Inleiding tot Openbaring
Openbaring Gee Hoop! So kan ons sekerlik hierdie laaste boek in die Bybel opsom. Inderdaad is dit die mees omstrede boek in die Bybel, en baie mense vermy dit totaal. Dit is só propvol geheimsinnige simboliek, en meeste mense is bang dat hulle deurmekaar gaan raak. Ander weer, wil allerhande sensasionele interpretasies gee oor toekomstige gebeure wat hulle in hierdie boek raaklees. My oupa het Openbaring in ons ou Hollandse Familiebybel skoon stukkend gelees! Hierdie Bybelboek het hom diep aangegryp.
Hoe dit ookal sy: Openbaring het deur die eeue heen gedien as ‘n wonderlike inspirasie vir menige kunstenaars. Dink maar aan daardie asemrowende komposisie van Händel, Die Messias, wat keer op keer trane in my oë bring as ek luister na die talle aangrypende liedere in die werk. Dink maar net aan die aangrypende Hallelujakoor en “Surely, He hath borne our griefs”. Michelangelo het nét soveel inspirasie uit Openbaring geput toe hy die “Laaste Oordeel” in die Sistynse kapel geskilder het.
Wat sê Openbaring vandag vir die moderne gelowige? Dit is inderdaad ‘n boek van hoop, maar terselfdertyd ook van vermaning. Dit sê vir ons dat God regeer en steeds in beheer bly, al lyk dit dikwels so verskriklik duister. Openbaring bied vir ons gerusstelling, en gee nuwe sin aan ons lewe. Verder reik Openbaring terug na die offer van die Lam in die verlede, en met dieselfde asem reik dit uit na die toekoms, die wederkoms van Jesus. Openbaring hou ons gelowiges ook op ons tone. En soos reuse rampe soos byvoorbeeld die verskriklike aardbewings en tsoenami’s en selfs ons huidige Kovid 19 krisis die ganse wêreld geskud het, so wil Openbaring ons na God ruk. In Sy hand is die geskiedenis van die wêreld soos klei, en ons kan alleen tot Hóm ons toevlug neem. Uit Openbaring sien ons dat die geskiedenis nuwe betekenis kry.
Die outeur noem homself “Johannes”, wat beteken dat dit die Apostel Johannes, of dalk Johannes van Patmos kon wees. Hieroor is nie konsensus nie. Vir praktiese doeleindes neem ons aan dat dit wél die Apostel was. Hy noem Openbaring ‘n profetiese boek in 1:3. Dit is egter eerder ‘n onthullingsgeskrif of apokalips. Hy skryf hierdie boek terwyl hy in Klein-Asië is, ongeveer in die jaar 95 nC.
Die eerste lesers van die boek is die sewe gemeentes in Klein-Asië. Op daardie stadium het hulle geweldige vervolging ervaar onder die Romeine. Christene is beskou as ateïste omdat hulle geweier het om die ander gode te vereer. Dit sou glo die harmonie versteur tussen die mense en die gode, en natuurrampe tot gevolg hê as hulle nie die ander gode aanbid nie. Boonop was die keiserverering en vrugbaarheidskultusse in gedrang, en die Romeine was nie gelukkig nie!
Hoe moet ons Openbaring verstaan? Daar is verskeie maniere om na hierdie boek te kyk. Om Openbaring te kan verstaan hoef jy nie elke klein detail te verklaar nie, maar jy moet die groot kontoere van God se boodskap volg. Sommige mense wil Openbaring woord-vir-woord letterlik verklaar. Soos dat die nuwe stad, Jerusalem, letterlik uit die hemel sal neerdaal, en dat daar slegs 144’000 mense in die hemel kan wees. In ander kringe word alles in Openbaring weer vergeestelik, en agter elke beskrywing ‘n dieper geestelike betekenis gesoek. Ander wil aan Openbaring ‘n historiese karakter gee, ‘n bloudruk vir die geskiedenis van die verlede sowel as die toekoms. Inderdaad is die historiese faset in Openbaring baie belangrik, maar dit is baie meer as net ‘n geskiedenishandleiding.
Om Openbaring werklik te kan verstaan moet ons eerstens besef dat dit ‘n apokaliptiese dramatiese vertelling is met ‘n profeties-eskatologiese gerigtheid. Dit beteken dat dit rekening hou met huidige sowel as toekomstige gebeure, maar gelowiges ook bemoedig en oproep om te glo, veral in moeilike omstandighede. Die kerk verteenwoordig die heerskappy van God op grond van die offer en die oorwinning van die Lam (Jesus). Openbaring is propvol simboliek en beeldspraak, en ons moet dit binne die kontoere van die boodskap lees en verstaan, dat God Sy heerskappy op aarde vestig.
In die voorwoord (1:1-3) sien ons dat hierdie boek ‘n openbaring of bekendmaking is. Meer nog: hierdie is ‘n Goddelike bekendmaking, en die boek het dus Goddelike gesag. Dit word verder beklemtoon deur die verskillende fases van die oorlewering: God gee die openbaring aan Jesus Christus wat Sy engel stuur om dit aan Johannes bekend te maak en aan die sewe gemeentes as ontvangers.
Ek wil jou nou uitnooi om saam met my vir die volgende maand of twee ‘n ontdekkingsreis te onderneem deur hierdie wonderlike boek van God se openbaringe aan Johannes.
Gebed:
Here, maak asseblief my hart en oë en verstand oop, sodat ek die wonderlike boodskap wat U vir my deur die boek Openbaring wil gee ter harte kan neem.