Abraham - Geloofsheld

6 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Abraham - Geloofsheld

Genesis 11:10-32

In Genesis 11 lees ons die eerste keer van hom, die man met die groot geloof: Abraham. Onderaan ‘n lys van name en nogmaals name, wat begin by Noag se seun, Sem. ’n Volle tien geslagte later word die klein Abrampie uiteindelik gebore, toe Pappa Tera nog in sy prille jeug gestaan het, skaars sewentig jaar oud! Hulle het gelukkig gewoon in Ur in die ooste, die huidige Irak, naby die Persiese Golf. Op ‘n mooi dag kry ou Tera die treklus, en hy besluit dat die land Kanaän nét die regte plek sou wees om te gaan tent opslaan. Hy kommandeer vir Abram en sy jong bruidjie, Sarai en sy kleinseun Lot op om in te pak, en toe pak hulle die langpad aan. Ongelukkig was ou Tera se GPS ‘n bietjie foutief, want toe slaan hy skoon die verkeerde rigting in, en hy beland in Haran, iewers op die grens tussen die moderne Turkye en Sirië. En net dáár roep ou Tera halt, en slaan sy tentpenne in. Tot hiertoe en nie verder nie! Daar is hy toe ook ‘n paar jaar later dood op die rype ouderdom van tweehonderd jaar.

Ja, Abram moes seker baie teruggedink het aan sy nostalgiese kleintyd, daar langs die kus van die Persiese Golf. Waarom sou Pa dan nou wou wegtrek van so ‘n mooi wêreld en hier in die wildernis wou kom nes skrop. Dit was lekker daar!

Tera het sékerlik vir klein Abram geleer van God, nes Oupa Nahor voor hom, en Oupagrootjie Serug. Met mooi gedigte het hy vir Abraham geleer van die wonder van die skepping, en van oer-oupa Adam en van voorvader Metusalag wat amper ‘n duisend jaar oud geword het, en van Noag wat die reuse skip op droë grond gebou het omdat God gesê het hy moet. Abram was skaars ‘n baksteen hoog, toe ken hy al groot dele van die oergeskiedenis uit sy kop uit. Natuurlik was daar nie daardie jare ‘n Bybel nie - nie eers énige geskrifte nie. Die enigste manier waaarop die geloofswaarhede aan die volgende geslag oorgedra kon word, was deur die kinders van kleinsaf die dinge noukeurig te vertel nes hulle voorgeslagte gedoen het al vir die afgelope duisend jaar.

Van die skepping kon hy nie verstaan nie. Hoe was daar dan lig nog voordat daar ‘n son en maan en sterre was? Maar Pa Tera het gesê dat dit so was, en Abram moes dit maar net aanvaar en glo. En net dáár is waarskynlik die eerste saadjie van geloof in die klein Abram geplant, ‘n geloof wat sou blom oor baie jare.

Hier wil ek nou net eers die storie onderbreek om te verduidelik: In Genesis 11 word daar ‘n duidelike streep getrek. Voor dit was vir ons vertel van die oergeskiedenis, van God se betrokkenheid by die wêreld in geheel. In Genesis 5 kry ons byvoorbeeld ‘n lang lys name van mense uit die oertyd, ‘n lys wat ons iets vertel van hoe die wêreld ontwikkel het. Dit vertel ons ook van uitstaande figure uit die voorgeskiedenis, soos Kain wat sy broer vermoor het, en van Henog wat nooit dood is nie, maar reguit hemel toe is sonder om te sterf. En natuurlik van Metusalag wat ‘n ongelooflike 969 jaar oud geword het. En dan natuurlik Noag, die man wat nie alleen die ark gebou het nie, maar ook op ‘n baie jeugdige ouderdom van vyfhonderd jaar pa geword het van drie seuns.

In Genesis 11 het ons ‘n soortgelyke lys, maar die groot verskil is dat dit nou nie meer oergeskiedenis is nie, maar die historiese tyd, met name en plekke wat ons ken. Nog belangriker, is dat hierdie lys nou gerig is op een enkele gesin, die gesin van God. Later sal ons sien dat hierdie gesin ook nie net op Abraham gerig is nie, maar jou en my, want vandag is elke gelowige ‘n geestelike afstammeling van Abraham.

Terloops, Tera het hom die naam Abram gegee, maar later het God hom ‘n nuwe naam gegee: Abraham.

Abram het ‘n jong man geword met ‘n mooi droom: om eendag ook hierdie wonderlike geloof in God aan sy seun te kan oordra sodat die geloof lewendig bly.

En toe gebeur dit: Skielik word sy voete eendag net onder hom uitgeslaan deur hierdie beeldskone meisie. So mooi het hy nog nooit in sy lewe gesien nie! Daardie oë........ Opgewonde gaan vertel hy vir Pa Tera van hierdie skepsel wat sy hart so tjoklits laat pomp, en Tera wéét: Dit het tyd geword. Hy het géén keuse gehad nie, as om maar te begin met die onderhandelinge om hierdie wonderwerk op twee voete (nogal báie mooi voete!) vir sy seun te verkry as lewensmaat.

Die jonge Abram was in die wolke! Hy het gesweef, want dit is bitter min mans beskore om so ‘n mooi vrou te kan hê om jou tent met jou te deel. Maar daar was ‘n ou probleempie: Na ‘n jaar van hartstogtelike huwelik verloop het, was daar nog nie ‘n teken van babavoetjies wat om die tent sou hardloop nie. Twee jaar het verby gegaan, en Abram het moedeloos begin raak. Vyf jaar het later tien geword, en steeds was daar niks. Abram se mooi vrou, Sarai was onvrugbaar. Sou hulle eendag kinderloos sterf? Sou die geloofspad van hierdie gesin van God skielik hier in ‘n doodloopstraat eindig? Ons sal moet wag en sien!

Gebed:

Here, dankie vir die lewensvoorbeeld wat die stoere ou geloofsheld, Abraham aan ons kon stel. Ek wil vanoggend bid vir ‘n geloof so onwankelbaar soos die van Abraham.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026