1 Petrus 1:17-21
In 2016 word ek afgevaardig na die Algemene Sinode vergadering in Port Elizabeth. Ek het my oor ‘n mik geskrik toe ek die nuus kry, want ek was nie sulke hoë vergaderings gewoond nie, en ek was mos maar net ‘n doodgewone ouderling, nie ‘n geleerde dominee nie!
Daardie eerste oggend van die Sinode by die manjifieke Veremarksaal, klop my hart in my keel. Wat moet ek hier verwag? Wat maak ek, eenvoudige Lewiesie nou tussen al die ringkoppe? Dit moet sékerlik verskriklik formeel wees?
By die deur kry ek ‘n notatjie wat sê dat ek by tafel 7 moet sit. Die saal is gevul met ‘n klomp ronde tafels waar ek reeds mense in groepies sien sit en gesels. Ek soek tafel 7, en dan rek my oë groot. Daar sit reeds ‘n beroemde oud-generaal, iemand vir wie ek die grootste respek en bewondering het. Langs hom sit die briljante, dikwels baie omstrede teoloog, dr. Andre Bartlett. Die ander manne aan die tafel het almal ook reeds hulle merk gemaak in die lewe. Ek voel klein tussen al die groot en slim manne. Tóg kom ek baie gou agter dat hulle almal maar net doodgewone mense is, en boonop luister hulle opreg met aandag wanneer ek later my beskeie mening lug oor die moeilike onderwerpe op die tafel.
Ek besef baie gou dat die generaal ook maar net ‘n mens is. As ek dan soveel ontsag vir ‘n mens het, hoeveel te meer moet ek nie ontsag hê vir die heilige God, skepper van die groot heelal nie? Hy is die Ewige Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors! Hoe nietig, klein en miserabel is ek nie in Sy heilige teenwoordigheid nie! Petrus vra dat ons in eerbied voor Hom moet lewe. Hoe bewys ek my eerbied aan Hom, die Heerser van alle heersers? Ek het groot eerbied vir daardie generaal, maar ek is beslis nie bang vir hom nie, want hy het bewys dat hy net die beste bedoelings het. Dit is nét so ook nie nodig om in angs voor God te leef nie, want Hy het bewys dat Hy net die allerbeste bedoelings vir my as mens het, en dat Hy tot op my vlak neerdaal en hier by my is.
Daar is egter iets wat ons baie goed in gedagte moet hou. Ek ken gelowiges wat hééltemal té ver gaan en God soos ‘n “Speelmaatjie” behandel. Daar is ook Christelike boeke waarin God totaal disrespekvol behandel en aangespreek word. Uit my jong dae onthou ek dat die titel van een so ‘n boek alleen my skoon afgesit het, gevolglik het ek uit prinsiep nooit die boek gelees nie: “Hey God!” Hoe kan jy die Heilige God só aanspreek?
Is dit nie dalk so dat ons God ook dikwels disrespekvol in ons gebede behandel nie? Ons is dikwels soos ‘n kind wat op Kersvader se knie sit en sê: “Ek wil ‘n baaisiekel hê en ‘n pop en rolskaatse en……….” Ons gebede is soms slegs ritse wenslysies! Respek vir God beteken dat my gebed ook moet wys wat my ware gevoel teenoor God is, en dat ek nie net praat of eise stel nie maar ook na Hom luister.
Petrus sê dat ons ook soos vreemdelinge in die wêreld moet leef. Dit is een manier om jou respek en eerbied vir God uit te leef. Wat beteken dit dan as jy ‘n vreemdeling is? Jy staan afsydig teenoor die dinge van die wêreld. Dit beteken nie dat jy jou moet onttrek van die wêreld soos die monnike doen nie. Inderdaad kan jy dalk op daardie manier ontsnap van die verskriklike sonde waarin ons wêreld gedompel is, maar dit is nie wat God van jou wil hê nie. Ek en jy moet juis midde-in hierdie sondige wêreld leef, maar soos vreemdelinge ons distansiëer van die sonde. As jy in Thailand kom, gaan jy tog nie maak soos die inwoners van daardie land, en in die afgodstempel aanbid saam met hulle nie! Net so bly ‘n mens weg van die sondes van hierdie wêreld waarin ons vreemdelinge is.
Waarom is ons vreemdelinge? Ons is “losgekoop met die kosbare bloed van Christus – Hy wat soos 'n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.” (1 Pet. 1:19). ‘n Slaaf is destyds losgekoop met goud of silwer - dan was hy ‘n vry mens, en nie meer gebonde aan sy eienaar nie. Op dieselfde manier is ek en jy losgekoop, waar ons voorheen slawe van die duiwel was asook van ons eie sondige natuur. Die groot verskil is egter dat ons losprys baie, baie groter was as die goud waarmee slawe destyds losgekoop was. Jesus het met Sy kosbare bloed vir ons vrylating betaal, die duurste prys moontlik! Ons is dus nou nie meer deel van die huishouding van die duiwel nie, maar vreemdelinge. Sal ons dan nou weer deel gaan hê aan die ou lewe in die duiwel se huishouding? Nee beslis nie, want uit respek en ontsag vir die Almagtige God, ons Verlosser, sal ons so ver wegbly van daardie dinge as wat menslik moontlik is.
Dankie tog dat God nie dáár bo, verhewe is bo almal nie, maar dat Hy in Jesus en die Heilige Gees hier rég by my en jou is om ons hande vas te hou en krag te gee om die versoekinge van die wêreld te kan weerstaan. Dit is juis daarom so belangrik om in ‘n gedurige gesprek met Hom te bly en om Hom te ken in alle dinge.
Gebed:
Al ons lofprysinge en dank en aanbidding gaan vandag aan U alleen, Almagtige God. U is groot en goed en wonderbaar. Ons loof en prys U heilige Naam!