2 Timoteus 2:8,9
In alles in die lewe moet daar ‘n goeie balans wees. As die balans versteur word, dan het jy probleme. Gaan kyk maar na die natuur hoe balans werk, en hoe ‘n mens die hele kaboel kan omvergooi as jy begin peuter. ‘n Voorbeeld hiervan is my liefling vakansiedorp, Marloth Park. In die TV program 50/50 is daar eenmaal ontstellende beeldmateriaal vertoon van diere wat in die dorp op hope gevrek het tydens die groot droogte van 2008. Dit was die direkte gevolg van ‘n wanbalans in die natuur, ‘n wanbalans deur mense veroorsaak. Omdat die gebied totaal omhein is, kon diere nie meer in en uit beweeg soos wat hulle al die jare gedoen het nie. Boonop was die roofdiere, wat veronderstel was om hulle getalle in toom te hou, verwyder omdat hulle ‘n gevaar vir die mense geword het. Die dieregetalle het gevolglik oor ’n tydperk geweldig toegeneem, en gans te veel geword vir die kos in die veld. In die somer, as kos volop is, gaan dit goed, maar sodra daar ‘n droogte kom, is daar nie genoeg vir almal nie. In 2008 het dit tragies geëindig, en dit sal weer en weer gebeur as daar nie ingegryp word nie.
In die geloofswêreld moet daar op dieselfde wyse ook ‘n baie fyn balans gehandhaaf word. So byvoorbeeld moet my geestelike lewe altyd Godgerig wees, maar terselfdertyd ook mensgerig. In Jesus se opsomming van die Wet, het hy beklemtoon dat jy liefde vir God sowel as jou medemens moet hê. Verwaarloos jy een, dan is daar ‘n wanbalans. Mense wat hulleself byvoorbeeld in ‘n klooster opsluit om slegs met God te doene te hê, en totaal van die sondige wêreld te ontsnap, beteken niks vir die Koninkryk nie. ’n Gelowige moet met ander woorde nie so hemels-gebonde wees dat hy geen aardse nut het nie! Die ander uiterste is ewe waar: ‘n humanitêre lewensuitkyk, waar alles vir mense gedoen word, en waar God nie ‘n plek het nie, is nét so sinneloos.
In vers 8 beklemtoon Paulus ‘n ander balans: “Onthou altyd,” begin hy sy sin, en dan verduidelik hy van Jesus se menslike natuur. Hy is ‘n nakomeling van Dawid, dus 'n Mens. Ons moet besef dat Jesus nie alleen die verhewe God is nie, maar dat Hy ook ‘n ware menslike natuur het. Dit is deel van die belydenis van die kerk van Christus van die vroegste eeue af. Dis is baie belangrik, want om vir ons sondes te kon betaal moes Hy waarlik mens gewees het. Aan die ander kant moes Hy ook waarlik God wees om die toorn van God oor die sonde te kon dra.
Om ‘n balans daar te stel, beteken dikwels totale teenstrydighede. Om byvoorbeeld te sorg dat diere in die natuur oorleef, moet sommige doodgemaak word. Om ‘n sinvolle geestelike lewe te hê, beteken dat jy noodwendig die sondige wêreld moet aandurf. Paulus praat so in vers 9 van verdere teenstrydighede. Hy vertel dat hy in boeie is soos ‘n misdadiger ter wille van die vryheid van die Evangelie. Dit maak nie sin nie! Maar Paulus verduidelik: “Die Woord van God kan nie geboei word nie.”
Ek dink nie dat Paulus eers náástenby die implikasies van sy eie woorde besef het nie! As ons maar gaan kyk watter gevolge Paulus se aanhouding alles gehad het, dan staan jy verstom. In Hand. 16:25-34 lees ons die verhaal van waar hy en Silas in Filippi geslaan en in die tronk opgesluit is. Die gevolg was dat die tronkbewaarder en sy gesin tot bekering gekom het. In Filippense 4:22 lees ons dat, toe hy in Rome in die tronk opgesluit was, die mense in die keiser se paleis wat daar met hom in aanraking gekom het tot bekering gekom het. In sy brief aan Filemon sien ons hoedat ‘n misdadiger, 'n gedroste slaaf ontluik in ‘n nuttige wedergebore Christen nadat hy met Paulus in die tronk te doene gekry het.
Die grootste wonderwerk sou egter nog kom, want omdat Paulus skielik beperk was in sy bewegings, en hy nie meer persoonlik by gemeentes kon uitkom nie, was hy gedwing om deur briewe met hulle te gesels. Baie van die briewe het bewaar gebly. Sedertdien het tweeduisend jaar reeds verloop. Gedurende hierdie tydperk is baie miljoene mense alreeds keer op keer aangeraak en tot bekering gelei deur daardie einste briewe wat Paulus geskryf het.
God werk dikwels deur skynbare teenstrydighede sodat die wonderkarakter van Sy groot, groot genade vir mense duidelik kan word. Ek het al dikwels die argument gehoor, dat die Evangelie nie logies is nie, want hoe kan ‘n God van liefde dan Sy eie Seun laat doodmaak? God se genade is júis nie logies nie, maar totaal onlogies, want hoe kan dit dan logies wees dat God vir iemand wat Sy vyand is, uit die modderpoel van sonde haal en van hom Sy kind maak? Wat het ek en jy gedoen om óóit God se genade te verdien?
Op dieselfde wyse is daar dikwels ook teenstrydighede in die Christenleier se bediening. Wat vir ons logies lyk is dikwels nie wat God se wil is nie, en dikwels vra ons die vraag: “Waarom, Here?” Al wat Hy vra is dat ons in volle toewyding doen wat Hy van ons vra om te doen, al lyk dit totaal onlogies. Op watter wyse God ons getuienis wil gebruik, moet ons maar aan Hom oorlaat. Hy weet immers die beste!
Gebed:
Here, leer my asseblief om op U besluit te vertrou, al lyk dit soms vir my gladnie logies nie.