Wette en Tradisies

21 June, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wette en Tradisies

Matteus 12:1-14

VIDEO | OUDIO

Ds. Daantjie kry toe mos ‘n beroep na ‘n dorpie iewers op die Natalse platteland. Sommige van sy kollegas waarsku hom dadelik dat dit maar ‘n moeilike gemeente is, maar hy het vrede in sy hart. En so land hy toe op die pragtige dorpie, Greytown. Dit was ‘n groot fees toe die inwoners hom daar verwelkom, maar hy sien sommer dadelik dat iets nie pluis is nie. Die manne in swart lyk vir hom beswaard, maar niemand durf iets sê nie. Ds. Daantjie is nou nie ’n man wat ’n moordkuil van sy hart maak nie, en weldra roep hy die leierouderling nader. “Wat is fout? Ek voel aan dat hier iets krap!”

“Broer”, sug die ouderling, “waar is jou manelpak dan?” Ds. Daantjie is skoon uit die veld geslaan. Hy het nog nooit in sy lewe ‘n manelpak besit nie! “Dit is tradisie dat die kerkraad, en veral die predikant hier ‘n manel dra,” lig die man met die lang, somber gesig hom in. Ds. Daantjie wil nog protesteer, maar die ouderling sê “Dominee, op daardie preekstoel sal jy nie klim as jy nie ‘n manel aanhet nie!” En daarmee is die saak afgehandel.

Nou ja, geldjies was maar bitter skraps, en om nou sulke duur klere te moet loop koop……. maar gelukkig kom ‘n weduwee tot sy redding. Haar oorl’e man se manel, wat hy die afgelope vyftig jaar of wat gedra het, hang daar nutteloos in die kas. Hy is nou wel al skoon groen deurgeskif op plekke, maar ‘n manel is mos maar ‘n manel! En so het hy vir die volgende paar jaar Sondag-vir-Sondag in sy afgeleefde manelpak gepreek. Korrelkop wat hy was, het hy geweier om ‘n nuwe een te koop. Maar die gemeente was tevrede, want die tradisie het behoue gebly!

‘n Verspotte situasie, sou jy dalk sê.

Jesus en Sy dissipels is op pad. Dis was ‘n harde dag en die manne is honger. Die pad wat hulle loop, neem hulle deur ‘n koringland. Die sappige, vetgeswelde groen koringare lê hier as’t ware op ’n skinkbord voor hulle, en dit maak hulle nou nog net meer honger. Ingedagte loop hulle hier en daar are en pluk, en kou so in die loop. Daar is absoluut niks daarmee verkeerd nie, buiten vir een baie groot probleem, die feit dat dit op ‘n Sabbat is. Die valkoë van die Fariseërs mis nie hierdie verskriklike, ongeoorloofde daad nie. Daar staan tog immers baie duidelik in hulle handleiding: “64 Ongeoorloofde dinge op die Sabbat” dat jy géén graan mag pluk op die Sabbat nie. Om koringare te pluk is niks anders nie as om te oes. En om te oes is mos werk! Die Skrif sê baie duidelik dat jy op die Sabbat nie mag werk nie. Jesus word geroskam oor Hy nie toesien dat Sy leerlinge die wet onderhou nie.

‘n Rukkie later kom Jesus en Sy leerlinge in ‘n sinagoge aan. ‘n Man met ‘n gebreklike hand word na Hom gebring. Dit is duidelik ‘n lokval om te sien of Hy die verskriklike ongeoorloofde ding sou doen om die man op die Sabbat gesond te maak. Die Fariseërs is uit op ‘n missie om Jesus te probeer vastrek.

Ek dink Jesus moes seker al baie moedeloos gewees het met hierdie klomp. Kyk, hulle was doodgoeie mense, en hulle het baie goed bedoel, want met hulle wette en tradisies wou hulle God dien. Maar hulle het toet-en-taal die punt gemis oor waaroor diens aan God nou eintlik gaan. Vir hulle het alles gedraai om wette en tradisies - Jesus verduidelik vir hulle wat dit eintlik beteken om God te dien. Dit moet gaan oor barmhartigheid en liefde! Nee, Hy skiet nie die wet af nie, maar die wet is daar vir ‘n baie spesifieke doel. As jy die doel mis, beteken die wet eintlik absoluut niks! Vir die Fariseërs het dit bloot gegaan om die onderhouding van die wet tot in sy kleinste besonderhede, maar hulle het nooit probeer uitvind waarom die wet daar is nie.

Die wet is ‘n riglyn oor hoe om God lief te hê asook hoe om jou medemens lief te hê. Die Sabbatswet was deur God aan die mens gegee as ‘n rusdag, maar dan spesifiek waar jy jou tyd aan God afstaan. Maar wat dan nou van die Sondag?

Stefan Joubert skryf in ‘n dokument oor die Sabbat en Sondag onder meer: “Op Sondae het gelowiges volgens Justinus uit die profete en die apostels saamgelees, 'n kort preek aangehoor, saam gebid en dan saam die nagmaal gevier. Hierdie byeenkomste het gewoonlik voor sonop en/of na sononder plaasgevind aangesien die vroeë gelowiges steeds op Sondae moes werk. Eers vanaf die vierde eeu, nadat die Christendom die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword het, het die Sondag 'n amptelike rusdag geword. Dit is ook vanaf die vierde eeu dat die Sondag algaande binne vele kerklike kringe die karakter van 'n sabbat begin aangeneem het.” Lees gerus die skrywe: Nuwe-Testamentiese perspektiewe op die Sabbat en die Sondag by: bit.ly/dsJoubert

In Jesus se uitspraak gaan dit nie net oor die Sabbat nie, maar eerder oor verstikkende wette en tradisies wat ‘n mens verhinder om jou liefde uit te leef. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die verpleegster wat ’n paar jaar gelede geweier het om ‘n aborsie uit te voer. Die wet het vereis dat sy dit moet doen, maar dit het nie gestrook met die uitleef van Jesus se liefde nie. Sy is wel vervolg deur die owerhede en sy is haar werk kwyt, maar sy het ‘n reuse oorwinning behaal vir die uitleef van dít wat Jesus gepreek het.

Gebed:

Here, leer my asseblief weer die ware betekenis van U wet!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026