Markus 7:14-23
Die Fariseërs het Jesus se gesag probeer afkraak met hulle aanmerkings oor die reinheidswette wat Jesus en Sy dissipels so blatant verontagsaam het. Dit het Jesus genoop om vir die skare te verduidelik waaroor dit éintlik gaan.
Wanneer Hy almal se aandag het, sê hy: “Luister julle almal na My en verstaan! Daar is niks wat van buite af in 'n mens ingaan wat jou onrein kan maak nie, maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dit is wat jou onrein maak.” (Markus 7:14,15)
Die mense het Jesus verdwaas aangekyk, hulle het nou gladnie verstaan nie. Nog ál die jare was hulle en hulle voorgeslagte geleer dat daar sekere dinge is wat jy net eenvoudig nie durf eet nie, want dis onrein. Wou Jesus nou kom en ‘n dik, vet streep trek dwarsdeur die leerstellings van die Fariseërs? Kon jy nou maar eet nét wat jy wou? Hulle was verward!
Daardie aand het Jesus-hulle in iemand se huis tuisgegaan. Die manne se gemoedere was vol kwellende vrae. “Meester, ons verstaan nou gladnie hierdie ding van rein en onrein kos nie. Wat presies het U bedoel?”
Dit moes vir Jesus baie swaar gewees het dat hierdie manne wat later verantwoording sou moes neem vir die ganse kerk van die wêreld, so traag was om te verstaan. Só graag wou Hy dat hulle leer en begryp en geestelik groei, maar dit het nie gebeur nie. Hulle kon maar nie wegkom van die ou ingewortelde tradisies en leerstellings nie. Hulle het alles wat nuut was gewantrou. Hulle sou eers die Heilige Gees moes kry om hulle verstand waarlik oop te maak.
Toe verduidelik Jesus, dat sogenaamde “onrein” kos jou nie onrein kan maak nie. Dít wat jy eet kom nie eers náástenby by jou hart uit nie. Jou ete en drinke het absoluut niks te doen met die wesenlike van jou verhouding met God nie. En dit sou ‘n mens ook kon deurtrek na die uiterlike reinigingswette in gister se oordenking. Uiterlike reinheid het dus ook niks te doen met jou verhouding met God nie.
Die implikasies van hierdie uitspraak van Jesus is genoeg om enige opregte Jood se hare te laat regop staan. Markus noem in vers 19 so terloops dat Jesus hiermee alle kos rein verklaar het. Wat dan van al die rye en rye voorskrifte oor vleis wat jy nie mag eet nie? Onder andere is daar seker die ergste van almal: varkvleis! ‘n Jood sou nie eers aan ‘n vark raak nie, wat sê nog om sy vleis te eet! Dit laat jou gril!
Ek dink dat die twaalf manne gehoor het wat Jesus hulle vertel het en toe maar gerieflikheidshalwe weer daarvan vergeet het, want dit was darem nou eenmaal nét te erg. Dit was eers héélwat later dat Petrus wéér hiermee gekonfronteer is, toe hy die droom gehad het van God se bevel dat hy onrein diere moet slag en eet. Eers tóé het hy so langtand begin verstaan hiervan. Ons lees in Handelinge 10 van Petrus se droom, en hoe die Here daar vir hom sê dat hy nie onrein mag verklaar wat God rein gemaak het nie.
Jesus het vir die twaalf verduidelik dat dit nie gaan oor kos of reinheidswette of enige uiterlike ding nie. Dit gaan nie oor die voorskrifte en reëls wat stiptelik nagekom moet word nie. Alles wentel rondom jou innerlike gesindheid wat rein moet wees. “Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid,” sê Jesus vir hulle in vers 21 en 22. Daar is seker nog baie ander goed wat ‘n mens aan hierdie skrikwekkende lysie kan heg.
Vir meeste gelowiges vandag is “onrein kos” nie eers meer ‘n kwessie nie, alhoewel daar steeds enkeles is wat ‘n probleem daarmee het. Ons het egter die klem ‘n bietjie verskuif na ‘n rits moets en moenies. Die groot ding is dat jou hart aan God moet behoort. As dit gebeur, sal jou ganse lewe ingrypend verander. Ons mag dan ook nie aan ander gelowiges probeer voorskryf oor wat hulle mag en nie mag doen nie, asof dit ‘n Goddelike opdrag is. Dit is ‘n persoonlike saak vir elke gelowige tussen hom en God.
Dit is interessant, en tegelyk ook baie belangrik om te sien hoe Jesus die manne onderrig, en met watter gesag Hy dit doen. Anders as die ander rabbi’s wat die mense slegs kon leer oor dinge uit die Ou Testament en oorgelewerde gebruike, sonder om sélf werklik te verstaan waaroor dit gegaan het, het Jesus presies die betekenis verstaan. Hy kon dus vir die manne ‘n uitleg gee daarvan, maar baie meer nog: Hy het die gesag om selfs die Ou Testamentiese voorskrifte te wysig of op te hef, soos Hy gedoen het met die reinheidswette omdat hulle uitgedien was.
Kom ons gaan dink dus weer ‘n slag baie mooi oor ons Godsdienstige gebruike en ons moets en moenies. Waaroor gaan dit werklik? Is dit eerlikwaar tot eer van God? Maar nog belangriker: kom ons gaan kyk ‘n slag hoe ons binneste lyk. Leef ek waarlik tot God se eer? En die grootste van alles: leef ek liefde uit soos wat God dit van my vra?
Gebed:
Here, maak asseblief my oë oop sodat ek kan sien hoe my binneste lyk. Help my om rein te wees van binne, tot U eer.