Waar Pas Glossolalie in?

14 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Waar Pas Glossolalie in?

1 Korintiërs 14:1-25

Kyk die Video

Ek sit in die dokter se spreekkamer, druk besig met my eie gedagtes. Die spreekkamer is vol - dit gaan vanoggend ‘n lang wag wees. ‘n Mamma kom in met haar seuntjie. Hy sien die kas speelgoed in die hoek en kies reguit koers daarheen. Ek wonder watter soort speelding hy daar gaan kies. Die mannetjie gryp hier, los daar en dan trek hy uit die dieptes van die kas ‘n ding uit wat my hare laat regop staan. Wie sou so onnosel wees om ‘n blokfluit tussen die speelgoed in ‘n dokters spreekkamer te gaan ingooi? Daar moet mos stilte wees!

Die mannetjie se gesig straal. Hy trek sy longe vol lug en blaas met alle mag. Een ou omie wat aan die slaap geraak het val so ampertjies van sy stoel af. ‘n Aaklige skree-fluit op een vals toon vul die vertrek. Dan ontdek hy dat as hy die gaatjies toedruk, hy ander klanke ook kan voortbring. Die “musiek” wat hy maak het geen ritme nie en geen wysie nie, en ek wil my ore toedruk. Maar die mannetjie is in ekstase. Hy is die enigste een in die hele vertrek wat sy uitvoering geniet en verstaan. Genadiglik kom Mamma uiteindelik darem tot almal se redding, natuurlik tot groot ontsteltenis van Junior!

Paulus wy die hele hoofstuk 1 van Korintiërs 14 aan glossolalie, oftewel die gebruik van ongewone tale of klanke, asook profesie, die gawe om GOD se boodskap te verkondig. Hy begin deur te verduidelik dat glossolalie en profesie verstaanbaar moet wees, en dat dit nie net gelowiges nie, maar ook ongelowiges moet kan opbou. Daarna verduidelik hy dat dit ordelik moet geskied. In die slotgedeelte van die hoofstuk vat hy alles saam. Hy vra dat hierdie dinge nie verbied moet word nie, maar dit moet so gebruik word dat daar orde in die erediens is.

Eredienste in daardie jare was totaal anders as dié waaraan ons vandag in ons geordende gereformeerde kerke gewoond is. Daar was absoluut géén leiding van enige persoon nie. Dit het enige gemeentelid, ongeag sy herkoms of status, die reg gegee om op te staan en ‘n bydrae te lewer in die diens. Dit kon ‘n woord van wysheid wees, ‘n Psalm, ’n openbaring of ‘n uitspraak in ‘n vreemde taal of klank, alles was aanvaarbaar.

Ongelukkig het mense met mekaar gekompeteer. Sommige wou die “supersterre” wees en vir hulleself aansien verwerf. Dikwels het mense mekaar selfs verskree. Om ‘n ordelike beurt te kry was dikwels ‘n onbegonne taak. Daar is baie gepraat, min geluister, en bitter min het aan die einde van die dag sin gemaak. Mense het kwaad vir mekaar huistoe gegaan. Dit was ‘n droewige situasie van wanorde.

Paulus se doel was om met hierdie skrywe basies twee dinge te bereik: eerstens om liefde en vrede tussen die gelowiges te herstel, en tweedens om orde te probeer skep in die erediens.

Die eerste groot doring in die vlees was glossolalie wat so gruwelik misbruik is in die gemeente. Hulle moes baie mooi verstaan wat hierdie gawe werklik is, en hoe dit reg gebruik moes word.

Glossolalie, die uiter van vreemde klanke of tale, is eintlik ‘n gebed of lofprysing, ‘n kommunikasie met GOD. Dit is beslis nie ‘n verstaanbare kommunikasie met mense nie, en dit dien slegs tot opbouing van die persoon wat dit uiter, en nie vir die res van die gemeente nie (1 Kor 14:2-4).

Per geleentheid was ‘n verskeidenheid kerke van Ballito saam met ‘n byeenkoms. Toe die persoon wat leiding neem sê: “Kom ons bid saam,” volg iets waarvoor ek totaal onvoorbereid was. Rondom my het almal skielik gelyktydig hardop gebid, sommige in vreemde tale. Vir my, asook vir ’n hele paar ander mense uit ‘n gereformeerde tradisie, was dit totale wanorde. Wat begin het as ’n groot geestelike ervaring, het alles vir my totaal platgeval. Baie van die wat daar betrokke was, het net eenvoudig nie weer soortgelyke byeenkomste bygewoon nie. Wat veronderstel was om gelowiges byeen te bring, het gelowiges uitmekaar gejaag.

Paulus gebruik die analogie van ‘n fluit wat net ‘n warboel van klanke speel, soos daardie seuntjie in die spreekkamer. Dit maak jou ore seer, maar as daar ‘n herkenbare wysie is, is dit ‘n totaal ander saak. As die spreek van tale nie gepaardgaan met ‘n Gees-geïnspireerde uitleg daarvan nie, dan moet dit liewer tuis bly.

Profesie daarteenoor, die verkondiging van die Woord, is van baie groter betekenis. Dit stig mense en bou die gemeente op. Dit trek gelowiges van uiteenlopende denominasies saam as ‘n hegte eenheid.

Is dit dan verkeerd om in tale te praat? Nee, beslis nie! Paulus het dit self ook gedoen (vers 18). Maar as jy dit wil doen, dan moet dit op die regte plek en tyd geskied, sodat niemand daardeur ontstig sal word nie.

Gebed:

Here, gee my asseblief die wysheid om die gawes wat U my gegee het op die regte tyd te gebruik sodat mense daardeur gestig sal word en sodat dit tot U eer sal geskied.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026