Wéér Barnabas

30 April, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wéér Barnabas

Handelinge 11:19-26

VIDEO | SPOTIFY

Toe Saulus op 25-jarige ouderdom sy Damaskuservaring gehad het, was hy 'n skrander jong man, propvol entoesiasme en energie, en hy wou die wêreld nét daar en dan verander. Hy het immers ál hierdie kosbare kennis van die Skrifte gehad, kennis wat hy opgedoen het by die grootste leermeester en Skrifkenner van sy tyd, Gamaliël.

Maar daar het iets gekort: lewenservaring asook ervaring in die Christelike lewe. Saulus was immers 'n Fariseër, en die dinge wat in jou ingedril word oor die jare, kan jy mos nie sommer net so eensklaps eenkant toe skuif asof dit nooit bestaan het nie? Saulus moes eers leer wat reg en wat verkeerd is. Hy moes leer wat noodsaaklik in die geloof is, en wat oorbodig is.

Sy leerskool het begin so pas na sy Damaskuservaring. Soos ons gister gesien het, is hy nie onmiddellik na sy bekering na Jerusalem nie, maar hy het eers drie jaar in Arabië deurgebring in die woestyn, waar hy baie tyd gehad het om hierdie dinge te oordink. Van daar het hy in Damaskus gaan preek, maar toe dinge daar te warm raak is hy terug na Jerusalem. Ons lees hiervan in Galasiërs 1:11-24.

Nadat hy ook uit Jerusalem moes vlug, is hy na sy geboortestad Tarsus, waar hy dit op homself geneem het om die Evangelieboodskap te gaan meedeel aan elkeen wat wil luister, asook diegene wat nie wil luister nie. Hy het die gebied in Sirië en Silisië, die gebied rondom Tarsus, dééglik deurkruis en gepreek dat die biesies bewe. Bedags maak hy tente vir 'n lewe, en saans preek hy.

Vir Saulus was hierdie paar jaar se ondervinding van onskatbare waarde, want hier het hy begin leer wat werklik belangrik is in 'n gelowige se lewe, en hoe om hierdie waarhede aan mense oor te dra. Aangesien Saulus dan in Tarsus grootgeword het, was die Griekse spreektaal, wat almal daar gepraat het, vir hom géén probleem nie. Die bietjie wat hy vergeet het tydens sy Gamaliël-dae het hy baie gou weer opgevang, totdat hy later Grieks gepraat het soos 'n egte Griek.

Twaalf jaar het reeds verbygegaan sedert sy bekering, en Saulus was hart en siel in sy evangelisasiewerk. Maar tóg was daar naderhand 'n hunkering na iets meer. Hy het groter uitdagings gesoek.

En dan, op 'n mooi dag, terwyl hy besig is om te werk aan 'n tent vir 'n kliënt, sien hy die groot man met die welige bos baard na hom toe aangestap kom. Opgewonde spring Saulus op. Hy herken sommer dadelik vir Barnabas, alhoewel hy hom tien jaar laas gesien het. Die vreugde is baie groot as die twee manne mekaar omhels.

Daardie aand sit hulle tot laatnag en gesels. Saulus vertel vir Barnabas van al sy ondervindinge en hoe wonderlik dit is wanneer heidene die Evangelie aanvaar en hulle eie maak. Dit is nou gladnie meer slegs Jode wat gelowiges word nie! “Maar wat het met jóú gebeur sedert ek uit Jerusalem weg is? Is jy nog daar in die groot stad?”

Nou kan Barnabas nie meer sy opgewondenheid wegsteek nie. Hy het gewag vir die regte oomblik om die nuus vir Saulus te breek. Hy begin vertel van die wonderlike dinge wat gebeur het in Antiogië in Sirië. Toe die gelowiges begin vlug het uit Jerusalem oor die vervolging, het 'n klompie van hulle hulleself in Antiogië gaan vestig. En daar het hulle baie opgewonde die Evangelie met die ander Jode in die stad gedeel. Op daardie stadium was daar nie minder nie as 50'000 Jode in die stad! Die uiteinde van die saak was dat daar sommer 'n groot gemeente tot stand gekom het wat gereeld bymekaar gekom het. Die inwoners van Antiogië het spottenderwys na hierdie klomp gelowiges verwys as die “Christene” omdat hulle die Christus-geloof aangehang het.

“Ja, en toe stuur die apostels my daarheen om hulle daar te gaan help om die geloof suiwer te verkondig,” vertel Barnabas terwyl hy straal van blydskap. “Nou is ek hulle leraar!”

“Ek sou my voortande gee om 'n leraar in so 'n gemeente te kan wees!” borrel Saulus opgewonde. Dit is die wonderlikste nuus wat Barnabas hom vertel, en hy is só bly vir die man – hy verdien dit werklik!

“Ja, en dit is nou juis die eintlike doel van my besoek. Die gemeente het my na jou toe gestuur, want hulle het gehoor van die wonderlike werk wat jy doen. Hulle wil hê dat jy my kom help as leraar in Antiogië.” Saulus kan nie glo wat hy hoor nie. Hy val amper van sy stoel af! Hy is skaars 38 jaar oud, en nou kry hy die geleentheid om 'n rabbi te word! Daardie soort van eer kom slegs na ou manne soos die gryse ou Gamaliël!

Die volgende dag maak Saulus haastig die tent klaar vir sy kliënt en dan vertrek hy saam met Barnabas na Antiogië om daar 'n splinternuwe lewe te begin as leraar.

'n Bekommerde pa skryf ‘n tyd gelede vir my van sy dogter. Sy het haar opleiding as leraar voltooi en sy het selfs al 'n doktorsgraad, maar nie werk kry nie. Ja, Saulus moes 'n paar jaar geduldig wag, maar op presies die regte tyd stuur die Here hom na Antiogië waar baie groot dinge met hom gebeur. Moenie moed verloor nie – die Here het nog 'n groot plan vir haar en ook jóú lewe. Wees net geduldig, die regte plek word vir jou voorberei!

Gebed:

Here, maak my asseblief rustig, en leer my om op U te wag. Ek wéét dat U nog groot dinge vir my beplan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026