Daniël 6:11-19
Daar is twee soorte mense wat in die openbaar hulle godsdiens bedryf: die een is die Fariseër waarvan Jesus vertel het - die een wat op die straathoeke gaan staan en bid het met ‘n kleurvolle woordeskat. Dit het hy gedoen sodat almal kon sien dat hy so ‘n wonderlike gelowige is. Hy het die bewondering van baie verbygangers gekry en sy ego is gestreel. Die meeste van ons is egter te vrekbang dat iemand ons sien bid en ons kruip liewers weg. Maar dan is daar die Daniëls van die lewe, wat aangaan om hulle ding te doen - maak nie saak wat enigeen van hulle dink nie. Ek ken ‘n paar sulke mense - hulle is yl gesaai!
Daniël het gehoor van koning Darius se dekreet. Sy reaksie? Sou hy liewers maar ondergronds gaan? Nee, hy gaan bid daar waar hy dit elke dag doen - in sy bokamer! Hy maak die versters oop en kyk uit in die rigting van sy geliefde Jerusalem, en dan praat hy met God. En dit is dan ook net daar waar die ringkoppe hom vastrek, want hulle het gewéét. Onaangekondig storm hulle sy kamer binne en skend sy privaatheid: “Hét jou!”
Op ‘n drafstappie is hulle af na die koning se paleis - baie in hulle noppies met wat hulle vermag het. Hulle val dan ook sommer met die deur in die huis en herinner vir Darius aan sy dekreet en dat hy moet besef dat so ‘n dekreet so nimmer as te nooit verander kan word nie.
Darius voel sommer al klaar kriewelrig, want hierdie klomp voer iets baie onheiligs in die mou! Baie saaklik antwoord hy die spul amptenare: “Ja, dit staan vas! Dis ‘n onherroeplike wet van die Mediërs en Perse.”
Dis presies nét wat die spul aasvoëls wil hê. Baie selfvoldaan gooi hulle hulle kaarte op die tafel: ‘n vol-huis skoppensboere! “Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie! Hy bid nog driekeer ‘n dag tot sy eie God.”
Darius word yskoud as hy besef: “So dís wat die spul skelms die hele tyd beplan het. En ek, Darius het pens en pootjies binne-in die strik getrap!” Nou is Darius kniediep in gróót moeilikheid! Hierdie Daniël is vir hom goud werd! Hy kan mos nie sommer só van hom ontslae raak nie? Sy plan was nog om hom aan te stel as premier oor die koninkryk. Wat gaan hy maak? Hoe gaan hy uit hierdie verskriklike taai tameletjie kom?
Hy stuur die klomp huistoe en hy dink. Hy dink diékant toe en dááikant toe, maar hoe harder hy probeer dink, hoe groter lyk sy dilemma. Hy het sélf hierdie dekreet uitgevaardig, en dit maak dit nog soveel erger! Niemand kan dit verander nie - nie eers hyself nie! Daardie nag probeer Darius nie eers slaap nie - hy worstel heel nag lank met die probleem. Hy loop op en af, maar daar is net eenvoudig géén oplossing nie!
Die son kruip skaars die volgende oggend oor die horison, of die spul ringkoppe storm alweer sy paleis binne. “Wat is dit nóú weer?”, wil hy vererg weet.
Baie subtiel laat die spul konkelaars hom mooi verstaan dat hy in ‘n skaakmat posisie is - daar is nêrens uitkomkans nie!
Darius besef dat hy ‘n gevangene is van sy eie besluit. “Ja goed”, sug hy verwese, “Smyt hom in die leeukuil!”
Voordat hulle egter die veroordeelde daar wegvat, roep Darius eers vir Daniël nader. Ja, hulle kan hom dalk keer om sy besluit te verander, maar hierdie spul kan hom beslis nie keer om eers vir Daniël voorspoed toe te wens nie. “Daniël, jou God wat jy voortdurend dien, mag Hy jou red.” hoor ons vir Darius saggies sê.
Gaan Daniël deur die leeus opgevreet word? Of sal God ingryp en hom red? Vir daardie antwoord moet ons eers wag, want die verteller wil eers nóg ‘n paar details invoeg, en so die spanning laat opbou. Daniël word in die reuse put met uitgehongerde leeus gegooi, en die opening word met ‘n groot klip bedek sodat niks en niemand daar kan uitkom nie - nie die leeus nie, en baie beslis ook nie Daniël nie! Die amptenare dring daarop aan dat Darius se seël op die klip moet kom. Die opening kry ‘n stuk gesmelte was op en daarop word Darius se seëlring sowel as een van die amptenare s’n afgedruk, net om dóódseker te maak dat niemand hier kom peuter nie.
Nou is Daniël se lot beseël. Niks en niemand kan enigiets vir sy saligheid doen nie. Baie tevrede met hulleself is die amptenare huistoe - van Daniël sal daar nie eers ‘n stukkie vel oorbly nie! Maar die koning beleef ‘n slapelose nag. Daardie ding van Daniël ontstel hom só dat hy nie kan eet of slaap nie. In angs sit hy en wag dat die tyd en die nag moet omgaan.
Elke keer as ek Daniël se verhaal lees, is dit vir my vars en nuut. Dit is asof ek net nie genoeg daarvan kan kry nie - die wonderlike manier wat God met mense omgaan. Is die Bybel vir jou nog ‘n vars avontuur? Gee dit jou nog ‘n tinteling in jou are wanneer jy dit lees? Ek daag jou vanoggend uit om met nuwe oë na God se Woord te kyk, en dit te verslind soos wat jy daardie interessante storieboek verslind. Laat die Heilige Gees toe om die Bybel vir jou lewendig te maak - die lewende Woord van God.
As jy dalk iets meer wil weet oor ‘n leeukuil uit daardie tyd, klik gerus op: chl.co.za/leeukuil
Gebed:
Here, dankie vir U Woord wat na soveel duisende jare steeds vars en nuut is!