Markus 5:1-20
Steeds bewend van die verskriklike storm, het die dissipels saam met Jesus aan die oorkant van die meer aangekom. Nou was hulle nie meer in Joodse gebied nie, maar in die land van die Geraseners. Hier was alles anders, en hier het ander godsdienstige wette gegeld. Skaars het hulle voet aan wal gesit, of hier kom groot moeilikheid aangehardloop in die vorm van ‘n besete man. Toe die manne daardie wilde oë sien, het hulle gewens dat hulle maar liewer in die storm agtergebly het. Die demoniese magte wat hierdie man se lewe oorgeneem het, het hom so sterk soos ‘n bees gemaak. Kettings kon hom nie in toom hou nie. Hy het hulle soos garingdraadjies gebreek! Die mense van Gerasa wou hierdie wilde man nie naby hulle hê nie, dus moes hy homself maar tuismaak tussen die grafte. Vir die Jode was ‘n begraafplaas natuurlik ‘n onrein plek. Só erg was die arme man se besetenheid, dat hy homself met klippe gekap het.
Toe hulle skuit in Gerasa land, het die besetene onmiddellik vir Jesus herken. Hy het tot by Hom gehardloop en voor Jesus se voete neergeval, terwyl die demone in hom geskreeu het om genade: “Los my uit, Jesus, Seun van die Allerhoogste God! Ek besweer U by God, moet my nie pynig nie!”
“Wat is jou naam?”
“My naam is Legioen, want ons is baie!” Die naam hou verband met ‘n Romeinse legioen, ‘n afdeling van tussen 3000 en 6000 soldate. Hierdie arme man het dus in die kloue van die duiwel verval. Die onrein geeste, oftewel demone, was werktuie van die duiwel, en ‘n oormag van hulle het hierdie man se lewe oorheers. Toe hulle vir Jesus sien, het hulle dadelik besef dat hulle géén kans gehad het teen Hom nie, en daarom smeek hulle om genade. “Moet ons asseblief nie uit die landstreek wegstuur nie!” In Gerasa het hulle gefloreer, want hier was God nie aanbid nie omdat die inwoners natuurlik heidene was.
Jesus se mag word in hierdie verhaal baie duidelik uitgebeeld, want hier sien ons hoe die demone, wat absoluut hulle mag misbruik het en volle beheer gehad het oor hierdie sterk man, skielik besef het dat hulle absoluut magteloos gestaan het voor die saggeaarde Jesus.
Jesus staan die demone se versoek toe, en hulle word in ‘n trop van 2000 varke wat daar naby staan en wei het, ingestuur. Die varke het op loop gesit teen ’n berghang af, en in die see gestort en versuip. Die veewagters het hulle in ‘n ander geloof in geskrik, en so vinnig as wat hulle beentjies hulle kon dra, gehardloop. Bewend van angs het hulle so ver hulle gegaan het geskreeu: “Die allerverskriklikste ding het met ons gebeur!” Oral het hulle vertel van wat met die besetene gebeur het en dat sy duiwels almal uitgedryf is en dat hulle trop varke daarmee heen is!
Later het ‘n afvaardiging uit die dorp na Jesus gekom en Hom vriendelik, dog dringend gevra om asseblieftog terug te gaan na waar Hy vandaan gekom het. Hulle het Hom beslis nie nodig gehad in hulle lewens nie, want Hy het hulle te veel gekos! Weereens het Jesus hulle versoek toegestaan. Hy en die manne het in die skuit geklim en teruggevaar na die oorkant van die meer.
En die besetene? Skielik was hy verlos van die verskriklike jarelange oorheersing van die Bose. Hy was vry! Maar hoe kon hy dan hier bly waar almal hom geken het as die “mal man?” Hy wou saam met sy Verlosser gaan om Hom te dien en elke dag by Hom te wees. “Ek gaan saam met U, Here,” het hy aangedring toe Jesus in die skuit klim. Maar dan kom die verrassende antwoord: “Nee!” Jesus het die versoeke van die duiwels en die heidene toegestaan, maar iemand wat Hom wou volg, ‘n baie edel versoek, dié het Hy geweier! “Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het.”
Hy moes vir al die mense van sy landstreek die goeie nuus van Jesus gaan vertel. In só ‘n heidense land was dit ‘n reuse taak! Die een oomblik was hy nog ‘n duiwelsbesetene en die volgende oomblik ‘n evangelis! Die man het sy taak met volle oorgawe uitgevoer! Markus vertel dat hy regdeur die hele Dekapolis (tien stede) gaan vertel het van Jesus. En almal was verbaas daaroor!
Hierdie taak van hom was nie om dowe neute nie. ‘n Paar jaar later, toe die Christene wreed vervolg is in Jerusalem, het baie van hulle juis na die Dekapolis streek gevlug en daar was hulle met ope arms ontvang, suiwer as gevolg van hierdie eks-besetene se getuienis.
Wat beteken hierdie verhaal vir ons as gelowiges vandag? Is dit ‘n resep vir die uitdryf van duiwels? Allermins! Die hoofsaak is die verwondering oor Jesus, die Seun van God. Jesus se almag word hier weereens gedemonstreer, wanneer selfs die bose magteloos staan teenoor Hom. Jesus het vandag steeds volle mag om mense te bevry van die oorheersing van die duiwel en sy bose magte. Wat ‘n wonderlike voorreg om vandag daardie selfde Jesus aan my sy te mag hê!
Maar dan moet ons ook uit die verhaal leer, dat ons edele versoeke nie altyd toegestaan word nie. Die rede is dat God vir ons dalk ‘n baie groter doel voor oë het, en soos die besetene die voorbereiding moes doen om die Christen-vlugtelinge beskerming te gee, so het Hy dalk ook vir ons ‘n groot taak. Wees dus gehoorsaam wanneer Hy daardie dag vir jou ‘n taak gee. Derdens kan ons leer dat selfs ‘n baie nuwe gelowige kan getuig. As hierdie pasbekeerde heiden dit kon doen, kan ek en jy ook!
Gebed:
Here, maak my asseblief gehoorsaam om te doen wat U van my vra - maak my gewillig om die taak wat U my gee, uit te voer.