Nehemia 8:1-13
Die stad was herbou en die inwoners van Judea hervestig. Nou was dit tyd om ernstig aandag te gee aan die geestelike welstand van die volk. Hierdie was die taak van Esra, nóg ‘n reuse leier in Nehemia se tyd. Esra was reeds verantwoordelik vir die herstel van die tempeldiens, en die tyd het aangebreek om die volk weer te begin leer van God en wat Hy van hulle verwag.
Met groot opgewondenheid het die hele volk opgetrek na Jerusalem. Dit was die sewende maand – iewers tussen September of Oktober, en die vreugdevure het hóóg gebrand! Esra het besluit om die mense op die plein voor die Waterpoort bymekaar te laat kom. Die byeenkoms kon nie by die tempel gehou word nie want slegs die mans was daar toegelaat, en hy wou hê dat elkeen wat kon verstaan, mans, vrouens én kinders moes hoor van die Here!
Daar was spesiaal ‘n verhoog van hout gebou vir die geleentheid. Met groot afwagting en opgewondenheid het die hele volk baie vroeg die oggend van die eerste dag saamgedrom voor die verhoog. Oplaas het Esra die verhoog betree en saam met hom dertien manne. In sy hande het hy ‘n reuse boekrol vasgehou. Al die aandag was op Esra gevestig. Hy was nie alleen ‘n priester nie, maar ook ‘n Skrifgeleerde, iemand met ‘n grondige kennis van die Bybel van daardie tyd.
Met groot waardigheid het hy die boekrol met die wetboek van Moses voor hom oopgerol terwyl die mense gesnak het na hulle asems. Soos een man het die hele volk opgestaan uit eerbied vir die Woord van God. Toe begin Esra met ‘n lofgebed om die Here te loof en prys terwyl die hele gemeente op tipiese wyse van destyds hulle hande omhoog hou en sy lofprysing met “Amen, amen” beaam. Daarna het almal in aanbidding voor die Here neergekniel met hulle gesigte na die grond toe!
Ek dink die volk was só aangegryp deur dít wat Nehemia en Esra die afgelope tyd deur God vermag het deur ‘n gebroke volk weer op te hef, dat daar ‘n nuwe eerbied en ontsag vir God in hierdie gemeente begin vorm het. Dit sien ons in die manier wat hulle optree.
Na hierdie aangrypende opening het Esra uit die Wetboek van Moses begin voorlees. Die Wetboek is natuurlik die Pentateug oftewel die eerste vyf boeke van die Ou Testament. Dit sou onmoontlik wees vir Nehemia om al vyf boeke deur te lees in só ‘n kort tydsbestek van slegs ‘n halwe dag, dus kan ons aanneem dat hy slegs uit ‘n klein gedeelte daarvan gelees het. Toe hy begin lees, het daar ‘n doodse stilte oor die gemeente toegesak en hulle het aandagtig met gespitste ore na hom geluister.
Intussen het dertien Leviete tussen die mense versprei. Elkeen het waarskynlik ‘n groepie mense om hom bymekaargemaak en terwyl Esra gelees het, het hulle vir die mense verduidelik wat dit alles beteken. Op hierdie manier was die wet nie maar slegs ‘n klomp voorskrifte nie, maar hulle kon leer wat die ware betekenis daarvan was en hoe dit prakties uitgeleef moes word. En dit is natuurlik presies wat Jesus die mense later geleer het!
Ons kan dit moontlik verduidelik met die gebod dat jy nie mag doodslaan nie. Hierdie is slegs ‘n riglyn en dit het ‘n baie wyer betekenis as dat jy nie fisies iemand mag “doodslaan” nie. Dit beteken ook dat jy niemand skade moet aandoen nie, hetsy liggaamlik of geestelik. Skinder is óók ‘n manier van “doodslaan!” Die gebod moet egter positief uitgeleef word deur liefde aan mense te betoon.
Die voorlees van die wetboek het ‘n ieder en elk baie diep getref, sodat almal verslae gestaan het in diepe besef van hoe ver hulle van God se voorskrifte afgedwaal het. Die emosies het hóóg geloop en hulle het in diepe rou gehuil oor hulle sonde. Esra het dit egter vir die gemeente op die hart gedruk, dat dit inderdaad ‘n heilige dag was vir God maar dat dit beslis nie ‘n dag was om te huil nie, maar eerder ‘n dag van groot vreugde vir almal! Nou was die tyd om fees te vier! Hulle moes teruggaan na hulle blyplekke toe en lekkernye uitdeel aan hulle gesinne. Maar hulle moes dit nie vir hulleself hou nie, hulle moes ook deel met ander mense wat nie iets gehad het om mee fees te vier nie.
In ons gemeente het ons die gewoonte om na elke Nagmaalsgeleentheid ‘n “broodbreek ete” te hou, waar elkeen ‘n broodjie en smeergoed bring, en dan deel ons met mekaar. En die wat niks gebring het nie, word uitgenooi om heerlik saam met die ander te eet. Keer op keer is hierdie ‘n gróót fees, en almal staan vir wie weet hoe lank en gesels, en niemand wil huistoe gaan nie, want dis só lekker om só saam te kan kuier!
Die wet van God is nie iets om oor te treur nie. Ja, inderdaad gee dit jou ‘n besef van jou tekortkominge. Maar éintlik is dit vir jou ‘n bron van ware vreugde. Jesus het immers vir ál ons sondes betaal en ons is vrygespreek! Dit is genoeg om enige gelowige in borrelende vreugde te laat uitbreek!
Gebed:
Here, ek wil borrelend uitbars in ‘n vreugdevolle lied: “Dit borrel in my, want ek is so bly: Jesus het my lief!” Ek besef vanoggend hoe groot my skuld is, maar dat U alles reeds afgeskryf het. Dankie Here!