1 Petrus 1:22-25
Hoe behoort jou lewenswyse te verander nadat jy die dag wedergeboorte ervaar het? Eenvoudig: jy moet daarna begin streef om te lewe soos God wil hê dat jy moet leef!
Ons ry een oggend oor die vlaktes van Zoeloeland, in die omgewing van Sodwana. Ons is haastig om by die huis te kom, maar jy kan ook nie eers ‘n bietjie voet in die hoek sit nie, want elke kilometer of twee is daar ‘n paar beeste wat oor die pad kruie. En as dit nie die beeste is nie, dan is dit een van die talle klein dorpies wat jy deurry, elkeen besaai met spoedhobbels, waarvan sommige so skerp en hoog is dat jou tande op mekaar klap. Ek is ongeduldig, en ek hou nie juis by die spoedbeperking nie want ek is haastig om by die huis te kom!
En dan sien ek hierdie verstommende gesig: In die middel van een van die dorpies is daar nóg ‘n spoedhobbel, geverf in sebrastrepe vir ‘n voetgangersoorgang. Skielik sien ek die beweging, ‘n hoendertjie wat in dolle vaart aangehardloop kom. Ek sien al die plat hoender! Maar hierdie een is anders, sy hardloop pylreguit na die sebrastrepe toe, en stap ewe kordaat oor die pad, al op die voetgangersoorgang langs! Ek trap haastig rem terwyl my mond onbeskaamd oophang. Ek en Mosbolletjie verloor albei totaal beheer oor ons lagspiere. Ek kan nie glo wat ek sien nie. Maar was dit nie dalk vir my ‘n vingerwysing oor my eie padgedrag nie? Ek het menselewens in gevaar gestel deur vinniger te ry as die spoedgrens! Talle klein kindertjies speel langs die pad, en ‘n ongeluk kom tog só maklik! Om padreëls te verontagsaam is om liefdeloos op te tree teenoor jou medemens!
Kyk net ‘n bietjie wat Petrus sê in vers 22: “Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê.” Hierdie is nie sommer ‘n flou, afgewaterde soort van liefde waarvan hy praat nie maar ‘n liefde met jou hele hart. Naasteliefde is om om te gee vir jou medemens, maak nie saak of hy ‘n ongelowige is nie. Dit is al klaar moeilik genoeg. Broederliefde is die hegte liefdesband tussen medegelowiges. Dit is nie ‘n maklike liefde nie, want sommige van ons medegelowiges kan dikwels maar moeilik wees en jou selfs seermaak met kwetsende woorde. Ek moet dit dikwels verduur, selfs in die kerk, van mense wat diep gelowig en oral betrokke is. Om daardie persoon daarna steeds ten spyte daarvan van harte en vurig lief te hê, raak dan minder maklik.
Ongeveinste liefde beteken dat ek nou nie maar net aan my eie behoeftes dink, soos wat dit in my natuur ingewortel is nie. Dit is, om die waarheid te sê, gládnie natuurlik om vir mekaar lief te wees nie! Dit verg van my ‘n volgehoue inspanning om hiermee vol te hou. Boonop mag dit nie toneelspel wees nie. Ek onthou ‘n toneel uit een van die klassieke “Carry-on” flieks, waar die Britse kommissaris en die Indiese prins by ‘n funksie net buite hoorafstand van mekaar sit. Die Brit knik vriendelik in die rigting van die prins, ‘n breë grimlag op sy bakkies, maar dan sê hy die allervreeslikste dinge van hom onder sy snor deur. Aan die ander kant loop die prins ook oor van vriendelikheid terwyl hy nét sulke aaklige dinge van die Brit sê.
Nee, ongeveinste liefde is nie ‘n pragtige toneelspeel-glimlag nie, maar dit moet diep uit die hart kom. As ‘n mens die dag God se wonderbare liefde besef en ervaar, kan dit net eenvoudig nie anders as om gedring te word om daardie liefde uit te straal na almal waarmee jy te doene kry nie. Nog soveel meer as daardie band van die wedergeboorte jou bind met die ander persoon. Julle het immers saam vir God as Vader, so julle is dan mos bloedboeties en -sussies van mekaar!
Petrus sluit hierdie perikoop in vers 23 af met ‘n aanhaling uit Jesaja 40:6-8 as hy die verganklikheid van die aardgebonde mens afspeel teenoor die absolute onverganklikheid van die Goddelike: “Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” Jesaja het dit so mooi gestel, dat die mens soos gras is of veldblommetjies. So dikwels het ek beleef in die Bos dat die pragtige, wuiwende grasvelde na ‘n goeie somerreën aan die einde van die winterdroogte kaalgevreet is sodat daar dikwels nie eers stoppeltjies oorbly nie, net die barre klipperige grond. Selfs die Namakwalandse blommeprag in al sy glorie het maar ‘n korte lewensduur, en kort voor lank verskroei en verdwyn dit. Die Woord van God bly egter vir ewig. ‘n Mens moet nie te veel van jouself dink, sodat jou lewe net om jouself draai nie, want jy is verganklik soos die gras en blommetjies. Jy moet egter die lewe wat God jou gee gebruik om Hom te dien. Een van die maniere om Hom te dien is om jou hart oop te maak vir jou mede-gelowiges, en hulle van harte en vurig lief te hê.
Gebed:
Here, neem asseblief my liefdelose hart en vorm dit met U wonderbare liefde, sodat ek kan straal met die liefde wat U in my geplant het, en maak asseblief my liefde opreg!