Efesiërs 6:5-9
Ons is steeds besig met verhoudinge – dié in die huwelik, dié tussen ouers en kinders en nou kom ons by arbeidsverhoudinge.
Die volgende verhoudingssituasie wat Paulus aanspreek, is dié tussen baas en slaaf. Slawerny was daardie jare ‘n integrale deel van die gemeenskap. Dis tóg interessant dat Paulus dit nooit eers probeer veroordeel nie want dit sou net moeilikheid beteken. Dit was in elkgeval iets wat al vir baie duisende jare ‘n integrale deel was van die samelewing. Inderdaad was wettige slawerny tot redelik onlangs toe nog ‘n algemene praktyk. Selfs ons eie Suid-Afrikaanse geskiedenis word gekenmerk deur slawe-arbeid en talle Suid-Afrikaners is vandag afstammelinge van slawe.
Slawe was “eiendom” sonder enige regte. Die eienaar van ‘n slaaf kon dus met hom maak wat hy wou. Hy was nie verplig om hom enige vergoeding te gee nie. Hy was egter moreel (nie wetlik nie) verplig om sy slaaf goed te versorg. Hy was dus ‘n gevangene wat wetlik op géén voorregte kon aanspraak maak nie.
Wanneer ‘n slaaf egter gelowig geword het, het hy ‘n nuwe vryheid ontdek. Skielik moes hy nou verneem dat almal gelyk was in Christus. Daar was dus nou géén bande wat hom gebind het nie want Jesus het hom vrygemaak! Dit sou dan mos beteken dat hy en sy eienaar, wat moontlik ook ‘n gelowige was, óók gelyk sou wees! Daar was mos nou géén verskil meer tussen hulle nie!
Paulus wou keer dat slawe wat tot geloof in Christus gekom het nie hierdie nuutgevonde vryheid van hulle sou misbruik nie, want dit sou die orde van die samelewing versteur. Daarom gee hy duidelike riglyne oor hoe hulle verhoudinge met hulle eienaars behoort te lyk. In kort kom dit daarop neer dat slawe en base verantwoordelik teenoor mekaar moes optree, uit eerbied vir Christus.
Dit plaas nou ‘n totale nuwe perspektief op daardie slaaf se werksituasie. In vers 6 skryf hy: “Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen.”
Enkele slawe het deur harde werk uitgestyg en uiteindelik baie goeie posisies in die lewe bereik. Een so ‘n voorbeeld was Josef, wat uiteindelik die premier van Egipte geword het! Dieselfde ook met Daniël. Paulus wil dit egter beklemtoon dat dit nie hier moet gaan om jouself in ‘n beter posisie te plaas nie. Die klem moet dus verskuif van jouself na Christus. Die slaaf moet dus sy beste lewer om op daardie manier die Lig van Jesus uit te straal. As sy eienaar dus miskien nog ‘n ongelowige is, moet hy op die een of ander manier die boodskap van die Evangelie kan lees in die deeglike en vreugdevolle manier wat hierdie slaaf sy werk verrig. Sy werk is nie meer ‘n las nie maar ‘n uitdaging om die Evangelie te verkondig, al is dit dan nie met woorde nie, maar met sy dade.
In ons situasie vandag staan jy as werknemer dikwels ook in diens van ‘n onredelike baas wat jou beskou as sy “eiendom” waarmee hy kan doen wat hy wil. Wanneer dit die geval is, moet jy by die situasie verbykyk en jou éintlike “Baas”, Jesus Christus raaksien. Moenie jou werk halfhartig en met ‘n lang gesig doen nie. Moet dit ook nie doen bloot om jou baas te bevredig of vir jouself ‘n beter posisie los te werk nie. Werk egter met oorgawe en blydskap vir Jesus, die ware Meester in jou lewe. Straal Sy liefde en vriendelikheid uit ten spyte van jou werksomstandighede. Waarom? In die eerste plek om vir die Here daardeur dankie te sê vir Sy groot genade oor jou. Maar ook om hiermee die Evangelie uit te dra. Jy kan “preek” sonder om ‘n enkele woord te sê! Iemand wat liefde en blydskap uitstraal en boonop nog sy beste lewer in moeilike omstandighede, maak ander mense honger om ook te wil hê wat hy het. Hierdie is die sterkste Evangeliepreek wat énigiemand óóit kan preek!
Onthou: Paulus se werksomstandighede was beroerd! Hy was in ‘n vuil, stinkende tronk! Tóg het talle mense tot bekering gekom, bloot omdat hy liefde en blydskap uitgestraal het.
Paulus praat egter ook met die gelowige eienaars van die slawe. Dieselfde gesindheid wat hy van die gelowige slawe vra, verwag hy ook van die gelowige eienaars. Behandel jou slaaf met liefde. Hy is óók ‘n mens en boonop is hy ‘n skepsel van God! Julle het presies dieselfde Here, al is hierdie slaaf dalk op hierdie stadium nog ongelowig.
As gelowige baas het jy vandag óók groot verantwoordelikhede op jou skouers. Jy moet op só ‘n manier baas wees dat dit getuig daarvan dat jy die Here se Baasskap oor jou lewe aanvaar het. Jy is nie eintlik meer die grootbaas nie, maar Jesus is die éintlike Baas! Jy moet ook duidelik besef dat in Jesus almal gelyk is en dat die een nie verhewe is bo die ander nie. Stel intens belang in jou werknemers, nie uit die hoogte nie, maar persoonlik op hulle eie vlak. Jy mag dalk nét verbaas wees dat hulle ‘n totaal nuwe soort respek vir jou openbaar en boonop ‘n baie beter diens lewer!
Gebed:
Here, my verhoudinge skiet dikwels so vêr tekort. Help my asseblief om dit met liefde reg te stel.