Almal Huil

1 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Almal Huil

Openbaring 18:11-24

Die wêreld is verslae oor die val van die groot en wonderlike stad Babilon (Rome). Die manne met groot mag - die konings en heersers, is sekerlik die swaarste getref deur haar val, want is dit dan nie juis sý wat aan hulle soveel plesier verskaf het nie? Was sý nie die een wat verantwoordelik was dat hulle soveel bloeddorstige vermaak kon beleef nie?

Sakelui is egter nét so bedroef oor al hulle winsgewende transaksies met die spandabelrige, ryk kliënt wat nou skielik opgedroog het. Spandabelrig was Rome beslis! Daar word vertel dat keiser Nero eenmaal rose uit Egipte laat kom het, teen ‘n astronomiese prys. Die lys van luukshede wat in vers 12 en 13 opgenoem word is ‘n toonbeeld van die lewe van die rykes van Rome, wat ‘n uitspattige lewe geleef het van partytjies en niksdoen. “Goue goed en silwergoed, edelstene en pêrels, fyn pers klere en helderrooi syklere, allerhande skaars soorte hout, allerhande dinge van ivoor en allerhande dinge van duur hout, van koper, van yster en van marmer, kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, koring en meel, beeste en skape, perde, waens en slawe en selfs die lewens van mense.” Ja, inderdaad het hulle selfs slawe (menselewens) gekoop wat hulle werk vir hulle moes doen.

Die sakemanne en konings aanskou die ondergang van die stad op ‘n afstand, bevrees om nader te gaan, want dan mag hulle dalk ook deur God se oordeel getref word. In een enkele oomblik is al die fabelagtige rykdom waarvan hulle afhanklik was, tot niet.

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!” kerm hulle. “Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels! In een oomblik is soveel rykdom verwoes!”

Ook die seelui word in sak en as gedompel, want hulle het baie geld gemaak uit hierdie spandabelrige kliënt waarvoor hulle reuse vragte luukshede moes aanry. Ook húlle staan op ’n afstand om die verskrikking te aanskou. Nes die sakelui en konings is hulle te bang om dit naby die gevalle stad te waag. Hulle het ‘n uiters gewaardeerde kliënt sommer so eensklaps verloor. Nou gooi hulle stof op hulle koppe en hulle skreeu en huil en kerm om te wys hoe verskriklik bedroef hulle is oor hulle verskriklike verlies. “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad!” kerm hulle onbedaarlik (vers 19).

Saam met hulle klaaglied, klink ‘n vreugdelied op uit die Hemel, want soos wat die meulsteen wat die engel simbolies in die see gooi sink, so sink die goddelose stad Rome in die dieptes van vergetelheid. Jolige musiek en kuns, handelstransaksies en feeste sal daar nooit weer wees nie. Spele en teaters se vrolike klanke is uitgedoof. Die stad is dood.

“Verheug jou daaroor, Hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die oordeel waarmee sy (Babilon) julle getref het, oor haar voltrek.” (v. 20)

Nou sien ons eers tot hoe ‘n mate die stad sélf getref is deur God se oordeel. Absoluut alles kom tot stilstand. Droefheid sak oor die stad toe, en die vrolike musiek droog op, want skielik is daar géén werk meer vir ‘n ambagsman nie. Die industrieë knars krakend tot stilstand. Al die weelderige dinge wat gemaak is vir die rykes, word nie meer benodig nie. Daar is géén nut meer daarvoor nie.

Selfs die meul se wiel hou op om te draai, en ‘n doodse stilte sak oor die stad toe. Die dreuning van ‘n meul wat meel maal, sterf weg. Kos sal daar nie weer gemaak word nie.

En die klokhelder lag van ‘n bruidjie wat haar sterk bruidegom tegemoet loop, sal nie meer in die sombere stad gehoor word nie. Droefheid hang soos ‘n swaar, pikswart gordyn oor die stad. “Babilon is skuldig aan die bloed van die profete en die gelowiges, almal wat op die aarde doodgemaak is” (v. 24). Vrolike fakkels se flikkerende vlammetjies sal nie meer die strate verlig nie, en duisternis sak oor die stad toe. Duisternis simboliseer dat sonde tot die val van die stad gelei het.

Hierdie gedeelte moet vir ons as gelowiges ‘n troos, maar ook ‘n vermaning wees, want so dikwels skreeu ons wraak wanneer iemand wat verskriklike misdade pleeg ongestraf daarvan afkom. Onthou: God se oordeel is regverdig, en ons moet ons nie daaroor kwel nie. God se tyd is ook baie anders as ons tyd. Ons wil ongeduldig raak as iets nie dadelik begin nie. God se oordeel sal op die regte tyd - op God se tyd, kom.

Die volgende hoofstuk begin dan ook met ‘n groot gejubel en ‘n “Prys die Here!” En skielik vergeet ons van al die slegte dinge, want daar is gróót opgewondenheid.

Gebed:

Dankie Here, dat ons al die oordeel aan U kan oorlaat. Dankie ook dat U my verskriklike sondes vrygespreek het uit U groot genade.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026