1 Timoteus 3:1-13
Die leraar kan nie ‘n gemeente alleen hanteer nie. Paulus het dit baie duidelik gewys in die voorafgaande teksgedeeltes met sy eie lewe dat, alhoewel hy uiters bekwaam was, hy nie kon bekostig om ‘n outokraat (alleenleier) te wees nie. Nog minder kan enige ander dominee of pastoor dit vandag doen. Leierspligte en dienspligte móét net eenvoudig gedeel word met ander bekwame persone in die gemeente.
In hierdie perikoop gesels Paulus júis oor hierdie medeleiers, die ouderlinge en diakens. Op hierdie mense se skouers rus ‘n baie belangrike en verantwoordelike taak, en daarom moet hulle karakter van so ‘n aard wees dat hulle daardie taak met welslae kan uitvoer. Ons sien baie duidelik dat dit nie sommer enige Jan Rap en sy maat is wat kwalifiseer nie, want hierdie mense moet nie alleen ‘n taak verrig nie, maar ook ‘n voorbeeld stel vir die ander gemeentelede. Hoe dikwels hoor ‘n mens: “Ou Piet het só en só gemaak, en hy is nogal ‘n ouderling in die kerk!”
Om effektief as ‘n leier te kan optree in ‘n gemeente, moet jy eers kan bewys dat jy ‘n effektiewe leier is in jou huisgesin. Daar word oral in die Bybel baie sterk nadruk gelê op die geweldige belangrikheid van die regte soort leiding in die gesin. Daar is ook tragiese voorbeelde van groot leiers wat misluk het in hulle gesinne, en die gevolge kan jy sien in hulle groter leierskap. Dawid was hier so ‘n goeie (of is dit slegte!) voorbeeld. Met sy seuns kon hy nie huishou nie, en hy het die verhouding en dissipline totaal verwaarloos. Die gevolg was ‘n bloedige burgeroorlog, en Dawid moes vlug vir sy lewe. Die hele volk Israel is in wanorde, ellende en bloed gedompel omdat Dawid nie sy gesin behoorlik kon lei nie.
Die gesin is die leerskool vir enige leier. Daar leer jy om die regte soort besluite te maak. Dit is ook die primêre plek waar jy leer hoe om jou woede te hanteer. As ‘n kind ‘n onnosel ding doen, en jy gee hom in ‘n woedebui sommer ‘n dwarsklap, is die kanse baie goed dat jy ‘n onbesonne ding sal doen as iemand in spitsverkeer ‘n dom ding doen. Dit is waar padwoede tot uiting kom. Voordat jy nie geleer het om sulke dinge op ‘n kalm, nugter en wyse manier in jou eie gesin te hanteer nie, sal jy nie in die bose wêreld daar buite die pyp rook nie. ‘n Gemeente is ‘n uiters komplekse “gesin,” waar daar nie net ‘n eggenoot en twee kindertjies betrokke is nie, maar ‘n skare van mense met uiteenlopende karakters en geite. Daar is dit soveel moeiliker om nugter en wys op dinge te reageer.
Om leiding te kan neem is egter maar net die begin. Goeie leierskap help absoluut niks as ‘n Christenleier se karakter verrot is nie. Hitler was ‘n uiters bekwame en charismatiese leier, maar sy karakter was so vrot dat hy die hele wêreld in die gemors gedompel het. Paulus se voorskrif aan Timoteus oor ouderlinge is dat hulle karakter “onberispelik” moet wees. Net om seker te maak dat Timoteus goed verstaan, spel hy uit presies wat hy bedoel met so ‘n onberispelike karakter. Drankmisbruik en geldgierigheid diskwalifiseer hom onmiddellik, en vir ’n rusiemaker is daar nie plek in so ’n leierspan nie. Verstandigheid en nugterheid is eienskappe wat op elke Christenleier se CV moet staan. Daarby kom beskaafdheid, gasvryheid en vredeliewendheid.
Dit is ook belangrik dat ‘n nuweling in die geloof nie sommer in die diep kant ingesmyt word nie, want dit neem tyd om ‘n vaste geloof te vestig. Versoekinge kan so ‘n persoon maklik laat struikel.
Wat vir ouderlinge geld, geld net so ook vir diakens. Hulle is by uitstek die organiseerders van die liefdesgemeenskap in die gemeente, en een van hulle belangrikste take is om toe te sien dat niemand deur enige gebrek of omstandigheid ly of van ‘n gemeente vervreem word nie. As jy ooit gedink het dat ‘n diaken slegs ‘n kollektant is wat die gemeente se offergawes gaan insamel, dan is jy verkeerd. Die diaken se taak is veel groter, en hy moet dit met groot deernis uitvoer. Die moderne tendens is dat die ouderling en diaken se taak gekombineer word, met ‘n ander benaming
Uit vers 11 kan ons dalk aflei dat vroue ook in die amp van diaken gedien het in Efese. Indien dit wél so was, dan was dit ‘n reuse stap op die geloofspad, veral as ons dink aan die lot van die vrou waarvan ons in die vorige dagstukkie gelees het.
Wanneer ons hierdie gedeelte lees, kan ons nie anders nie as om na ons eie lewe te kyk. As ek as ouderling of diaken dien in ‘n gemeente, moet ek ‘n slag baie krities introspeksie doen in die lig van wat Paulus hier sê. Voldoen ek aan al die vereistes? Is my lewensstyl onberispelik? Is ek vredeliewend, of soek ek dalk net ‘n kans om iemand uit te trap? Lê ek nugterheid en verstandigheid aan die dag wanneer ek besluite moet neem in die gemeente? Is ek bereid om inskiklik te wees? Om die minste te wees? Hanteer ek my leierskap met deernis en selfopoffering? Dra ek ander se belange op die hart, of gaan dit slegs om my eie eer en status? Hierdie is ‘n baie belangrike saak wat elkeen van ons biddend moet benader.
Gebed:
Here, as ouderling skiet ek so bitter ver tekort. Alleen U hulp en krag en leiding kan my in hierdie amp dra.