1 Timoteus 1:5-11
Jare gelede het ‘n gesprek plaasgevind wat my baie diep laat dink het. Klein Johan was toe maar nog ‘n seuntjie in die laerskool, en sy pa het iets vir hom gesê wat hom dwars in die krop gesteek het. “Pa, ek wéét Pa is áltyd reg, maar ......” En toe vertel hy huiwerig, en vol vrees en bewing vir Pa dat hy hierdie keer nie saamstem met wat Pa sê nie. Terselfdertyd verwag hy enige oomblik 'n dwarsklap omdat hy durf verskil met Pa.
“Wie is jy om met my te kom staan en stry?” is dikwels die reaksie van ‘n baas, “Ek is reg, en jy is verkeerd! Ek is die baas, onthou!” Of in die kerk sal jy dikwels hoor: “Moenie nou kom staan en karring om dinge te verander nie - ék is immers die hoof ouderling, en ék sal besluit as dinge moet verander!”
In twisgesprekke gaan dit gewoonlik net om één ding: selfregverdiging. Die ware doel van egte Christenleierskap is om liefde te wek. Hoe wek ‘n mens liefde? Nie deur jouself te verhef of deur baas te speel nie, maar deur selfopofferend te leef sodat jy in die eerste plek God se eer kan soek en tweedens dinge sal doen tot voordeel van jou naaste. Jesus het immers die ganse wet opgesom deur te sê dat jy God en jou naaste moet liefhê. Christenleierskap moet in die héél eerste plek die doel hê om hierdie gebod in sy volheid uit te leef. Moenie probeer om ander dinge na te jaag nie. Die sukses van ‘n goeie Christenleier kan gemeet word aan die mate waarin hy die instrument was om liefdevolle verhoudinge binne sy groep ‘n werklikheid te laat word. “’n Rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof” (v.5) is die vrugte wat gepluk kan word uit sulke verhoudinge.
Ek onthou van jare gelede se sinodesittings, kerkraadsvergaderings ens. waar daar ure en ure lank gestry is oor sekere twispunte. Daar was byvoorbeeld die een kerkraadsvergadering waar die hele aand se gesprek (gestry!) gegaan het oor die ouderlinge en diakens se kleredrag. Was hulle verplig om spesifiek swart pakke te dra, of kon hulle ander klere aantrek kerktoe? Teologiese haarklowery oor presies hoe ‘n sekere woord verstaan moet word, was aan die orde van die dag. Ek het sulke vergaderings uiters frustrerend gevind, en die gevolg was dat ek elke keer weggeskram het as iemand my na ‘n sinodesitting wou stuur.
Die afgelope paar jaar het ek die voorreg gehad om die sinodevergaderings van die NG Kerk in KZN by te woon. Wat ‘n verrykende ondervinding was elkeen van hulle! Al die “ringkoppe” gaan telkens uit hulle pad om die ganse vergadering ‘n spirituele ondervinding te maak vir elkeen wat dit bywoon. Die vervelige besigheidsdeel van die vergadering vlieg soos ‘n gedagte verby!
’n Groot deel van die vergadering word daaraan gewy om “stories” te vertel van die verskillende gemeentes, hulle probleme, uitdagings en belewenisse, asook van die werksaamhede van die kerk in Natal. Almal is opgewonde saam met gemeentes wat wonderlike suksesverhale kan vertel. En almal voel saam met gemeentes waar dit swaar gaan. Ten spyte van mense daar buite wat baie swartgallig is oor die kerk, is daar wonderlike dinge besig om te gebeur. So 'n sinodevergadering is waarlik vir elkeen wat daar is, 'n geestelike verryking en inspirasie.
Die tema van een so 'n sinode 'n paar jaar gelede, was: “Op pad met Jesus”. Sekerlik een van die hoogtepunte was, toe ‘n klomp mense van ‘n verskeidenheid ander denominasies en kulture by ons aangesluit het, en ons ‘n wonderlike gesprek kon hê en ook op daardie vlak ons stories met mekaar deel. Daarna kon ons saam met 'n verskeidenheid kerke nagmaal vier.
Wanneer Paulus hierdie brief aan Timoteus skryf, dan sien ons dat dit in die Evangelie in die eerste plek gaan om die verhouding met God. Ja, natúúrlik het voorskrifte hulle regmatige plek, maar hulle mag nóóit die intiem-persoonlike, liefdevolle verhouding met God vervang of oorskadu nie. As jy jou leierskap wil uitoefen deur allerhande wette te maak, sal jy nooit al die skuiwergate toegestop kry nie. Jy gaan jouself moeg maak, en die frustrasies gaan jou opvreet, terwyl jy almal wat onder jou leiding staan verward en moedeloos gaan maak.
Ek dink dat elkeen van ons wat in die een of ander leiersposisie staan, kan leer uit wat Paulus vir Timoteus skryf, en wat die Heilige Gees ook vandag deur hierdie Skrifgedeelte vir jou en my wil sê. Ons kan dit opsom deur te sê dat leierskap nie gaan oor my as leier, of om wette te maak en af te dwing nie. Dit gaan om die wonderbare liefde van Jesus uit te leef en terselfdertyd diegene wat onder jou leiding staan sodanig te inspireer, nie alleen deur wat jy verkondig nie, maar deur jou hele lewenswyse. Met my optrede, houding, blydskap, en alles wat daarmee saamgaan, moet ek almal met wie ek in aanraking kom honger maak om daardie selfde liefde wat uit my uitstraal te kan kry, en ook op dieselfde wyse uit te leef met hulle hele hart.
Gebed:
Here, ek moet vanoggend bely dat my leierskap so dikwels oor myself gaan. Help my om onselfsugtig U liefde uit te leef, en so ander te inspireer.