgevalle van nasies bepaal. Hy is altyd in volle beheer, al voel dit soms nie vir ons so nie. Die manier waarop Hy werk, kom vir ons as mense dikwels baie vreemd en verrassend voor. Hy kan soms selfs goddelose heidene gebruik om Sy groot doel te bereik! Al wat Hy van my en jou as gelowiges vra, is om in volle geloof steeds aan Hom vas te hou en Hom ten volle te vertrou.
Na Habakuk se ernstige gebed om ‘n uitkoms, kom die Here se antwoord op so ‘n oorweldigende wyse dat die arme ou Habakuk amper van sy stoel af val. “Ek gaan die Galdeërs laat kom!” Habakuk skrik hom byna in ‘n ander geloof in. “Die Galdeërs!?” Die blote gedagte aan hierdie wrede nasie wat Israel al soveel ellende besorg het, laat hom inmekaar krimp van vrees. Hulle het soos ‘n onstuitbare Tsunami-golf eenvoudig oor alles en almal in hulle pad gestoomroller. Hulle het vrees en bewing ingeboesem by elke volk in die bekende wêreld. Hulle was die verpersoonliking van alles wat goddeloos en wreed en harteloos was. En God wil húlle gebruik?
“Here, help ons!” Só kan ons die arme ou Habakuk se noodkreet hoor, maar daar is géén reddingsgordel in sig nie. Al wat Habakuk sien is nóg erger verwoesting en wreedheid. Vir Habakuk het dit sékerlik géén sin gemaak nie. Maar dit is dikwels juis deur hierdie totaal onverstaanbare dinge waarmee God Sy doel bereik met die wêreld en met jou en my. God se stem is beslis nie stil nie. Maar ons hoor Hom praat op ‘n baie ander manier as wat ons verwag.
Diegene wat bekend is met die Laeveld, sal beslis weet van die Salatiwind. Hierdie wind ontstaan uit die noorde, en soos die dag aanstap raak die wind al warmer en droër. Dit verskroei alles in sy pad. Dit voel later asof daar nie meer suurstof in die lug is nie. Jy hyg na asem, en die vurige wind brand jou longe soos ‘n kool vuur elke keer as jy ‘n asemteug vat. Die temperatuur draai by 50 grade en dit dreineer jou van elke stukkie krag. Dit voel asof daar net geen einde in sig is nie. Die arme diere staan maar net lusteloos rond en niksdoen. Dit help nie eers veel om ’n skadukolletjie uit te soek nie, want in die koelte van ’n boom is dit amper warmer as in die vol son. Maar al die Laevelders weet dat hierdie verwoestende wind reën bring, en daarom verdra jy dit. So was die onversadigbare veroweringsdrang van die Galdeërs. Dit was ‘n verwoestende Salatiwind wat alles voor hulle verskroei het. Niks het voor hulle staande gebly nie. Die een volk na die ander het voor hulle geval, totaal verpletter. Van teenstand het hulle ‘n bespotting gemaak.
Hoe ironies dat hierdie volk wat die Here gebruik, Hom gladnie erken nie. “Hulle ken net een wet, een trots, hulle eie.” (Hab. 1:7). En hulle ken net een god: hulle eie mag! (v 11)
Op die oog af lyk dit asof die Here se antwoord nie die probleem waaroor Habakuk oorspronklik gebid het oplos nie, dit vererger dit net! Daar was onreg, en nou stuur die Here totale verwoesting! Dit maak nie sin nie! Die stem van God klink hier vir ons onverklaarbaar vreemd. Soveel so, dat ons dit amper nie as God se stem herken nie. Dit laat ons met baie meer vrae as antwoorde. Waarom laat God al hierdie lyding toe?
Daar is geen goedkoop antwoorde op hierdie soort vrae nie. Ons het immers geen insae in God se groot raadsplan nie. Maar één ding moet ons weet: God is aan die werk in hierdie wêreld en in my en jou lewe. Dit staan vas! Al wat Hy van ons vra is dat ons Sy werk in ons lewe sal erken, en Hom daarin sal vertrou, al is dit dan ook baie anders as wat ons dit graag sou wou hê. As die stormwater my meesleur, mag ek dalk nie daaruit gered word nie. Maar Jesus is elke oomblik langs my in daardie siedende massa, en Hy hou my hand styf vas. Vertrou op Hom! Daardie selfde stormwater mag my dalk wegvoer na onbekende plekke waarvan ek nog nooit eers gedroom het nie.
Habakuk moes leer van ‘n nogtans-geloof. Hy moes leer om op God te bly vertrou, selfs deur die grootste nood. Soms gebruik die Here juis sulke groot nood om ons geloof in Hom te versterk. Moet dus nie moedeloos raak nie - glo net!
Gebed:
Here, die storms van die lewe dreig dikwels om my totaal te verswelg. Help my asseblief sien dat U altyd by my is, en dat ek op U kan vertrou.