Dis nag in die Bos, in Marloth Park in die Laeveld. Ek en Mosbolletjie sit knoes by ‘n kampvuurtjie wat gesellig knetter en ‘n warm gloed versprei rondom ons. Ver weg “oemf-oemf” ‘n leeu se sonore basstem. Sy mezzosopraan sangmaat, Hiëna antwoord met ‘n uitgerekte, welluidende “Whoeeeeéép”. Die naguiltjie speel sy verruklike melodie met ‘n suiwer silwer klokkie, “O Heer, verlos ons tog!”
Die nag is mooi, baie, baie mooi! Die woorde van Psalm 8 weerklink deur my gemoed: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde.” ‘n Salige rustigheid sak oor my toe. Daar is ‘n jubeling in my hart. Hoe asemrowend mooi is alles hier rondom my, die heerlike geure van die bos, die suiwer klanke wat die naglug vul, die reuse ou knoppiesdoringboom wat hier bokant my die lug introon. Alles perfek! Die handewerk van my Here!
Dit is ‘n helder aand, nie ‘n wolkie in die kraakvars lug nie. In die ooste beur die chedderkaas-geel maan lui-lui oor die Lebomboberge en loer vir ons deur die takke van 'n doringboom.
“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,” Onwillekeurig volg my oë die baan wat die maan vannag deur die hemel moet seil. Ek snak na my asem in pure verwondering. Hoevéél keer het ek nie al hierdie asemrowende gesig aanskou nie, en elke keer is dit vir my asof dit die héél eerste keer is dat ek die wonder aanskou. Hier in die Laeveld met sy helder skoon lug, sonder enige vorm van besoedeling, is die sterre soveel helderder. Instinktief steek ek my hand in die lug, dit voel kompleet asof ek aan die sterre kan raak! Hulle voel so naby!
Regs van my sit die Suiderkruis vanaand hoog in die lug. Ek glimlag. “Daar is ons naaste ster,” vertel ek vir Mosbolletjie, en ek wys na die twee helder sterre links van die Suiderkruis. “Dis nou natuurlik as ons nie die son in ag neem nie.” Ek verduidelik vir haar van Proxema Centauri wat omtrent 4½ ligjare van ons af is. Dit klink dalk naby, maar eintlik is dit bitter ver, want 'n ligjaar is omtrent 9½ duisend miljoen miljoen kilometer! So werk maar self uit hoe ver daardie vrolike sterretjie weg is! Maar die verstommende is, dat die lig wat jy nou sien, alreeds 4½ jaar gelede gebeur het. En dit raak erger, want sy maat, Beta Centauri wat reg langs hom flikker, is meer as 400 ligjare ver. So terselfdertyd kyk jy 4½ jaar en 400 jaar terug in die geskiedenis.
Mosbolletjie sug. "Ek verstaan nie!"
Ek verstaan maar ál te goed hoe sy voel. My oë gly oor die digte uitspansel sterre van die Melkweg. Ons beeldskone aarde is maar 'n mikroskopiese klein spikkeltjie iewers aan die rand van hierdie reuse sterrestelsel met sy 300'000 miljoen sterre. En die asemrowende is dat die Melkweg maar een is van biljoene soortgelyke sterrestelsels, waarvan party nog baie, baie groter is as die spiraalskyf waar ons behoort. Terloops, die Melkweg is 'n volle 100'000 ligjare in deursnee!
Fantasmagories, is dit nie!
Die slim manne het uitgewerk dat die heelal omtrent 15 biljoen ligjare in deursnee is. Dis gróót!
Psalm 8 noem dit alles "die werk van u vingers," die skepping van ons Almagtige God, en dit maak hierdie asemrowende sterrewonder wat bokant my ontvou nog soveel méér 'wonderlik. Hoe groot moet Hy nie wees, om so 'n groot skeppingswonder te kon laat gebeur nie!
Iewers onder tussen die riete in die Krokodilrivier klink 'n trompetgeskal op. "Die olifante," beduie Mosbolletjie vir my, en sy wys in die rivier se rigting. "Hulle klink opgewek en vrolik. Ek dink hulle baljaar heerlik in die helder maanlig! Ek wonder darem of hulle nie bang is vir krokodille nie?"
'n Seekoei is hewig ontsteld omdat sy rus versteur is deur die lawwe klomp olifante, en die vette ou dierasie gee luidrugtig sy mening met 'n vulgêre "Hugge-hugge, oemf- oeeeemf!" 'n Volle kilometer ver hoor ons hom ontevrede snork en blaas.
Op die randjie van die vuur se ligkring is daar 'n beweging. "Duikertjie!" jubel Mosbolletjie. Die skatlike ou bokkie kom kuier elke aand vir ons.
"Hy is ook deel daarvan," sug ek. "En óók die ou grootvoete en die omgekrapte seekoei, almal is deel."
"Waarvan praat jy tog?" Mosbolletjie verstaan nie!
"Die skepping! Dink net, ons God het nie net die groot goed gemaak nie, die hemelruim en sterre nie, Hy is die Groot Argitek van elke ding wat ons ken, diere, voëls, selfs insekte. En elkeen het sy baie spesiale plek in die skepping!"
"Ja," sug sy, "en ek en jy is aangestel as heersers oor dit alles. Wat 'n verantwoordelikheid!"
"U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp." (Psalm 8:6,7)
Gebed:
Here, vanoggend loof ek U oor U almag. Ek besef ook die groot verantwoordelikheid wat U my gegee het om oor U skepping te waak.