Die Bruilofsfees

23 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Bruilofsfees

Matteus 22:1-14

Na Jesus se harde gesprek met die Joodse leiers, kry ons Hom weer hier by ‘n klomp mense wat aan Sy lippe hang. O, hoe wonderlik moes dit nie wees om te kon insit by een van Jesus se leer-sessies nie! Elke woord wat Hy gesê het, kon jy indrink soos ‘n dorstige spons.

By hierdie geleentheid vertel Jesus vir die mense ‘n storie oor ‘n bruilof. Ons moet onthou dat Jesus hier in die laaste paar dae van Sy lewe as “gewone” mens op aarde verkeer. Die ergste van alles is dat Hy geweet het presies wat op Hom wag. Nogtans gaan Hy voort asof daar absoluut niks is nie, en vertel stories vir Sy hoorders. Maar hierdie is beslis nie maar sommer net stories nie. Hierdie vertellings is propvol simboliek, en die idee is dat die mense nie alleen daaruit iets leer nie. Die doel is dat hulle ernstig moet reageer op die boodskap wat daarin vasgevang is. Dit geld nie alleen vir die direkte hoorders nie, maar nog steeds nét soveel só vir jou en my vandag, 2000 jaar later. Boonop maak die blote feit dat Hy hierdie stories vertel het terwyl Hy so bitter min tyd oorgehad het, dit van uiterste belang dat ons dit ter harte sal neem.

Jesus vertel van ‘n koning wat ‘n verruklike bruilofsfees vir sy seun voorberei het, maar die genooide gaste het hulle nie daaraan gesteur nie. Sommige het selfs sy boodskappers vermoor! Natuurlik was dit ‘n reuse belediging vir die koning, en hulle straf vir so ‘n klap in die gesig was verskriklik.

Toe laat maak die koning vir hom ander gaste bymekaar uit die strate. Sy slawe moes sommer enigeen wat hulle in die hande kon kry, uitnooi en daar was ‘n reuse fees. Almal by die fees was egter nie daar met goeie bedoelings nie: een kêrel het geweier om feesklere te dra, en sodoende sy hulde te bewys. Dit was sommer pure slegte maniere! Hy is hardhandig uitgesmyt!

Natuurlik het hierdie storie in die eerste plek direk te make met Israel. God het Sy slawe, die profete na die genooide gaste, Israel en veral die Joodse leiers gestuur. Hulle moes kom deel in die groot bruilofsfees van Jesus, Sy Seun. Deur die eeue is die profete mishandel. Die laaste profeet, Johannes, is geminag en wreedaardig doodgemaak. Dit was ‘n klap in die gesig van God, toe veral die kerkleiers Jesus, die Bruidegom hardnekkig verwerp het. Hulle het Hom daardie selfde week nog vermoor ten spyte van al Sy mooi pogings om hulle vertroue te wen.

God se reaksie is, heel regverdig, ‘n verskriklike straf vir almal wat Hom verwerp het. Die wonderlike vreugdeklanke wat egter hier opstyg, verdwerg absoluut die straf. Nou kry al die ander wat nooit kon deel in so ‘n wonderlike vreugdefees nie, die geleentheid om deel te kan wees. Hy begin met eenvoudige vissermanne en gehate tollenaars, en uiteindelik brei dit uit na verwerpte Samaritane en heidene. Ja, daar was selfs ’n vrou met ’n reputasie wat behóórlik gestink het en ’n ander wat egbreuk gepleeg het en so byna-byna met klippe doodgegooi is. Wat ‘n wonderlike geleentheid is dit nie wat God skielik hier aanbied aan elkeen wat wil kom, maak nie saak wie of wat jy is nie. Die vreugdevure brand hoog.

Maar alles is nie heeltemal pluis nie. Ten spyte van God se opreg-goeie bedoelings is daar iemand teenwoordig met oneerlike bedoelings. Alhoewel hy by die bruilofsfees is, neem hy nie deel nie. Hy wys openlik sy misnoë deur nie sy bruilofsklere aan te trek nie.

Hierdie insident sê vir ons dat om deel te hê aan God se Koninkryk, beteken dat jy nie alleen maar passief daarin kan val en bly lê sonder om iets te doen nie. As uitgenooide het jy ‘n verantwoordelikheid om aktief deel te neem aan die fees. Dissipelskap eis volle lojaliteit sowel as inspanning, met ander woorde dinge soos dade van liefde en barmhartigheid.

Inderdaad kry ek daagliks te doen met gelowiges sonder bruilofsklere, mense wat maar net saamry op die gemeentetrein. Hulle is altyd gereed met kritiek of om met ‘n bakhand te staan, maar hulle weier om hulle gewig in te gooi en aktief in te skakel by gemeentebedrywighede. Die kerk is slegs daar om hulle te bedien! Trek aan jou bruilofsklere! Word deel van die groot fees!

Die laaste sinnetjie kan baie ontstellend wees: baie is geroep maar min is uitverkies. Hoe moet ons dit verstaan? Beteken dit dat ons hard moet werk aan ons eie redding? Beteken dit dat ‘n gelowige gedurig onder ‘n wolk van onsekerheid moet leef?

Inderdaad nie! Wat wel hier baie belangrik is, is dat God se bewaring nie ons eie inspanning uitsluit nie. Dit moet met ander woorde vir ons dien as ‘n aansporing om te volhard. Daar is ‘n nou paralelle band tussen Goddelike uitverkiesing en menslike verantwoordelikheid. Hierdie is ‘n band wat nie logies deursigtig is nie. Hier gaan dit beslis nie om verlossings-onsekerheid, waar jy jou gedurig aan God moet bewys nie. Dit gaan egter oor die egtheid van jou dissipelskap. As jy ‘n ware dissipel is, sal jy vreugde vind in die teenwoordigheid van die Seun op die bruilofsfees. Jy wys dit deur “bruilofsklere” aan te trek. Dit behels ‘n lewe van reg doen en lewe volgens die riglyne in die Woord.

Gebed:

Dankie Hemelse Vader, dat ek mag deel in hierdie wonderlike bruilofsfees van U Seun, Jesus. Gee my die ywer om my vreugde daadwerklik te kan uitleef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026