Bossies en Blomme

4 July, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bossies en Blomme

Matteus 13:24-30 & 13:36-43

VIDEO | OUDIO

Ek wil myself nie as ‘n tuinier van formaat beskou nie, want groen vingers het ek nou nie juis nie. Boonop laat my besige lewe nou ook nie rêrag toe dat ek veel tyd in die tuin spandeer nie. Maar in die goeie ou dae toe ek nog my eie huis gehad het en tyd op hande gehad het, was dit vir my baie lekker om myself so af en toe in Ballito se rooi sandgrond in te begewe en dan sien jy net stof spat! En ek kon spog met nogal ‘n mooi tuin, maar ek moet haastig bysê dat dit nou nie alles net mý slimmigheid was wat die tuin so mooi gemaak het nie. Die lof moet eintlik gaan aan ‘n kreatiewe jong Zoeloe kêrel genaamd Andrew, wat Saterdae kom arbei het in my tuin en sy kreatiwiteit mildelik ingewerk het.

Een ding wat ek nog nooit met groot sukses kon regkry nie is om blomme en veral groente van saad af te kweek. Moontlik het ek nie genoeg geduld daarvoor nie. Maar so af en toe sien ek ‘n pakkie blomsaad met ‘n prentjie voorop wat so verruklik en aantreklik lyk dat ek dit net eenvoudig móét koop. So koop ek toe eendag, pas nadat Andrew vir my begin werk het, ‘n pakkie met die allerfraaiste blommetjies op die voorblad. Ek het ‘n paar spaar minute gehad en ek kry oorhaastig ‘n lappie grond reg, werk kompos en kunsmis in en ek saai die saadjies. En ek wag. Ek was opgewonde oor my handewerk en met groot verwagting het ek uitgesien na kleurvolle blomme tussen die vaal struike. Uiteindelik het die eerste blommetjies hulle koppies begin uitsteek bo die grond. My stoutste verwagtinge was oortref, want vir een keer in my lewe het ál my saadjies opgekom! Ek was oorstelp van vreugde.

Twee weke het verbygegaan en my blommetjies het al te pragtig gegroei, maar vir dié van julle wat Natal ken, sal weet dat bossies hier beslis baie beter groei as blomme en weldra was die bedding oorgroei van bossies. G’n probleem nie, want Saterdag is Andrew mos hier, en hy het mos al geweet dat bossies die eerste prioriteit in my tuin was.

En so daag Andrew daardie Saterdag op met ‘n lied in die hart en ‘n missie om van bossies kleingeld te maak. Ek het elders baie besig geraak en dit was eers laatmiddag toe ek ‘n draai in die tuin kon maak. Andrew se taak vir die dag was afgehandel en hy het van oor tot oor geglimlag toe hy sy handewerk aanskou. Ek het óók aanskou en ek was met afgryse vervul! Daardie oggend nog het my blommetjies wat ek met soveel moeite en liefde gesaai het nog vrolik vir my geglimlag, wel tussen ‘n spul bossies maar hulle was steeds daar! Nou het daar net ‘n pynlik-netjiese kaal bedding sonder ‘n enkele bossie gestaan. En óók sonder ‘n enkele blomplantjie. Andrew het nooit besef dat daardie plantjies veronderstel was om blomme te wees nie!

Ek was bitter ongelukkig en die arme Andrew was asvaal geskrik. Hoe moes hy dan ook weet? Die blomme en bossies lyk dan presies eenders wanneer hulle klein is!

Ons het by ‘n vorige geleentheid gesien dat jy jou nie totaal van die wêreld kan afsonder nie. As gelowige skuur jy gedurig skouers met ongelowiges en heidene van enige soort. Hier in KwaZulu-Natal is dit dalk meer so as enige ander plek want Hindoes, Moslems en allerhande Oosterse gelowe is hier aan die orde van die dag. Wanneer jy egter in die kerk kom, bevind jy jou tussen gelowiges. Of doen jy werklik? Inderdaad is almal wat kerktoe gaan nie gelowiges nie! Sommige kerkgangers sit maar net daardie masker van geloof op vir ‘n verskeidenheid van redes. Ek het al dikwels gehoor dat iemand sê dat ons die kerk moet suiwer van al hierdie skyngeloof. Ek weet selfs van gemeentes waar dit werklik gebeur het. Ek het sélf al voorgestel dat al die onbetrokke lidmate verwyder word van ons gemeente se lys. Ek kon al my tong afbyt dat ek ooit so ’n ding kon voorstel!

Is die kerk dan net vir gelowiges? Inderdaad is die kerk, oftewel die gemeente die plek waar gelowiges geestelik gevoed, gebrei en opgelei word om hulle plek in die Koninkryk te kan volstaan. Maar is dit nie juis ook die plek waar ongelowiges die Woord kan hoor en Jesus se pleidooi om na Hom te kom kan hoor nie? As al die ongelowiges in die kerk “uitgeroei” word, gaan daar beslis ‘n paar gelowiges ook sneuwel wat swak staan in die geloof. Maar terselfdertyd gaan ‘n paar ongelowiges dalk van hulle laaste kans om die ewige lewe te kan smaak, ontneem word!

Natuurlik mag ons nooit aanvaar dat dit maar reg is dat baie van ons mede-gemeentelede lou of ongelowig is nie, en dit moet ons juis aanspoor om daardie mense te motiveer om bruikbaar vir die Koninkryk te word.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026