Daniël 7:19-28
Na aanleiding van gister se dagstukkie kom die vraag onwillekeurig by jou op, of hierdie visioen dan slegs betrekking het op die geskiedenis van die skrywer se tyd? Dit lyk mos tóg of dit met die eindtye te doene kan hê….. Prof. J L Helberg skryf in sy boek: “Daniël verklaar” dat die boek inderdaad geskryf is met die doel om die wêreldgeskiedenis ten tye van Antiogus IV Epifanes se regering in perspektief te plaas en daarmee te wys dat God in beheer is. Hiermee wil die skrywer sy lesers troos en bemoedig.
Dit is egter tegelyk ook ‘n apokaliptiese boek wat verby die huidige kyk. Ek sal probeer verduidelik: Diegene wat al in die Drakensberge gestap het sal presies weet waarvan ek praat. Jy stap, en die sak is swaar en jou voete seer, en dan sien jy jou bestemming uitsteek reg agter die hoogte hier voor jou. Jy kry sommer nuwe moed, en jy klim hom met oorgawe uit. Wanneer jy bo kom, dan sien jy tot jou konsternasie dat daar nóg ‘n berg tussen jou en die eindpunt is. Later kom jy agter dat daar in werklikheid ‘n hele paar berge voor lê voordat jy daar kom. So is profetiese perspektief: die profeet sien en beskryf die gebeure asof dit net agter die bultjie is, maar hy kyk in werklikheid verby ’n hele paar bergreekse wat nog tussenin lê!
Gister het ons gesien dat Daniël nie tevrede is met die beknopte uitleg wat die engel hom gee nie, en hy vra uit: “Nou wat beteken hierdie vierde dier nou éintlik?” Hierdie monster was anders as al die ander en hy was buitengewoon skrikwekkend - daardie ystertande en bronskloue is beslis genoeg om enigeen koue rillings te gee! En dan is daar al daardie horings op sy kop, en veral die grootbek een wat aanmekaar net wil oorlog maak teen die gelowiges.
Die engel moet nou mooi verduidelik, en hy vertel van ‘n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan - ‘n koninkryk wat alles sal platvee en vertrap voor hom en die ganse wêreld inpalm. Hy vertel van tien konings wat die een na die ander sal regeer. Maar dan kom daardie laaste koning wat Godslasterlik sal optree en die gelowiges probeer vernietig.
Hier word gesinspeel op Antiogus IV Epifanes. Vir die gelowiges het dit gelyk asof hy ten volle in sy doel sou slaag om die gelowiges totaal uit te roei. Maar wat hy nie kan of wil besef nie, is dat God regeer. Wat hy nóóit sou erken nie, is dat hy slegs op die troon was omdat God hom daar toegelaat het. Sy doppie was egter geklink, want God was op die punt om in te gryp en die oordeel oor hom te voltrek. Daar is nie ‘n “miskien” by betrokke nie: God het ‘n bepaalde tyd vir hom toegelaat - en sy tyd loop uit.
Kom ons kyk nou ‘n bietjie in perspektief na hierdie visioen: Ons kan dit kortliks opsom deur te sê dat die skrikwekkende wêreldryke uiteindelik vervang word deur die ryk van die Ware Mens en sy gelowiges. Die verbondsvolk het die eindtyd betree met die Babiloniese ballingskap. Die wêreldryke tree op uit eie beweging en krag, oftewel so wil dit lyk! In werklikheid is dit egter alles alreeds vasgelê in God se groter plan. Uiteindelik sal Sy gelowiges heerskappy voer.
Hierdie wêreldryke het iets skrikwekkend dierlik in hulle, maar steeds maak God bemoeienis met hulle, en daar gaan ‘n oproep uit om bekering. Soms werk dit - so het ons gesien hoedat konings tot inkeer kom wanneer Daniël God se Woord vir hulle uitlê. En natuurlik maak God gebruik van gelowiges soos Daniël en sy vriende om Sy boodskap oor te dra. Uiteindelik, aan die einde van die tyd, raak die wêreldryk só goddeloos, dat die gelowiges op die punt staan om totaal uitgeroei te word. Dit is dán wat God ingryp en Iemand stuur - Iemand wat doen wat geen gewone mens kan doen nie. Hierdie Iemand is ‘n “hemelse Wese”, maar ook terselfdertyd ‘n mens. Hy neem die heerskappy oor, en laat die gelowiges daarin deel!
Vir die gelowiges van daardie tyd was daar slegs enkele jare oor (profeties gesproke) voordat die Verlosser sou kom. Hulle het dus in die eindtyd van die Ou Bedeling geleef, en die afwagting na Jesus se koms was groot.
Vandag leef ons ook in die eindtyd, want die wederkoms van Jesus is nou baie naby. Ons sien dieselfde dinge gebeur wat in Daniël se visoen voorkom, van wêreldheersers wat totaal goddeloos leef en die gelowiges probeer verslind. Maar soos in Daniël se tyd, weet ons dat God die eintlike Regeerder is, en dat hulle slegs regeer omdat Hy dit toelaat. Hulle doppie is egter geklink, want die oordeel van God wag op hulle!
Gebed:
Here, U regeer! Al die lof en dank en aanbidding kom U alleen toe, want U is Koning oor alles en almal!