​​​​​​​Wedloop van die Lewe

15 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ​​​​​​​Wedloop van die Lewe

2 Timoteus 4:6-8

Paulus is in die dodesel. Wat presies op hom wag, weet hy sélf nie. Gaan hy onthoof word? Moontlik vir die leeus gevoer word soos wat so baie van sy mede-gelowiges te beurt geval het? Of sou hy dalk ook met teer besmeer word en aan die brand gesteek word om te dien as ‘n lewende straatlig? Enige oomblik kan sy tronkhek oopswaai en die soldate kan hom uitsleep. Paulus ontken nie die feit dat sy dood op hande is nie, en hy ignoreer dit ook nie. Hy praat daaroor, gesels daaroor en maak dit effektief deel van sy verkondigingstrategie. Paulus staan in diens van God, in lewe en in sterwe!

n Mens se hele lewe behoort ‘n offer te wees tot eer van God. Dit is daarom dat Paulus dan ook sy laaste dae sien as die laaste deel van die Ou Testamentiese voorskrifte van die offerproses, waar ’n drankoffer aan die Here opgedra word. So wil hy ook vir oulaas ‘n lieflike offer wees. Tot die laaste minuut wil hy nog bruikbaar wees vir die Here.

Vir baie mense beteken ouderdom om op die stoep te gaan sit, hande gevou, en te sê: “Nou het ek genoeg gedoen, nou gaan ek rus!” So ‘n stoepsittery kan dikwels baie jare aanhou, jare wat baie vrugbaar deurgebring kon word. ‘n Mooi voorbeeld van iemand wat besluit het dat sy lewe nie op ‘n stoepsittery kan uitloop nie, was Ds. Samuel Blom: Na sy aftrede het hy in Durban gaan bly, en het hy gesien hoedat die eens-borrellende Middestadgemeente in Smithstraat doodgegaan het, bloot omdat daar nie geld was nie. Hy het dadelik ingespring en begin werk, en vir etlike jare was hy die herder van ‘n brandarm gemeente wat nie eers die ou kerkgebou kon onderhou nie. Van enige vorm van vergoeding vir hom as leraar was daar géén sprake nie, maar hy het sy werk met liefde en vreugde gedoen.

Paulus sê dat die tyd van sy dood voor die deur is (v.6). Die woord wat hy hier gebruik, is een wat letterlik beteken dat ‘n skip wat op die punt staan om uit die hawe te vertrek, losgemaak word van die kaai. As jy al op ‘n kaai gestaan het, sal jy weet dat dit dalk nou nie een van die mooiste plekke is nie. Dis stowwerig, vuil, rof en verinneweer deur duisende skepe wat daar al deur die jare vasgemeer was. Wanneer daardie skip losgemaak word, kies hy koers na die wye oop see. Dan is daar die vars, skoon water wat teen sy boeg opspat, en ‘n seebries wat vars ruik, baie anders as die stinkende ou hawe.

In ‘n mens se lewe is jy ook vasgebind aan baie dinge. Daar is jou besittings, skuld, sonde, mense, jou familie, geliefdes, selfs jou eie liggaam! Jy moet voorbereid lewe, sodat jy nie te styf “vasgemaak” is aan jou geld en aardse besittings nie, want die losmaakproses van so ‘n persoon is ‘n baie moeilike een. Onthou ook altyd dat wanneer ‘n boot wegvaar, dit nie vir ewig vaarwel is nie, en dat sy passasiers weer op ‘n ander bestemming mekaar sal sien. Die heilige Woord van God belowe immers dat ons mekaar weer sal sien. Dit lees ons onder andere in 1 Tess 4:16-17.

Net soos wat ‘n pragtige passasiersboot sy plek aan die kaai volstaan, en dit voel asof sy vertrek ‘n reuse leemte daar gaan laat, so voel dit dikwels ook vir ‘n mens. Jy voel dat jou vertrek ‘n groot verlies vir almal gaan wees. Wie sal ooit by jou kan oorneem? Gaan die kaai leeg en verlate wees sonder jou? Niemand is onvervangbaar nie en weldra is die spasie weer gevul, dalk selfs nog deur ‘n mooier en luukser boot!

Ja, maar die lewe is ook soos ‘n wedloop, so sê Paulus, en hy hardloop alreeds daardie laaste entjie van die pylvak. Voor hom kom die eindstreep nader en nader, en dit is met groot opgewondenheid wat hy sy laaste kragte inspan. Dit was vir Paulus ‘n uitmergelende wedloop, maar hy het vasgebyt tot die bittere einde toe.

Ek en jy is ook nog in daardie wedloop. Dikwels is die opdraendes sieldodend. Soms voel dit asof jou geloofspiere net eenvoudig nie ‘n tree verder kan gaan nie, maar dan doem ‘n waterstalletjie uit die bloute op, en jy kry weer krag om met moed aan te gaan. Ons geloofswedloop is in baie opsigte soos die Comrades. Sommige mense gaan totaal onvoorbereid in daardie wedloop in, en val sommer vroeg-vroeg al uit. Ander oefen hard daarvoor, en hulle pluk die vrugte by die wenstreep.

Net soos wat atlete, dikwels totaal onbekendes, mekaar bystaan, ondersteun en aanmoedig in die Comrades, so is daar medegelowiges op jou geloofswedloop wat jou gedurig aanmoedig en ondersteun. Dit is van uiterste belang dat jy nooit probeer om hierdie wedloop alleen te hardloop nie. Gelowiges versterk mekaar. Daar is egter een baie groot verskil: in die Comrades is dit jou eie krag wat jou by die wenstreep kry. In die geloofswedloop is dit egter God se krag wat jou daar kry! Jy moet net gewillig wees om te hardloop.

Laastens is daar die prys: vir sommige is dit ‘n goue medalje, vir ander ‘n sertifikaat. Vir elkeen wat die Comrades voltooi wag daar egter ‘n prys. Vir elkeen wat die geloofswedloop voltooi wag daar óók ‘n wonderlike prys, die Ewige Lewe saam met Christus. En vir diegene wat die wedloop met onderskeiding voltooi het, wag daar nog baie meer!

Gebed:

Here, maak my gewillig om al my krag te gee in die wonderlike wedloop van die geloof.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026