Waardelose Rituele

10 June, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Waardelose Rituele

Hebreërs 9:1-14

Dit is 1967 in Durban Noord se NG Kerk. Ons is besig met ‘n ernstige kooroefening, want die kerkkoor lewer binnekort ‘n groot optrede, en alles moet perfek wees. Ons sing ons harte uit, en ons briljante koormeester raak opgewonde. “Gaan aan!” beduie hy terwyl hy van die koorgalery af verdwyn. “Basse, méér volume!” skree hy daar onder uit die kerk uit. Ons sing dat die biesies bewe, en in die hemel klap die engele hande. Ons koormeester is ‘n perfeksionis! “Nooouuu!” hoor ek hom bulder van êrens af, en ek gee my allerbeste. Maar dan snak ek na my asem. Dis mos heiligskennis! Hoe kan hy! Ek hou op sing. Op die preekstoel van alle plekke staan hy en dirigeer. Niemand durf daar, in die allerheiligste van plekke opklim buiten die predikant nie! Ek is geskok tot in my fondamente toe.

Om jou godsdiens te veruiterlik, is ‘n baie gevaarlike praktyk. Om byvoorbeeld ‘n sekere plek as “heilig” te beskou, soos die kansel wat vir die uitsluitlike gebruik van ‘n predikant bedoel is, of om dalk die kerkgebou heilig te verklaar. Ek onthou ‘n tyd toe daar soveel voorskrifte was oor presies hoe jy moet aantrek ens. As kerkraad was ons verplig om swart pakke en wit dasse te dra. Die vrouens moes hoede dra en die manne het in die warm dele van die land sit en stoom in hulle pakke klere en dasse. En die arme dominee is boonop nog gestraf met ’n toga bo-oor sy pak klere! Elke Sondag! Daar was ‘n spesifieke verloop van die erediens, wat niemand durf verander nie. Wanneer die konsistorie se deure oopgaan, staan die gemeente soos een man op en sing: “Here Jesus, ons is saam.” Onthou jy nog? Dan was daar die formuliergebede wat die dominee woord-vir-woord moes aflees tydens Nagmaal Iemand het dit eenmaal ’n “huigel-huigel, amen” ritueel genoem. Daar was ‘n onbuigsaamheid in die vorm en verloop van die erediens, en hierbinne het mense veilig gevoel, want só aanbid jy mos vir God.

Natuurlik moet daar orde in Godsdiens wees, maar as dit so rigied raak dat dit jou godsdiens bepaal, of dat dit sekere mense insluit en ander uitsluit, raak dit gevaarlik. Dan gaan dit oor die Godsdiens en nie oor die Evangelieboodskap nie. As jy die Evangelie suiwer en effektief wil oordra, moet die vorm van die godsdiensoefening aanpas by die boodskap, en nie andersom nie. Vormgodsdiens gee jou ‘n valse sekuriteit. Ek sélf het vir jare veilig gevoel in die kerk, want ek het die regte geluide gemaak en die regte voorskrif gevolg. Tot ek op ‘n dag met ’n groot skok uitvind dat ek eintlik verlore is binne in die kerk!

Ons beoefen vandag dikwels steeds vormgodsdiens. Om die gewete te sus, lees jy saans ‘n versie uit die Bybel voor slaaptyd, dikwels sonder om eers te dink wat jy lees. Die Here praat met ons deur Sy Woord, en om so daarmee om te gaan is vir Hom ‘n klap in die gesig! As jy nie tyd het om waarlik na Hom te luister nie, los dit dan liewer hééltemal uit! Ander voorbeelde is, soos hoe ons bid en waarom ons dankoffers gee. Dit is dikwels net om die gewete te sus of om vir ander mense te wys dat ons darem die regte ding doen.

Een van die grootste probleme van die Ou Testamentiese tempeldiens was die oormatige beklemtoning van die uiterlike vormgodsdiens. Die Hebreërskrywer beskryf hier hoe die dinge verloop het, en jy kom agter dat elke ritueel haarfyn uitgewerk is. Met groot bekoring beskryf hy die meubels in die tempel, die kandelaar, tafel en offerbrode. Voor in die verbondstent was slegs priesters toegelaat, waar hulle die volk verteenwoordig het. Hulle moes ook deur sekere reinigingsrituele gaan voordat hulle daar kon ingaan. Dan was daar die allerheiligste agetr die voorhangsel, waar slegs die hoëpriester kon ingaan, want daar woon God. Daar was die verbondsark en ander heilige voorwerpe, en daar het die hoëpriester elke jaar ‘n offer gebring.

Jesus Christus het egter kom dien as Hoëpriester in die volmaakte hemelse verbondstent. Vir Hom was dit slegs nodig om eenmaal die heiligdom binne te gaan om ‘n offer te bring. Sy offer was nie die bloed van kalwers, bokke en bulle nie, maar Sy eie, kosbare bloed wat Hy vir ons kom stort het as ‘n ewige versoeningsoffer, sodat offers nooit, óóit weer nodig sou wees nie.

Natuurlik het al die rituele ‘n doel gedien, om vooruit te wys na die groot offer wat Jesus sou bring. Vandag is rituele totaal onnodig, tensy dit ‘n spesifieke boodskap moet oordra. Wanneer ‘n ritueel uitgevoer word, moet jy ook uiters versigtig wees dat jy die regte ingesteldheid het. Die Nagmaal is so ‘n “ritueel” wat maklik misbruik of uit bygeloof gebruik kan word. Dit kan so maklik gebeur dat jy dink dat jou sondes afgewas is omdat jy Nagmaal gebruik het. Dit is ‘n illusie! Alleen die versoenende bloed van Jesus kan jou van sonde bevry. Die Nagmaal is ‘n gedenkmaal om ons daaraan te herinner. Inderdaad word jou lewe radikaal getransformeer die dag wanneer jy Jesus se versoening smaak, en dit laat jou met totale nuwe oë na die rituele kyk.

Gebed:

Dankie vir U groot offer, Here. Laat my dit nooit vir een oomblik vergeet nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026