Die verhaal van Rut gaan oor brood-en-botter-sake, die harde werklikheid van die lewe waarin mense só dikwels vasgevang word in ‘n stryd om oorlewing. Werk is skaars! ‘n Kwart van ons land se mense is werkloos. Talle mense trek op soek na groener weivelde, dikwels vrugteloos. Sommige emigreer selfs, en dan gaan dit nie altyd makliker daar anderkant nie! Dikwels huil hulle om terug te kom, maar dan is dit reeds te laat. Die verhaal van Rut is een só ‘n verhaal van ‘n gesin wat moes trek omdat daar vir hulle nie meer ‘n uitkoms in hulle eie land was nie.
Die verhaal begin met groot swaarkry. ‘n Uitmergelende droogte het Juda in sy ystergreep gehad. Die landerye het nie oeste opgelewer nie, alles verskroei deur die genadelose son. Elimelek het ‘n stukkie grond probeer bewerk, maar sonder om ‘n enkele koringkorreltjie te oes. Daar was later nie meer kos in die huis nie. Elimelek en sy vrou Naomi was twee baie bekommerde mense, want die land van melk en heuning waarheen Moses hulle destyds gelei het, gee vir hulle nie meer daardie asemrowende druiwetrosse wat Josua en Kaleb-hulle daar aangedra het nie. Die wêreld het verander in ‘n dor woestyn! Hierdie gesin staar nou letterlik die dood in die oë, en hulle weet nie meer watter kant toe nie.
Dan neem Elimelek ‘n baie drastiese besluit. Nadat hy vir dae lank gesit en tob het oor die saak, roep hy sy gesin bymekaar. “Ons gaan trek!”
“En waarheen nogal?” wil Naomi weet. Die praatjies van die vrouens het haar laat verstaan dat hierdie droogte landwyd is, regdeur die hele Juda. Wat help dit om een droogte vir ‘n ander droogte te verruil?
Dan laat Elimelek die bom bars: “Moab! Ek het gehoor dat dit beter gaan in die land van die Moabiete.”
Naomi se hart gaan staan amper. Sy slaan haar hande voor haar mond. “Nee! Nee Elimelek, ons kan mos nie! Die Moabiete is ons vyande. Hulle het oorlog gemaak teen ons!”
Maar haar man het klaar besluit, hulle emigreer! Baie ver weg, na die land Moab, ‘n heidense land aan die anderkant van die Dooie See.
Maglon en Kiljon, hulle twee seuns is opgewonde. Dis ‘n splinternuwe avontuur wat op hulle wag, weg van die alledaagse ou rompslomp van Juda. En weg van die vaal ou Joodse meisietjies. Al die jong manne praat mos van die beeldskone meisies van Moab! “Wanneer trek ons, Pa?”
En so pak Elimelek al sy besittings in Betlehem op en neem sy vrou Naomi en sy twee seuns na die onbekende. Hulle steek die droë bedding van die Jordaanrivier oor en verlaat die Beloofde Land, die land wat God hulle gegee het, om ‘n heenkome te vind waar daar kos is.
Die gesin is opgewonde om ‘n nuwe lewe aan te pak waar hulle van voor af kan begin. Maar Naomi het die hele tyd ‘n beklemming om haar hart. Sy voel skuldig om haar land en haar familie agter te laat, en nou moet sy tussen ‘n klomp heidene gaan bly. En haar seuns? Wat gaan van hulle word? Maar as Elimelek eers ‘n ding in sy kop gekry het…. Sy sug swaar.
Dinge begin nie lekker vir Naomi in die nuwe land nie. Sy sukkel om met die ander vrouens te kommunikeer. Nie alleen is almal afsydig teenoor haar omdat sy ‘n vreemdeling is nie, maar die taal is ‘n reuse struikelblok. Maar haar groot bekommernis is eintlik oor haar man. Vandat hulle hier aangekom het, is hy nie lekker nie. Sy sien hoe hy dag-vir-dag agteruitgaan, letterlik wegkwyn. Later kan hy gladnie meer werk nie. Hy sit net heeldag so voor hom en uitstaar. Gelukkig het die twee seuns sommer dadelik ingeskakel, en dit was nie lank nie, toe is hulle opgeneem in die Moabitiese weermag. Met hulle loon kon hulle darem die pot aan die kook hou.
Op ‘n dag tref ‘n groot ramp die gesin. Pa Elimelek se gesondheid neem ‘n drastiese wending, en hy sterf. Hy laat vir Naomi met haar twee seuns alleen agter in die vreemde. ‘n Bedroefde Naomi het daar nie eers haar vriende of familie om haar te troos nie. Maar daar is ‘n ander, baie groter swaard wat oor haar kop hang - haar seuns. Maglon se naam beteken “swak” en Kiljon beteken “gedaan”. Gaan hierdie twee seuns nie dalk dieselfde pad as hulle pa loop nie? En waar gaan hulle vrouens kry? Sy hoop tog nie hulle raak verlief op hierdie beeldskone heidense meisies nie!
Dikwels loop die lewe draaie met ons wat vir ons bitter moeilik is. Naomi het beslis op ‘n laagtepunt in haar lewe beland.
Paulus en Habakuk het ons geleer dat jy selfs in die donkerste put steeds borrelende blydskap kan beleef. Die groot geheim is om jou blydskap in die Here te soek!
Sal Naomi ooit weer haar blydskap kan vind? Kom ons volg hierdie verhaal en vind uit.
Gebed:
Here, so dikwels beland ek ook in die put van angs en desperaatheid. Gee my asseblief ‘n borrelende blydskap in U deur al my omstandighede.