Eksodus 15:22-16:3
Met die Rietsee (en die Egiptenare!) vir goed agter die rug, begin die trek na die Beloofde land in alle erns.
‘n Volksverskuiwing is ‘n baie dramatiese, en dikwels traumatiese belewenis. Dink maar aan die volksverskuiwings in ons eie land. Die eerste een was die Groot Trek. Dit was baie beslis nie ‘n piekniekuitstappie nie, al word dit soms baie romanties voorgestel. Kos en water was altyd ‘n baie groot vraagstuk, maar gelukkig was wild toe nog volop, en hulle kon die kosvoorrade daarmee aanvul. Maar daar was reuse probleme wat in die ou Voortrekkers se pad gelê het. Vyandige volke (veral die Zoeloes) het verwoesting gesaai onder hulle. En dan was daar nog boonop ook ‘n “Rietsee” wat hulle moes deur - die magtige Drakensberge. Ander trekkers is weer afgemaai deur malaria.
Later het die Dorstland-trek gekom, en weereens het dit gepaard gegaan met baie groot drama. Talle mense het gesterf van dors voordat hulle die “beloofde land”, Angola kon bereik.
Met Israel het dit ook nie sonder drama gegaan nie. Drie dae trek hulle die onherbergsame woestyn in sonder enige water. Dan begin die volk agterkom hoe nodig ‘n mens hierdie eenvoudige kommoditeit het in jou lewe - hoe verskriklik afhanklik jy daarvan is. Uiteindelik, na drie dae is daar ‘n oase. Soos een man storm die Israeliete op hierdie kosbaarheid af. Maar dan, tot hulle groot ontnugtering moet hulle uitvind dat die water ondrinkbaar is - bitter! Die arme Moses is natuurlik weer die vark in die verhaal en die manne storm woedend op hom af. “Wat moet ons drink?” verskreeu hulle hom. Hy moes mos toegesien het dat hulle darem behoorlike water kry! Hy het nie sy beplanning behoorlik gedoen nie!
Wat doen Moses? Hy bid en vra die Here wat hy moet doen. Die Here wys hom ‘n stuk hout wat hy in die water moet gooi en wanneer Moses dit doen is die water oombliklik heerlik soet en drinkbaar.
Die Here lê vir die volk ‘n reël neer: Hulle moet doen wat Hy vra. Hulle moet absolute gehoorsaamheid aan Hom openbaar en hulle moet leef volgens Sy voorskrifte. Doen hulle dit, sal hulle gevrywaar word van al die peste en plae wat Hy oor Egipte gebring het. As ons deur die boek Eksodus blaai, dan merk ons dat dit hier eintlik gaan oor gehoorsaamheid aan God, eerder as oor die uittog uit Egipte. Hier het hulle pas God se eerste les gehad in gehoorsaamheid - Hy sê vir hulle: “Luister .... Doen wat reg is ..... Wees gehoorsaam.” En dan voeg Hy by: “want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.”
Wanneer die volk van Mara (die plek van bitter water) wegtrek, bring die Here hulle weereens by ‘n oase met die naam Elim. Wanneer hulle na dae se trek deur die dorre woestyn oor die sandduin kom, lê die pragtige gesig voor hulle - sewentig palmbome in die middel van nêrens. Daar is nie minder nie as twaalf fonteine en ‘n oorvloed water. Dis is asof die Here Sy sorg wil demonstreer aan die volk nog voordat hulle daardie gehoorsaamheid wat Hy van hulle vereis kon uitleef. Dit wys net weereens vir ons hoe groot God se genade oor ons werklik is!
Maar op water alleen kan ‘n volk nie leef nie. Die volk is nou al baie diep die Sin-woestyn in en daardie skotteltjies ongesuurde brood deeg is lankal op. En nou raak hulle honger en skuins-ongedurig. Waarskynlik is die Sin-woestyn iewers in die suidwestelike deel van die Sinai-skiereiland. Die volk kla steen en been: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het,” kerm hulle. “By die vleispotte van Egipte het ons minstens genoeg gehad om te eet! Maar nee, ons móés mos trek! Nou gaan ons almal hier van die honger omkom!”
Dit is ‘n baie groot krisis en Moses besef dit maar terdeë. Maar teen hierdie tyd weet Moses ook al dat die Here voorsien in alle omstandighede. Wat hy nie kan verstaan nie, is dat hierdie volk dit nog nie kan begryp nie. Hoeveel wonderwerke moet nog plaasvind voordat hulle gaan leer dat God Almagtig is en dat Hy op ‘n asemrowende manier kan voorsien? Was die deurtog deur die Rietsee nie al klaar genoeg bewys nie? Vir ses weke nou al sorg die Here vir hulle sedert hulle begin trek het en hulle sien elke dag God se teenwoordigheid in die wolkkolom en snags in die vuurwonderwerk wat voor hulle in die lug hang. Maar steeds kla hulle. Eintlik gaan dit nie soseer oor die kos nie, maar hulle kom in verset teen Moses se leierskap en daarmee eintlik ook teen God.
Maar weereens is God genadig ten spyte van hulle verset, en Hy voorsien kos op ‘n wonderbaarlike wyse - maar met sekere voorwaardes. En so word die volk stadigaan gehoorsaamheid geleer.
Hoe lyk my en jou gehoorsaamheid aan God? Moet Hy nie ook maar dikwels hard met ons praat om ons tot gehoorsaamheid te lei nie? Ja, ek staan sélf dikwels baie skuldig. Maar ek het ‘n baie genadige Vader wat verstaan en my net weer en weer en weer ‘n kans gee terwyl Hy my aanspoor tot gehoorsaamheid!
Gebed:
Here, ek wil so graag aan U gehoorsaam wees, maar ek struikel so dikwels. Maak asseblief my lam knieë sterk sodat ek staande kan bly en U dien volgens U wil!