Titus 1-3
Paulus sit die dae en aftel in die tronk. Dit is bitter moeilik om tred te hou met die tyd wanneer jy nie meer jou vriende mag sien nie. Hy sien net elke dag vlugtig iemand wat vir hom kos bring, en dis al. Hy het darem vergunning gekry om iemand vir 'n dag of twee by hom te hê om 'n brief te skryf, maar verder is hy afgesny van die buitewêreld.
“Watter dag is dit nou weer vandag?” wonder hy hardop. Hy tel: “Dit is nou veertig dae vandat ek die kruisiging en opstanding van Jesus gevier het. Dus is dit mos vandag die herdenking van Jesus se hemelvaart!” Gelate spring die ou man op en begin spontaan 'n loflied sing.
Die ander gevangenes kyk hom skeef aan: “Hierdie ou is nie lekker hier bo nie! Hoe kan jy dan nou sing en vrolik wees onder sulke haglike omstandighede?”
“Ja,” beaam 'n ander kêrel, “maar hy sê mos dat dit sy God is wat hom vrolik maak. Hy praat gedurig met sy God! En dan sing hy boonop sulke vrolike liedere vir sy God! Dit gaan my verstand te bowe!”
Paulus wonder of Timoteus ooit onthou het van die Hemelvaart? En Titus? Maar natúúrlik sal hulle mos nie vergeet nie! Sy hart gaan vandag só uit na daardie twee seuns van hom, en die verlange is baie groot om hulle tog net weer te kan sien voordat Nero hom teregstel. “Ek wil nog een laaste brief skryf,” dink Paulus, “ek wil vir oulaas nog vir my liewe seun Titus skryf voor ek sterf!”
Nadat Paulus vir Titus in Kreta gelos het, was hy bitter bekommerd oor die arme jong man waar hy hom as't ware in die leeukuil gegooi het. Daardie spul Kretense kan sommer baie maklik met sy kop smokkel! Pas nadat hy in Klein-Asië aangekom het, besluit hy om 'n brief te skryf aan Titus om hom 'n bietjie riglyne te gee oor wat om te doen in so 'n moeilike gemeente.
Kreta was eens ’n land met ’n baie roemryke geskiedenis, 'n beskawing wat van 3000 tot 1550vC ‘n hoogbloei tydperk beleef in welvarendheid, kuns en kultuur. Terloops, die Filistyne van die Ou Testament het waarskynlik uit Kreta gekom! Kreta se boukuns was asemrowend, en die regeerders het in manjifieke paleise gewoon. Een hiervan, die paleis van Knossos, word as een van die sewe wonders van die antieke wêreld beskou. Selfs die klein gehuggies se strate was geplavei. Die Kretensers se pottebakkerskuns, was meesterstukke, en is tot vandag toe nog wêreldberoemd. Kreta kan met reg beskou word as die bakermat van Griekse kultuur en ons kan dus met reg sê dat die Westerse beskawing uit Kreta gebore is.
Maar helaas! Hierdie hoogbloei tydperk van Kreta kon nie volgehou word nie en uiteindelik het die eiland vasgevang geraak in ’n spiraal van geweld en agteruitgang. Aardbewings en vulkaniese uitbarstings het die land ‘n ernstige knou gegee. Die Kretense het probeer opstaan uit die puin, maar hoe harder hulle probeer het, hoe meer het hulle agteruit geboer. Kansvat, bedrog en diefstal was kitsresepte om uit die gemors te kom, maar die resultate was, nodeloos om te sê, gedoem!
“Aan Titus, my eie kind in die geloof wat ons bely,” het Paulus in sy brief aan Titus geskryf. “Genade en vrede van God ons Vader en Christus Jesus ons Verlosser!”
Paulus was bekommerd dat Titus dalk nie mooi geweet het hoe om dinge daar te organiseer nie, dus het hy dit duidelik op skrif uiteen gesit: “Ek het jou op Kreta agtergelaat met die bedoeling dat jy die dinge wat nog gereël moes word, in orde moet bring en dat jy in elke dorp ouderlinge moet aanstel.” Hy het vir Titus verduidelik dat hierdie ouderlinge 'n onberispelike lewe moes hê. Die slegte lewe was so deel van die Kretense se lewens, en gelowiges, veral die leiers, moes baie goed verstaan dat sulke dinge verby was. “Selfs onder die bekeerlinge is daar baie wat nog klou aan die ou lewe,” skryf Paulus vir Titus, “Een van hulle eie profete het gesê dat die Kretense altyd leuenaars is, ongediertes, lui vrate. Sulke gesindheid moet uitgeroei word onder gelowiges!”
Maar toe het Paulus verder in sy brief vir Titus geskryf hoe die Here eintlik van 'n gelowige vra om te leef. Hy vra nie die onmoontlike nie! Hy vra dat hulle nugter, eerbaar en verstandig moet wees en dat hulle geloofslewe gesond en vol liefde moet wees. Hulle moet, met ander woorde, 'n heilige lewe lei. “En in alles moet jy self vir hulle die praktiese voorbeeld stel!” het hy vir Titus vermaan.
Tot 'n groot mate leef ons vandag in dieselfde omstandighede as die gelowiges in Kreta. Die voorskrifte wat Paulus gee, geld dus ook vir jou en my, om elke dag onberispelik en heilig te lewe en om op daardie wyse die voorbeeld te stel van wat God van ons as mense verwag.
Maar nie met lang gesigte nie! Kom ons volg ook Paulus se wonderlike voorbeeld en lewe ons borrelende blydskap uit, ten spyte van die verdoemenis van die korrupsie en bendegeweld en al die slegte goed wat dreig om ons te verswelg. So 'n borrelende blydskap is aansteeklik, en kan die wêreld om jou verander!
Gebed:
Heilige Gees, lei my om my geloof onberispelik en met borrelende blydskap uit te leef, elke dag!