Handelinge 15:22-41
Nadat Petrus en sy mede-apostels en die ouderlinge die kwessie oor watter voorskrifte daar vir die heidene gegee word, dééglik deurtrap het, roep hulle weer die gemeente bymekaar. Nadat hulle verslag gedoen het, besluit hulle om twee manne uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië moes gaan om die besluit aan die gemeente oor te dra. Judas en Silas word afgevaardig om saam te gaan.
Daar word 'n brief opgestel om alles te verduidelik en ook om verskoning te vra vir die manne wat daar sonder hulle medewete opgedaag het en dinge aan die gemeente gesê het wat hulle verwar het. Hulle skryf aan die gemeente hoeveel waardering hulle het vir die twee sendelinge, Paulus en Barnabas. Hulle het selfs hulle lewens gewaag vir die Evangelie!
“Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie, buiten enkele noodsaaklike dinge,” skryf hulle, en dan verduidelik hulle van die afgodsoffervleis en onsedelikheid wat hulle moet vermy.
En so vertrek die afvaardiging na Antiogië. Die hele gemeente is bymekaar wanneer die brief aan die ouderlinge in Antiogië oorhandig word. Hulle kan nie wág om te hoor wat die apostels sê nie. Die inhoud van die brief laat trane loop van dankbaarheid, en die vreugde in die gemeente is baie groot oor die bemoedigende woorde. En die wonderlike nuus dat hulle nie die swaar juk van die stoere ou Joodse wette hoef te dra nie, laat hulle rondspring van opgewondenheid. Nou is hulle waarlik vry!
Judas en Silas, sélf twee bekwame sprekers en profete, kry nou die kans om met die gelowiges te praat en hulle te bemoedig en te versterk. As jy 'n paar dae lank moet reis om by 'n plek uit te kom, vertrek jy mos nie weer net die volgende dag nie. Dus besluit die twee manne om 'n ruk lank in Antiogië te vertoef en te help om hierdie gemeente, wat alreeds blom, nog verder op te bou voordat hulle terugkeer na Jerusalem.
Intussen begin Paulus al meer en meer van hierdie Silas-kêrel hou. Hy is nou wáárlik 'n voorslag! Hy sal beslis nie omgee om vir Silas saam met hom te vat op 'n sendingreis nie! Hierdie man is vol van die Heilige Gees!
Die manne is na ‘n ruk uiteindelik terug na Jerusalem en dinge begin terugkeer na normaal in die gemeente. Paulus en Barnabas leer die gemeente met groot vreugde en ywer. Maar hulle is nie die enigstes nie, Lukas skryf dat daar “baie ander” was wat saam met hulle onderrig gegee het aan die gemeente en die Woord verkondig het. Wát 'n wonderlike situasie!
Maar Paulus begin rusteloos raak. Die sendingveld wuif al harder en harder vir hom. Op 'n dag kan hy dit nie meer hou nie: “Barnabas, my ou broer,” kom deel hy sy verlange met sy troue reisgenoot, “dink jy nie dalk ons moet weer 'n slag by die gemeentes uitkom wat ons besoek het nie?”
Barnabas is sommer dadelik opgewonde, hy herkou nou al lankal aan die gedagte, maar hy was te bang om dit met Paulus te deel. “Ja, ek stem saam, kom ons gaan kyk hoe dit gaan met die gelowiges, oral waar ons die Woord van God verkondig het.”
En sommer dadelik begin hulle planne beraam. Hulle lig die gemeente in van hulle verlange, en almal is opgewonde.
“Terloops, Johannes Markus gaan natúúrlik weer saam,” merk Barnabas op teenoor Paulus, terwyl hulle besig is met hulle voorbereidings.
Geskok kyk Paulus na Barnabas: “Nee, ek weier!” sê hy botweg. Na 'n lang, ongemaklike stilte draai hy na Barnabas: “Daardie jong mannetjie het ons baie lelik in die steek gelaat. Ek wil dit nie weer beleef nie. Nee, hy gaan beslis nie saam nie!”
Barnabas probeer verduidelik dat Johannes intussen baie meer volwasse geraak het, en dat hy dit nie weer sal doen nie, maar Paulus bly by sy standpunt. Hy wil nie rede verstaan nie! Naderhand ontaard die twee ou maats se gesprek in 'n hewige argument, gevolglik is die twee uiteindelik kwaad uitmekaar!
Nie Barnabas óf Paulus wil kopgee nie, en dan besluit hulle dat die enigste oplossing is dat elkeen maar sy eie paadjie loop. Barnabas sal met Johannes Markus na Siprus gaan en daar gaan opvolgwerk doen en Paulus in Sirië en Silisië.
Skielik onthou Paulus van Silas en sommer daar en dan besluit hy om 'n boodskap na Silas in Jerusalem te stuur en hom te vra om saam met hom te kom na Sirië en Silisië. Silas is dadelik baie opgewonde oor die uitnodiging, en kort voor lank sluit hy hom by Paulus aan in Antiogië, waar alles alreeds gereed staan vir die tweede sendingreis deur die heidenlande. Teen hierdie tyd is Barnabas en Johannes al lankal weg.
Dit was 'n slegte ding wat met Paulus gebeur het, en dikwels vra ons sélf ook die vraag, waarom onaangename dinge met ons gebeur. Vir hulle sending het dit beteken dat hulle op twee plekke gelyk kon sendingwerk doen, en die poging is sodoende verdubbel. Boonop is Silas met sy besondere gawes ingetrek.
Ons word soms gedwing deur 'n onaangename ondervinding om meer effektief vir die Here te werk. Wees dus dankbaar, selfs vir die onaangename dinge, want God het 'n baie groter plan as wat ons óóit kan bedink!
Gebed:
Here, leer my om te aanvaar wanneer dinge nie altyd verloop soos wat ek dit graag wil hê nie. En gee my asseblief uitbundige blydskap, selfs deur moeilike tye!