Belasting?

9 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Belasting?

Lukas 20:20-26

VIDEO OUDIO

Die afgelope week se verkiesing het net weereens gewys hoe ons verhouding teenoor die regering lyk. Inderdaad ‘n netelige kwessie! Net die blote noem van die naam van daardie instansie maak meeste van ons al warm onder die boordjie. Baie van die ouens wat hierdie oordenking vanoggend iewers in die buiteland kry, is júís daar waar hulle is juis omdat hulle dit nie meer met hierdie regering kon uithou nie!

In die tyd toe hierdie Evangelie sy ontstaan gehad het, was dit nou nie juis makliker nie. Die ergste van alles was dat jy nie eers kon wegvlug oorsee as dinge totaal onhoudbaar vir jou raak nie, want die Romeinse regering het die ganse wêreld regeer! Waar jy ookal gaan is die keiser steeds jou baas, of jy daarvan hou of nie! Vir die Jode was dit nog soveel erger want deur die eeue was die land regeer deur gelowige Jode soos hulle geliefde koning Dawid. Daar was wel lelike af-tye waar Goddelose konings geheers het, maar ten minste was hulle steeds Jode! Maar nou was die keiser wat geheers het vanuit Rome ‘n totale heiden wat nie eers hulle taal kon praat nie. In plaas van die God wat hulle geken en gedien het, het hierdie keiser en sy ganse regering vreemde gode aanbid waarvan hulle nog nie eers gehoor het nie!

Ek dink die arme Jode moes baie swaar gehad het. Waar jy ookal gegaan het, was daar die alewige Romeinse soldate wat elke beweging van jou dopgehou het. Hulle kon jou selfs dwing om hulle te help of om hulle bagasie te dra. Durf jy jou net teësit, dan was dit tiekits met jou! Boonop was daar al die vreemde kulture wat hierdie heidene die land ingevoer het om die geestelike en kulturele waardes waarmee die Jode oor eeue mee saamgeleef het te vergiftig. Die ergste van alles was dat die Jode swaar belasting moes betaal, gedeeltelik juis om hierdie strukture wat hulle so gehaat het in stand te hou. Boonop het hulle swaarverdiende ou geldjies daarvoor gesorg dat die keiser in absolute luuksheid kon leef terwyl hulle moes krepeer van die ellende!

Teen hierdie agtergrond het die Fariseërs ‘n paar stroopgesig manne na Jesus gestuur. Hulle het gemaak asof hulle baie eerlik was met hulle vraag aan Hom oor belasting, maar eintlik was hulle enigste agenda om Hom vas te trek! Eers het hulle vir Jesus met ‘n baie stroperige heuningkwas bygekom en gemaak asof Hy in hulle oë so ‘n wonderlike Rabbi was. Dit is so ironies dat al die lofsange wat hulle Jesus toegedig het absoluut waar was! Die tragiese is dat hulle nie ‘n enkele woord daarvan bedoel het nie. Na al die lofsange vra hulle Hom of dit reg is van ‘n gelowige Jood om nog steeds belasting te betaal aan daardie goddelose keiser?

Hierdie was ‘n baie lelike strik waarop Jesus beslis nie net “ja” of “nee” kon antwoord nie. Sou Hy “ja” sê, dat jy maar moes betaal, dan sou Sy aanhangers aansienlik krimp, want niemand het ooghare gehad vir die keiser nie. Sou Hy egter “nee” sê, dan was Hy in groot moeilikheid by die Romeine. Maar hierdie slim manne het beslis nie rekening gehou met Jesus nie, en die manier wat Hy die uiters plofbare situasie hanteer het kan nie anders as briljant beskryf word nie. Hy het hulle vir ‘n muntstuk gevra, en iemand hetn Romeinse silwer dinarius te voorskyn gebring. Op die muntstuk was die keiser se kop afgebeeld. “Wie is dit daardie?”, wou Jesus van hulle weet. Natuurlik moes hulle erken dat die keiser lewensgroot op die muntstuk pryk. Dit was nou nie juis dat hulle gehou het van wat hulle daar gesien het nie!

Nou ja,” het Jesus vir die klomp huigelaars gesê, “gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort!” Maar daar het Hy nie geëindig nie want daar wasn uiters belangrike deel wat moes bykom. “En gee aan God wat aan God behoort!”

Hierdie strikstellers wou dit nie openlik erken nie, maar Jesus se antwoord het selfs vir húlle verwonderd gelaat.

Ja, daar het jy dit!” word ons gedwing om te sê wanneer ons hierdie gedeelte lees. “’n Mens moet maar doen wat jou regering sê, al hou jy nie daarvan nie!”

Uit verskeie uitsprake in die Nuwe Testament is dit duidelik dat gelowiges nie anders kan as om aan die regering sy deel te gee nie!

Maar wat dan nou as hierdie regering korrup en heidens is? Ons moet onthou dat die regering daar is omdat God dit toegelaat het. Dit beteken nie alleen die betaal van belasting nie, maar ook om die nodige eer te gee, al is dit ook hóé moeilik.

Ons vergeet egter gerieflikheidshalwe die tweede deel van Jesus se uitspraak, naamlik om aan God te gee wat Hóm toekom. Ja, moontlik gee ons Hom baie dank, eer en aanbidding, maar Hy vra ook van ons opoffering. Hy vra dat ons ‘n bietjie van die tyd wat Hy ons gegee het moet afstaan vir Sy diens. Hy vra ons om ‘n bietjie van die geld wat Hy ons gegee het op te offer vir ‘n saak wat Hy ons op die hart lê. Hy vra ons om lief te hê en ons harte oop te maak vir ander mense in nood. Hy vra ons om wêreldse plesier op te offer en van die sonde weg te hardloop. Kom ons gee Hom vandag wat Hom toekom.

Gebed:

Here, ek staan baie skuldig voor U, want ek gee nie aan U wat ek moet nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026