Handelinge 5:12-16
In die Jerusalemgemeente gaan dit op die oog af baie goed. Ons lees hier dat die gemeente gereeld by die Tempel bymekaargekom het in die Pilaargang van Salomo. Hierdie was 'n lang afdak wat aan die buitekant van die tempelterrein gebou was. Dit was dikwels gebruik deur Rabbi's wat hulle leerlinge geleer het. Daar het die jong gelowiges nou ten aanskoue van al die Jode hulle byeenkomste gehou. Tóg was daar alreeds ‘n probleem wat begin kop uitsteek het. Mense was bang om so openlik betrokke te raak by hierdie nuwe kerk, en dit was slegs die klompie bittereinders wat dit daar in die ope sou waag. Ons kan voel hoedat ‘n spanning besig is om op te bou. Die owerhede is beslis nie gelukkig met wat hulle sien nie, en in die raadsale word daar al gemor oor die veld wat die kerk besig is om te wen. Wat egter wél gebeur het, is dat gelowiges oral begin huiskerke stig het, en daar het hulle getalle gedurigdeur gegroei. Stadig maar seker was die kerk besig om ondergronds te gaan om die dreigende vervolging te probeer ontduik.
Petrus was egter een van die manne wat openlik en onverskrokke sy ding gedoen het. Lukas vertel vir ons dat daar deur die Apostels baie wonderwerke plaasgevind het. Ons het ‘n paar dae gelede gehoor hoedat hulle daarvoor gebid het, en nou gebeur dit. Mense word aangegryp deur die wonderlike dinge wat plaasvind, en hulle besef dat hierdie “nuwe” geloof nie maar sommer net is nie. Dit kan alleen waarlik van God af wees.
Petrus was veral die een wat uitgestaan het in hierdie opsig. Hy moes ‘n wonderlike, intieme verhouding met die Here gehad het, en baie naby aan God geleef het, want daar het ‘n krag uit Petrus gestraal, ‘n krag wat die Heilige Gees deur hom bewerk het. Siekes het van heinde en verre gestroom om deur Petrus aangeraak te word, en hulle is almal gesond gemaak. Só sterk was die krag wat uit Petrus gestraal het, dat mense hulle siekes op straat uitgedra het en daar langs die pad laat lê het op draagbare en bedmatjies. As slegs die skaduwee van Petrus op hulle val, word hulle genees. Petrus is beskou as ‘n tipiese “heilige man,” en almal het baie hoë agting vir hom gehad. Dit is natuurlik nou almal buiten die owerhede! Hulle het hierdie situasie met groot kommer dopgehou. En hulle het gesit en borrel en kook oor die skade wat Petrus en sy trawante besig was om hulle te berokken.
Hoe het Petrus, asook die ander Apostels dit reggekry om so ‘n kragtige lewe uit te leef? Wat het gemaak dat Petrus verál so onverskrokke in die openbaar optree ten spyte van al die verskriklike dreigemente van die Joodse Raad? Onthou, hierdie dinge het plaasgevind slegs ‘n kort rukkie ná daardie verskriklike nag van skande, toe Petrus gesê het dat hy gladnie vir Jesus ken nie. Die nag toe hy so vrek bang was vir ‘n doodgewone diensmeisie. Sy vrees vir moontlike vervolging het hom gedryf tot die punt waar hy sy Meester en intieme Vriend van die afgelope drie jaar verloën het. Daardie verskriklike klad is steeds op sy naam. Of daardie nag op die see, toe Jesus hom die wonderlike geleentheid gebied het om op die water te kon loop! Petrus het inderdaad vir ‘n kort rukkie staande gebly op die water, maar toe hy die golwe raaksien, het 'n verskriklike vrees hom oorval, en toe sink hy!
Ons sien egter nou ‘n totaal ander Petrus, een wat vreesloos is. Die magteloosheid wat hy ervaar het toe die see hom verswelg het is nou vervang met ‘n wonderlike genesende krag wat uit hom straal. Daar het twee dinge met Petrus gebeur, twee dinge wat ook met jou en my kan gebeur. Natuurlik was die héél eerste stap die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Skielik het Petrus, asook al die ander gelowiges saam met hom die onuitputlike krag wat die Heilige Gees ‘n mens gee tot sy beskikking. Die blote beskikbaarheid van krag is egter nie genoeg nie. Jy moet dit jou eie maak, en dit is presies wat Petrus gedoen het.
Hoe het hy dit reggekry? Bloot deur ‘n baie intieme en eerlike verhouding met God te hê. Hoe nader jy aan die Here leef, hoe voller raak jy van die Heilige Gees. Hoe minder sonde daar in jou lewe is, hoe meer plek is daar in jou lewe vir die Heilige Gees. Ds. Dana Minnaar het dit eenmaal vergelyk met ‘n emmer: jy is die emmer, en van nature is jou lewensemmer propvol klippe, dis nou die klippe van sonde. Wanneer jy die dag ‘n ontmoeting met Jesus het, kom die Heilige Gees in jou lewe, en dan is dit soos ‘n ewigdurende stroom water wat in jou lewensemmer inloop. Omdat daar soveel klippe in is, is daar nie baie plek vir water nie, maar soos wat jy die sondeklippe uitgooi, so word jou emmertjie al hoe voller van water.
Ek en jy het die potensiaal om net so kragtig soos Petrus te kan optree. Dit vra egter ‘n baie spesiale, intieme verhouding met God, en ‘n lewe waar sonde nie meer ‘n rol speel nie. Kom ons streef dit na.
Gebed:
Here, leer my om nader aan U te kan leef, en help my asseblief om die sondes uit my lewe te verban.