2 Tessalonisense 1:1,2
Vrede is ‘n wonderlike ding, net jammer dis deesdae so skrikwekkend skaars! Selfs in die natuur is ware vrede ‘n immer-ontwykende versugting. Dit is laatmiddag in Marloth Park en ek en my Mosbolletjie sit langs die Krokodilrivier en kyk hoe die son groet vir die aand. Die prentjie voor ons is die toonbeeld van rustigheid, waar die koel watertjie van die magtige rivier kuier-kuier afsuiker na Mosambiek. ‘n Reier hoop lui-lui dat daar ‘n happie voor sy snawel sal verbyswem voor die nag kom. Op ‘n lappie groenigheid staan ‘n troppie rooibokkies en niksdoen. ‘n Entjie laer af in die rivier is ‘n visarend besig met aandete, ‘n blink, supervars tiervis. Die aandskemer sak oor ons toe, en ons voel tevrede, want alles is volmaak. Of is dit?
Ek wip soos ek skrik as ‘n snaakse on-aardse roggel-brul uit die riete opstyg. Ek probeer sien wat dit is, maar helaas: die rietbos is te dig. Weer brul en grom en skreeu die ding, en ons wonder wat dit kan wees. Olifant is dit beslis nie, en ook nie leeu nie. Die brulle raak al hoe meer aggressief, totdat dit klink asof iemand in ‘n hewige geveg betrokke is. Tussen die ysingwekkende gille en brulle deur herken ons die stem van 'n seekoei. Ons kom tot die slotsom dat dit twee omgesukkelde bulle is wat baklei vir die reg op 'n poel en sy inhoud van koeie.
Die vrede is verpletter!
Dit is pikdonker wanneer ons by die huis aankom, en steeds weergalm die brulle deur die bosse. Eers nadat ons vuurtjie gesellig knetter, begin die aggressie bedaar, en ons tweetjies sit rustig en vredevol op die stoep, doodmoeg van ons dag se bedrywighede. Weldra styg die heerlike aroma op van ‘n vleisie wat sis op die kole, en ek en Mosbolletjie raak besonder vreetsaam.
Maar weereens word ons vrede versteur. Mosbolletjie sien uit die hoek van haar oog ‘n beweging reg langs haar stoel. As sy yskoud geskrik omkyk, is sy net betyds om ‘n lang stert by die voordeur in te sien verdwyn. “Kyk gou!” sis sy vir my. En ek kyk: Uit die donker huis loer twee swart ogies en ‘n klein blink neusie vir my. Dan verdwyn hy die huis in. “Muskeljaatkat!” hyg Mosbolletjie uitasem van die skrik en opwinding. Eers heelwat later kry ons hom uit die huis uitgelok met ‘n stukkie vleis. Hy verdwyn soos hy gekom het, stil en slu. Mosbolletjie hou voet by stuk dat hy maar net skaam was en baie beslis nie slu nie! Dáároor sal ons maar later moet gesels.....
Die volgende oggend is dit weer die varke! Die een ou vlakvark was baie duidelik nog saam met oorl’e Oupa Noag in die ark, en hierdie ou Metusalag dink dat die hele bos aan hom alleen behoort. Die ander varke, tarentale en muishondjies moet net bontstaan om sy enkele gaffeltand wat twee wêreldoorloë oorleef het, vry te spring. Nors, afskuwelik-lelik en skoorsoekerig, en van vrede is daar nie ‘n sweempie nie!
Te midde van hierdie geweld lees ek Paulus se verkwikkende seënbede aan die begin van die tweede brief wat hy vir die gemeente in Tessalonika skryf: “Mag die onverdiende goedheid en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus met julle wees.” Is dit nie die mooiste woorde wat jy enigeen kan toewens nie? Maar waarom kan hy vir die Tessalonisense sulke vrede toewens? In die vorige versie is die antwoord: Hulle behoort aan God ons Vader en die Here Jesus Christus. Dit is die sleutel tot alle vrede! Daar is slegs één ding in die ganse lewe wat ware vrede kan bring, en dit is kindskap van God. Daarsonder is vrede totaal onmoontlik! Ja, die duiwel kan wel die valse illusie skep van vrede, maar dit is net ‘n kors. Onder daardie illusie broei duiwelse on-vrede.
Wat maak Goddelike vrede so uniek? Wêreldse vrede word gehandhaaf deur geweld. Daar moet ‘n streng polisiemag en weermag wees wat vrede afdwing, anders gaan alles handuit ruk. Daar moet streng wette wees wat nagekom moet word, en strafmaatreëls as iemand daarvan afwyk. Daarsonder is daar chaos! Wat behels Goddelike vrede? Een woordjie: Liefde! In die eerste plek is daar God se onpeilbare liefde vir Sy kinders, liefde wat propvol genade is en wat onvoorwaardelik vergewe. God dwing nie Sy wil af op Sy kinders deur wette en strafmaatreëls nie. Sy liefde is egter so groot, dat ons nie anders kan as om ook daardie liefde uit te leef nie, asook om Sy voorskrifte te gehoorsaam nie.
Die vraag is: wat behels daardie liefde? In 1 Kor. 13 verduidelik Paulus: Dit is geduldig, vriendelik, verdraagsaam, onbaatsugtig, vergewensgesind en nog baie ander mooi dinge. As almal daardie eienskappe sou uitleef, sou die wêreld ‘n wonderlike, vredevolle plek gewees het. Die asemrowende is egter ook waar, dat wanneer ek en jy as gelowiges hierdie liefde uitleef, dan bewerkstellig ons nie alleen vrede tussen ons en diegene met wie ons te doen kry nie, maar dan ontdek ons terselfdertyd ook die wonderlike, allesomhelsende vrede wat God ons gee. Soek vrede - God se vrede - met alles wat jy in jou het, en God sal dit tienvoudig vir jou gee, ver, ver bo al jou verwagtinge in.
Gebed:
Here, ek soek U vrede - lei my asseblief om U liefde uit te leef met my hele hart en verstand en kragte, sodat ek U volle vrede kan smaak.