Markus 5:21-34
Sy voel skuldig en sy bewe van angs as sy deur die skare beur. Gelukkig herken niemand haar nie, anders is dit klaarpraat met haar!
Alles het twaalf jaar gelede begin, toe haar maandelikse siklus wat alle vroue tref langer aangehou het as normaal. Sy het haar nie juis daaraan gesteur nie, dis maar net een van dáái dinge! Sy het gesug, want dis die lot van die vrou, Eva se skuld! Dis sý wat alles begin het toe sy ongehoorsaam was aan God!
Die volgende maand was dit wéér sulke tyd, maar toe hou haar bloed nóg langer aan met vloei, en daarmee is sy vir nog ‘n langer tyd onrein. Sy het begin bekommerd raak, was daar nie dalk iewers fout nie? Toe dit die derde maand agtereenvolgens gebeur, besluit sy om ‘n dokter te gaan sien. Maar dit was nie ‘n maklike besluit nie, want sy het skaam gevoel oor haar toestand. Hoe vertel jy vir ‘n dokter van wat gebeur met die mees private deel van jou liggaam? Sy het nooit by die dokter uitgekom nie…..
Uiteindelik, na ‘n paar maande van uiterste frustrasie en baie trane, het haar liggaam net totaal tou opgegooi, en die bloed het net bly aanhou stroom sonder ophou. Sy het haar totaal onttrek uit die samelewing, want sy was skaam oor haar toestand. Die enkele vriendinne wat sy nog by haar toegelaat het, het haar grootoog aangekyk. “Jy móét by ‘n dokter uitkom!”
Bewend van angs en bloedrooi van skaamte het sy dit uiteindelik gewaag om ‘n dokter te gaan sien. Dit was die moeilikste ding wat sy óóit in haar lewe moes doen. Die dokter het haar ‘n kruik vol medisyne gegee en sy is vol hoop terug huistoe. Dit het egter absoluut niks gehelp nie! Haar vriendinne het haar later met baie soebat en mooipraat weer oorreed om ‘n ander dokter te gaan raadpleeg. Die resultate was ewe teleurstellend! Vir die volgende jaar of twee het sy dokter na dokter besoek. Finansieel is sy uiteindelik totaal uitgeroei. Maar niks, absoluut niks het haar toestand verbeter nie!
Twaalf jaar lank sit sy nou al met hierdie verskriklike kruis, erger as melaatsheid. Sy is nou al permanent as onrein geklassifiseer. Selfs haar vriendinne kom nie eers meer by haar nie. As sy tog maar net weer ‘n normale lewe kan lei......
Sy neem ‘n reuse waagstuk, waag eintlik haar lewe om so tussen die mense deur te druk. Sy trek die tjalie laer oor haar gesig sodat iemand haar nie per ongeluk herken nie. As sy uitgevang word, stenig hulle haar! Sy het gehoor van daardie wonderlike Profeet, Jesus, en Hy is haar laaste en enigste hoop op genesing. Haar moed het haar so byna begewe toe sy die verskriklike skare van mense rondom Hom sien. Maar sy het besluit om deur te druk!
Sy druk en beur om deur die massas te kom as sy Hom daar voor gewaar waar hy besig is om mense te genees. Maar dan sak haar hart in haar skoene. Skielik maak die skare daar aan die anderkant van Jesus oop. ‘n Man kom haastig reguit na Jesus, iemand baie belangrik. Dan herken sy hom: Jaïrus! Hy is ‘n lid is van die Joodse Raad! Sy sien hoedat hy wild vir Jesus beduie, en dan, tot haar groot ontsteltenis sien sy hoedat Jesus omdraai om saam met Jaïrus weg te stap. Haar hart sak in haar sandale!
Sy móét nóú by Jesus uitkom, anders is alles verlore! Sy beur met al haar mag tussen die mense deur. Haar hart klop wild in haar borskas, as sy skielik vir Jesus hier rég voor haar sien. “As ek tog maar net aan Sy klere kan raak!” dink sy bewend van angs, terwyl sy sien hoedat hy haastig weg beweeg. Mense stamp en druk van alle kante aan haar, terwyl sy ‘n bewende hand uitsteek.
Die oomblik as sy aan Jesus se klere raak, voel dit asof daar ‘n elektriese stroom deur haar liggaam vloei. Oombliklik is die pyn en ongemak van soveel jare weg, en sy wéét: “Ek is genees!”
Oombliklik draai Jesus om en kyk haar reguit in die oë: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels vind dit ‘n komiese situasie, want almal stamp en druk dan aan hulle Meester, en nou vra hy wie aan sy klere geraak het? Dis mos belaglik!
Bewend staan sy daar, spierwit geskrik omdat sy uitgevang is. Haar knieë word lam. Dan val sy voor Jesus neer, en in ‘n stroom van woorde vertel sy haar droewige geskiedenis, van die dokters, die verwerping, die verskriklike stigma wat aan haar gekleef het. “Dogter,” kom Jesus se wonderlike trooswoorde, “jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Dan verseker Jesus haar dat haar kwaal vir goed genees is. Sy is weer na al die jare ‘n normale mens.
God gee uitkoms, krag, wysheid, genesing, maar Hy vra van my om die geloofstap te neem en die deur vir Hom oop te maak om die wonderwerk deur ons te laat geskied. “As julle maar die geloof van ‘n mosterdsaadjie gehad het!” het Jesus eenmaal Sy dissipels verwyt. Natuurlik is Hy by magte om enigiets te doen sonder ons geloof, maar God wil hê dat ons daardie volle vertroue in Hom sal hê, en die volle wete dat absoluut niks vir Hom onmoontlik is nie.
Gebed:
Here, ek is dikwels so ongelowig wanneer ek U iets vra. Leer my asseblief van ware geloof.