Daniël 7:1-18
Die eerste, verhalende deel van Daniël is verby, en nou kom ons by sy visioene. Dit is interessant dat Daniël die koning se drome uitgelê het, maar dat hy iemand anders (’n engel) nodig gehad het om sy eie drome te verklaar. Daniël se eerste droom kom nogal baie ooreen met dié van Nebukadnesar, met die verskil dat die koning oor ‘n standbeeld gedroom het, en Daniël oor diere. Die simboliek is egter dieselfde.
Ek lees vanoggend die verklaring wat die Bybellennium gee vir hierdie gedeelte, en dit was vir my nogal baie interessant. Volgens hierdie boek moet ‘n mens die skrywer en die verteller van hierdie visioen nie met mekaar verwar nie, want dan sal jy nie verstaan waaroor dit gaan nie. Soos ons vroeër reeds gemeld het, is die boek geskryf sowat 300 jaar nadat Daniël geleef het. Daniël het dit dus beslis nie self geskryf nie.
Die skrywer van die boek maak gebruik van Daniël as hoofkarakter en laat hom visioene beleef om ’n spesifieke boodsakp aan sy lesers oor te dra. Hy vertel dit asof dit hy sélf is wat hierdie visioene beleef. Op hierdie manier kruip die skrywer as’t ware weg agter Daniël. Die fokuspunt van die visioene is gedurende die tyd van Antiogus IV Epifanes, wat regeer het vanaf 175-164 vC., en hy laat Daniël vertel van die gebeure wat hy (die skrywer) en sy lesers beleef het gedurende hulle leeftyd. Die lesers bekyk dus in werklikheid deur die oë van Daniël na die geskiedenis wat hulle besig was om te beleef. Dis ‘n briljante verteltegniek om die aandag van die lesers vas te vang, en dit was dan ook ‘n gewilde verteltegniek van skrywers van apokaliptiese werke. Sou ‘n mens nie dalk geskok kon sê “Maar dan het die skrywer mos gelieg!” nie? Allermins! Jesus het ‘n soortgelyke tegniek gebruik met Sy gelykenisse om sekere waarhede tuis te bring. So gebruik hierdie skrywer die visioene om sy tydgenote te bemoedig en vir hulle hoop te gee.
Die skrywer meld hier van Koning Belsasar. Hy was egter nooit werklik koning van die Babiloniese ryk nie. Hy het slegs vir ‘n kort rukkie namens sy pa, Nabonidus in Babel regeer.
Die visioen wat hier beskryf word, bestaan uit drie duidelike bedrywe. Eers sien Daniël vier diere wat uit die see opkom. Daarna sien hy ‘n hofsitting wat plaasvind en in die laaste bedryf sien hy ‘n persoon wat op die wolke aankom en tot koning gekroon word.
Daniël se visioen begin met ‘n stormwind wat oor die see waai. Die wind kom uit vier rigtings - amper soos ‘n reuse warrelwind wat die see as’t ware omkook in ‘n maalkolk. Dan kom daar vier diere uit die woeste see te voorskyn. Die eerste dier was iets amper soos ‘n leeu met vlerke. Die tweede was ‘n beer met drie ribbes in sy bek. Die derde dier was ‘n luiperd met vier vlerke en vier koppe en laastens kom daar ‘n verskriklike monster uit die see. Dit is juis die vierde dier wat al die aandag trek. Sy voorkoms is iets wat onbekend is, maar hy boesem baie ontsag in. Hy is skrikwekkend, vreesaanjaend en verskriklik sterk. Hy het ystertande en hy verslind en vermorsel alles wat voorkom. Enigiets wat nog oorbly na sy plundertog, trap hy eenvoudig plat soos ‘n stoomroller. Op hierdie dier se kop sien Daniël tien horings. Maar dan groei daar ‘n klein horinkie tussen hulle uit. Om plek te maak vir die horinkie, word drie van die horings uitgepluk. Hierdie horing het ‘n mond en oë, en hy raak allerhande verwaande dinge kwyt!
In die tweede bedryf word daar trone opgestel, want daar gaan ‘n hofsitting plaasvind. ‘n “Oue van Dae” (God) neem stelling in as Hoofregter. Daniël beskryf Hom as Iemand wat geweldige groot gesag inboesem – spierwit kleed; troon van vuur; rivier van vuur voor Hom; derduisende tot Sy diens ens. Boekrolle word oopgerol en die regbank neem sy plek in.
Intussen het die horinkie ‘n vreeslike kabaal opgeskop en weer allerhande verwaande dinge kwytgeraak. Dan word die vierde dier doodgemaak en sy liggaam word verbrand. Die ander diere se heerskappy beëindig, maar hulle word nie nou al doodgemaak nie…
Dan kom die derde bedryf, en hier sien Daniël iemand in die wolke aankom en na God toe gaan. Hy ontvang ewigdurende heerskappy, eer en onvernietigbare koningskap. Alle volke, tale en nasies dien hom!
Nou is Daniël baie ontsteld, want hy verstaan gladnie waaroor al hierdie dinge gaan nie. Dan stap hy na een van die engele op die toneel, en dié verduidelik mooi vir Daniël. Sy verduideliking is baie kort en kragtig: Die vier diere verteenwoordig vier koninkryke. Die persoon wat op die wolke gekom het, verteenwoordig die “heiliges van die Allerhoogste” wat uiteindelik sal triomfeer. Hulle sal heerskappy ontvang en dit vir ewig besit.
Daniël is steeds nie tevrede met hierdie kort verklaring nie en hy vra verder uit, veral oor die vierde dier. Daaroor gesels ons DV more verder.
Dalk moet ek net hier noem van watter vier koninkryke hier gepraat word. Die leeu is die Babiloniese Ryk; die beer die Ryk van die Mediërs; die luiperd dié van die Perse en die vierde dier, die monster is die Grieks-Masedoniese Ryk.
Gebed:
Here, dankie vir die troos wat ek ook kan kry uit hierdie verhaal - dat U ingryp, selfs in die mees ontstellende situasies!