Woensdag 25 Mei

25 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Woensdag 25 Mei

Jannie Maak Brêkfis

Efesiërs 1:3-5

VIDEO * OUDIO

Hou mense van jou? Dis mos nou half ‘n ongemaklike vraag! Wel, ek wil graag glo dat meeste mense nogal van my hou! Waarom sou mense van my hou? Dalk omdat ek hard probeer om altyd vriendelik te wees teenoor almal. Ek dra selfs ‘n masker met ‘n breë, hartlike glimlag opgeverf en talle wildvreemde mense stop eers om kommentaar te lewer! Dit plaas sommer dadelik ‘n glimlag op die suurste gesig! Ek wil graag glo dat ek baie vir ander mense beteken. Elkeen van ons wil graag hê dat mense van ons hou.

Die probleem is, dat ons so maklik ook wil dink dat God vir ons lief is oor ons mooi eienskappe. Hy is lief vir my omdat ek hard werk in Sy koninkryk of omdat ek so baie goed doen vir ander mense. Hy is lief vir my omdat ek elke Sondag kerk toe gaan en gereeld my Bybel lees en bid. Hy is lief vir my omdat ek so mooi vir Hom sing - ek sing selfs lofliedere in my hart vir Hom!

Dis ‘n mite! God se liefde vir my het absoluut niks te doen met wat ek alles vir Hom doen nie. Ook nie eers oor hoe lief ek vir Hom is nie. Inderdaad is daar wél ‘n “omdat” by betrokke, maar hierdie “omdat” lê by God. Hy het my lief omdat Hy my lief wíl hê. Hy het my lief ten spyte van al my gebrekkige pogings om vir Hom lief te probeer wees en dinge vir Hom te probeer doen.

Dalk kan ek dit probeer verduidelik met ‘n storietjie. Ek het hom al dikwels vertel, maar elke keer bring hy weer trane in my oë. So, vergewe maar as jy dit al ‘n dosyn keer gelees het!

Klein Jannie besluit een Saterdagoggend om vir Mamma en Pappa te verras en vir hulle ontbyt te maak. Dis nog half donker as hy uit die bed spring. Wat sou hulle geniet vir ontbyt? Dalk moet hy plaatkoekies bak – dis mos lekker! Hy maak die yskas oop en haal vier eiers uit. Dan gebeur die eerste oepsie alreeds, want vier eiers is te veel vir sy klein handjies om te hanteer. Twee eiers glip uit sy handjies en val flenters op die vloer. Sommer gróót gemors!

Jannie skrik hom boeglam! Daar is egter nie nou tyd om hom oor daai taai gemors te verknies nie, die plaatkoekies moet klaarkom! Hy klouter op ‘n stoel om die sakkie meelblom bo van die rak af te haal en so byna, byna verloor hy sy balans. Hy kry ‘n bak in die hande en gooi ‘n paar koppies meelblom in. Dit sukkel maar om die fyn wit poeier uit die sakkie te kry en van die meel beland op die vloer, nogal rég op die plek waar die stukkende eiers nog lê. Nou is dit éérs ‘n taai gemors! Jannie sien dit gelukkig nie raak nie, want hy staan hoog bo die aarde op ‘n stoel en werk.

Stap een is om die eiers in die meel te kry. Hy kap ‘n eier teen die rand van die bak, soos hy Mamma sien doen het. Dit wil egter nie so lekker werk nie, want net die helfte van die eier beland in die bak, dop en al. Die ander helfte spat oor die toonbank! Die tweede eier beland darem in die regte plek met slegs ‘n paar doppe in die meel.

Jannie trek die suikerpotjie nader en meet noukeurig ‘n paar handjiesvol suiker af. Nou is sy handjies een taai gemors en sy vingers klou aanmekaar vas. Hy trek die karton met melk nader, maar in die proses stamp hy die suikerpot van die toonbank af sodat dit aan skerwe spat op die vloer en suiker die hele kombuisvloer vol lê. Jannie het egter nie nou tyd om daaroor te bekommer nie, want daar is plaatkoekies om te bak! Hy gooi melk by die meel en begin heftig roer.

Op daardie oomblik kom Kat die kombuis ingemarsjeer en spring op die toonbak, want hier is iets lekker aan die gang! Die mengsel in die bak is nou ‘n taai gemors. Kat ruik aan die bak. Jannie vererg hom vir die dierasie en swaai ‘n wilde hou na hom met die lepel. In die proses stamp hy die bak per ongeluk raak. Dit kantel. Jannie probeer tevergeefs om die bak te gryp. Stadig tol die bak en tuimel van die toonbank af. Verbouereerd sien Jannie hoedat al sy harde werk oor die kombuisvloer spat en nóg ‘n groter gemors van die reuse gemors op die vloer maak.

Dit is die laaste strooi! Sy lippie begin onbedaarlik te bewe. As hy omkyk, sien hy vir Pappa in die deur staan. Nou bars Jannie in trane uit. Al sy beste pogings het net mooi op niks uitgeloop nie! Sy liggaampie ruk soos die rou snikke deur hom skeur. Pappa moet baie mooi in die taai gemors trap om nie nog op ‘n glasstuk óók te trap nie. Hy tel vir Jannie van die stoel af en druk hom styf teen sy bors vas. “Pappa is baie lief vir jou!” troos hy terwyl hy hom liefderik soen.

Die Here het my en jou uitgekies om Sy kinders te wees, ten spyte van die feit dat ons in vyandskap met Hom geleef het. Hy het ons ryklik geseën met ál die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (vers 3). Ons sal nooit werklik ons verlossing kan verstaan nie, want dit is só onbegryplik. Hy het Sy besluit alreeds geneem nog voordat ons gebore is. As dit van ons moes afhang, sou ons nóóit kinders van God kon word nie.

Hoe moet ek hierop reageer? Om God te loof en prys! Nie met verwyte omdat Hy slegs party mense uitgekies het en nie almal nie en Hom te beskuldig dat Hy onregverdig is nie. Ek moet eerder verbaas wees dat Hy juis vir mý uitverkies het ten spyte van die gemors wat ek aangevang het. Dan moet ek soos Paulus in ‘n lofprysing dit uitjubel oor hoe groot en goed die Here werklik is. Sy genade oor my is asemrowend groot. Ek kan Hom nooit genoeg dankie sê daarvoor nie.

Gebed:

Here, al my lof en dank en aanbidding gaan aan U, want U is groot en aan U genade is daar geen einde nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026