Handelinge 23:6-11
Terwyl Paulus voor die Joodse Raad is, noem hy die hoëpriester 'n “witgepleisterde graf.” Hy het nie besef dat dit die hoëpriester was nie. Dit is interessant dat Jesus óók per geleentheid die Fariseërs witgepleisterde grafte genoem het!
Hierdie uitlating van Paulus het hom nou egter die gramskap van die Raad op die hals gehaal. Hulle laat nie iemand hulle hoëpriester só beledig nie! Nou moet Paulus baie vinnig dink om homself uit hierdie gemors te wurm.
Eers vra hy mooi om verskoning en verduidelik dat hy nie geweet het nie. En sommer in dieselfde asem vertel hy dat hy 'n gerespekteerde Fariseër is uit 'n hele familie van Fariseërs. “En ek word eintlik vandag verhoor omdat ek vas glo dat daar 'n opstanding uit die dood is!”
Hierdie is 'n baie slinkse skuif van Paulus, al lyk dit op die oog af baie onskuldig. Paulus weet baie goed dat die Joodse Raad saamgestel is uit Fariseërs sowel as Sadduseërs. En hierdie twee groepe glo nie eenders oor die hiernamaals nie. Die Fariseërs glo dat daar lewe is na die dood, en dit is een van die redes waarom hulle die wet so nougeset nakom, om die ewige lewe te kan verwerf.
Die Sadduseërs aan die ander kant, glo nie dat daar lewe na die dood is nie. Jy leef eenmaal en tydens daardie lewe moet jy God voluit dien. Wanneer jy egter die dag jou oë toemaak is alles vir jou verby vir ewig. Hulle beweer selfs dat daar nie sulke dinge soos engele of geeste bestaan nie. (Nou wonder ek hoe hulle dan hulle Bybel gelees het? Wat van die talle beskrywings van engele in die Ou Testament?)
Deur hierdie opmerking te maak, gooi Paulus nou 'n baie sensitiewe klip in die bos en sommer dadelik begin 'n hewige stryery losbreek tussen die twee groepe. En Paulus? Hy glimlag in sy mou! Eintlik het Paulus die waarheid so 'n effentjies verdraai toe hy vertel het dat hy so 'n groot Fariseër is, want in sy brief aan die Filippense skryf hy later dat sy Fariseërskap eintlik vir hom waardeloos is.
In die debat tussen die Fariseërs en die Sadduseërs word daar oor en weer verwyte geslinger. Dis eintlik 'n lagwekkende situasie want die Fariseërs begin later vir Paulus kant kies. Hulle erken selfs dat “Iemand” wél aan Paulus verskyn het op die pad na Damaskus en met hom gepraat het. Hulle erken nou wel nie dat dit Jesus was nie maar dit kon dalk 'n engel of die gees van die een of ander afgestorwe heilige gewees het!
“Ons het niks teen hierdie man nie!” verdedig hulle naderhand vir Paulus. En diep in sy binneste skater Paulus dit uit van die lag: hy het bereik presies wat hy wou bereik!
Kommandant Klaudius Lisius kyk hierdie woedende spul hoogwaardigheidsbekleërs grootoog aan en hy raak baie bang. Sê nou net die spul skeur vir Paulus uitmekaar, dan sit hy vandag met 'n gróót gemors op sy hande. Dus beveel hy sy soldate om Paulus te red en terug te neem na die kaserne.
Daardie nag, terwyl Paulus rustig in sy bed lê in die veiligheid van die kaserne, gebeur daar 'n ding met hom waarvan enige gelowige maar net kan droom: Vir die derde keer in sy lewe verskyn Jesus aan hom. “Hou moed!” vertroos Jesus hom. “Hier in Jerusalem het jy vir my getuig. So moet jy in Rome óók doen.”
Paulus se hart klop woes in sy borskas. Het hy reg gehoor? Rome?! Hoe lank droom hy nie al daaroor om na Rome te kan gaan om daar in die hartjie van Sodom en Gomorra vir die Here te kan getuig nie! En hier kry hy die belofte uit die mond van Jesus persoonlik dat hy na Rome gaan. Paulus is só opgewonde dat hy die hele nag nie 'n oog kan toemaak nie. “Dankie Here, Dankie, dankie, dankie,” prewel hy en dan begin hy sommer spontaan sing, nes hy en liewe ou Silas dit gedoen het daardie nag in die tronk in Filippi:
“Ek wil die Here prys!
Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is!
Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God!”
Paulus leer vir ons as gelowiges vandag om strategies te dink. Jy moet jou kop gebruik wanneer jy die blye boodskap van Jesus wil uitdra. Partymaal vra die situasie van ons om die waarheid luid en onverskrokke uit te basuin. Ander kere weer in doodse stilte. Persone wat uitreik na lande waar dit verbode is om die Evangelie uit te dra, “plant” dikwels die boodskap deur 'n koevert met die Evangelieboodskap op 'n tuinbankie of 'n ander strategiese plek te “vergeet”. Die regte persoon sal dit wél optel en lees en dan is die saad gesaai! Op hierdie wyse het talle mense al tot geloof gekom.
Soms is dit selfs reg om onenigheid te saai soos wat Paulus gedoen het. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om 'n totaal omstrede ding te sê wanneer ek saam met ander gelowiges is. Dit lok gewoonlik 'n hewige bespreking uit en laat mense dink oor wat waarlik reg is.
Gebed:
Here, leer my asseblief om slim te wees wanneer ek die Evangelie uitdra. Gee my wysheid om die regte strategie te gebruik!